Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Carina Bruwer

Carina Bruwer, fluitspeler van die instrumentale popgroep Sterling EQ van Tamboerskloof, Kaapstad,
het op 23 April vanjaar in ysige seewater om Kaappunt geswem en 8 km in 2 uur 36 minute voltooi. Met dié “Swem vir hoop”-projek vir die Little Fighters of Cancer Trust (’n organisasie wat jong kankerlyers en hul gesinne ondersteun) het sy sowat R20 000 ingesamel.

“Swem maak my rustig, sterk en gelukkig. Tog háát ek koue water, maar dan moet ek myself neem na ’n plek waar ek groter is as die elemente en nie analiseer nie, net dóén. Die laaste halfuur van die swem het ek elke nou en dan my bewussyn verloor. ’n Uur daarna het ek steeds gebewe.

Dit was ’n beeldskone roete. Jy moenie te veel dink aan die bloublasies en die haaie in die water om jou nie. My tydjie wat ek opgeoffer het in die see, was kort in vergelyking met die kankerlyertjies wat daagliks moet veg om oorlewing.

FOTO: Om Kaappunt in net ‘n gewone swembroek as beskerming teen die ysige water

Toe ek 5 was, is ’n maatjie se sussie dood aan kanker.
Dalk is dit hoekom dié organisasie my hartsnare roer. Ons dogtertjies, Milena, 5, en Italia, 2 [sy is getroud met Riccardo Pugliese, ’n kreatiewe direkteur], het my ook laat besef hoe geseënd ons is. Ek wou ander gesinne help waar ek kon.

Ek swem daagliks sowat 4 km om fiks te bly. Die grootste voorbereiding vir só ’n lang afstand in die see is om jou kop reg te kry. Die oomblik toe ek die besluit geneem het, moes ek eenvoudig daarby hou. Daar wás ’n oomblik toe ek hard deur twee ‘mini-tsoenami’s’ geslaan is en gewonder het of ek gaan oorleef. Maar as jy in die water is, is jy verplig om jou by jou situasie aan te pas.

In die verlede het ek al onder meer die Engelse kanaal
[36 km] en die straat van Gibraltar [16 km] oorgesteek. Hierdie was my eerste lang oopwater-swempoging in ses jaar. Ek was van kleins af ’n waterbaba en sal dit beslis weer doen!”

HIERONDER is ‘n video van Carina se poging: