sr1302_hjg
Lewe + Liefdes

Vrouemaand-inspirasie: Bettie Kemp

“Dit voel asof ek terug is in ’n bekende huis. Jippie! Toe ek daardie oggend om 03:45 opstaan, het ek gedink dis die eerste dag van ’n nuwe begin, ek moet myself roer. En vir ’n oomblik het ek gewonder wát my besiel het om dit te doen.

Ek probeer nou in ’n nuwe ritme en roetine kom met die vroeg opstanery. Ek is wel ’n oggendmens en gaan slaap vroeg, maar jy raak nooit eintlik daaraan gewoond om so vroeg op te staan nie.

Ek was verlig dat die eerste program sonder ’n ramp afgeloop het. Ek moes twee oudisies doen vir Dagbreek, so ek moes hard werk om dié werk los te slaan. Maar my agent het my genader en gevra of ek belangstel, en ek hét. Nuus, aktualiteit en die vermaaklikheidswêreld is my veld, my passie. Ek sien uit na die onmiddellikheid van televisie. Dis oor en uit en oombliklik.

In die verlede het ek onder meer vyf jaar lank die TV-program Goeiemôre Suid-Afrika (GMSA) aangebied. Jare lange kontinuïteit-, nuus- en tydskrifprogramme was ’n slypskool duisend op wat nou wag. Goeie inhoud en gemaklike, professionele aanbieding is die sleutel tot sukses vir dié programme. Die belangrikste is dat ek as aanbieder ingelig en geïnteresseerd is in die wêreld daarbuite sodat ek onderhoudende gesprekke kan voer. Die onderhoude moet uit die hart kom, anders moet jy dit liefs los.

Ek is steeds effens verstom oor al die opgewondenheid oor my hertoetrede tot die televisiebedryf. Maar ek is baie dankbaar vir die kans. Op 61 gebruik ek die goeie eienskappe van my ouderdom om vir my te werk. Ek gaan my bes doen om kykers daagliks op ’n vars manier in te lig.”

Lees nóg inspirerende verhale hier: