Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Catherine Deane

Die Suid-Afrikaans gebore ontwerper Catherine Deane het die afgelope vyf jaar in Hongkong gewoon. Verlede maand het sy haar ontwerpateljee na Londen verskuif. Sedert Mei 2012 is sy ’n ambassadeur vir die nie- winsgewende organisasie (NWO) the Unlimited Child, wat stimulasie aan agtergeblewe kinders van nul tot
ses jaar verskaf. Dit is in 2008 deur haar swaer Zack Buchan en sy pa, Ian, in KwaZulu-natal gestig. Sedert Julie verlede jaar het sy al meer as R100 000 ingesamel. Haar rokke kos tussen R3 500 en R15 000 stuk en vir elkeen wat sy verkoop, skenk sy R45 aan dié organisasie.

“Suid-Afrika lê my na aan die hart en dis wonderlik om by so ’n positiewe, inspirerende saak betrokke te wees. Dit het nuwe betekenis aan my werk gegee.

Ek het destyds mode-ontwerp aan die Natalse Technikon [nou die Durban Universiteit van Tegnologie] in Durban gestudeer en my onderneming twaalf jaar gelede begin. Om te ontwerp is my manier van ontvlugting in ’n droom van skoonheid en vroulikheid. Mode word dikwels as oppervlakkig beskou en dit is dalk, maar die mensdom het dit ook soms nodig.Glanspersoonlikhede wat my rokke dra, is onder andere Beyoncé, Pippa Middleton en Kim Kardashian.

In Suid-Afrika het ek bewus geword van Derdewêreldse probleme. Ek hoop ek kan ’n verandering in kinders se lewe bring deur my ‘mode met ’n doel’. The Unlimited Child verskaf opvoedkundige speelgoed aan kleuterskole, wat help met die ontwikkeling van kinders se vaardighede. Dit gee kinders selfvertroue en help hulle droom oor ’n beter toekoms. Ons het almal daardie geleentheid in die lewe nodig.

My betrokkenheid by dié saak het my gewys dat daar altyd iets is waarvoor jy dankbaar kan wees. Nadat ek my eerste skenking gestuur het, het hulle vir my ’n foto gepos van die hele span wat in die kantoor dans. Hóé gelukkig het dit my nie gemaak nie. Toe ek self van die dagsorgsentrums besoek het, het dit gehelp om my eie lewe in perspektief te plaas. Om ander te kan help het my net laat besef hoe ongelooflik geseënd ek is. Om te gee is net so goed vir die gewer se hart as vir die ontvanger.”

Lees nóg inspirerende verhale hier: