Devi Sankaree-Govender
Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Devi Sankaree-Govender

En nou, ná tien jaar op die kassie, staan sy bekend as Suid-Afrika se rottweiler omdat sy nie ’n storie sal los voordat die waarheid uit is nie. Maar dis moeilik om te verstaan waar dié Carte Blanche-joernalis, skrywer vir die Sunday Times, media-opleier, televisie-aanbieder en ma van twee, Kaiyuree (11) en Sayuran (9), tyd kry om korrupsie oop te vlek. Dit is tog hárde werk. “Ek werk baie hard en maak nie altyd genoeg tyd vir myself nie, maar ek sien ook nie myself as iemand wat reuseprojekteaanpak nie. Vir my is dit net my werk. Ek doen wat gedoen moet word en ek glo nooit iets is onmoontlik nie – die waarheid sal altyd uitkom. En my positiewe uitkyk het my nog nooit teleurgestel nie. Ek glo dinge sal gebeur, en dan doen ek dit.”

Maar sy wag nie net dat dinge oor haar pad kom nie. Devi het ’n graad in Engels en drama, honneurs in drama,’n grad in sakebestuur asook ’n MBA agter haar naam. “Hoe meer ek met korrupte sakelui te doen gekry het, hoe belangriker het dit vir my geword om seker te wees van my feite, daarom het ek verder studeer.” Ná haar drama-studies was dit nie lank voordat sy haar eie program op Lotus FM gehad het nie, en dáár het sy naam gemaak as iemand wat nie bang is om haar mond oop te maak wanneer dit nodig is nie. “Een van my loopbaan-hoogtepunte was toe ek as onbekende joernalis ’n onderhoud met oudpres. Nelson Mandela kon kry. Ek was by ’n geleentheid waar hy Indiese sakelui oor ons nuwe demokrasie toegespreek het. Toe hy sê hy dink Indiërs sukkel om ’n oorgang na die demokrasie te maak, het ek my hand opgesteek en gesê ek stem nie saam nie. Ek het nie besef ons mag nie die president onderbreek nie! Toe ek hom later nader oor ’n onderhoud, het hy my onthou en ingestem.”

Die soeke na die waarheid het haar ook al van kleins af aangegryp. As kind het sy Nancy Drew- en Hardy Boysboeke gelees en Magnum PI op televisie gekyk. “Ek het toe gedink ek wil ’n speurder word. Ek onthou hoe een van my vriende op laerskool vals beskuldig is van diefstal. Ek het help soek na die skuldige party, en ons het hom gevang. “My werk pas my persoonlikheid. Ek wil hê dinge moet regverdig wees en ek wil probleme oplos. Ek weet ook hoe dit voel om nie ’n sê te hê nie, so ek wil altyd die klein outjie probeer help.” Sy’s ook nou al gewoond aan die byna daagliksedreigemente. “Een sakeman en sy werknemers het my en die Carte Blanche-kameraspan in sy winkel toegesluit en geïntimideer toe ons hom oor sy korrupte bedrywighede gekonfronteer het. Om bang te wees is ’n mors van tyd en emosie. As só iets gebeur, bly ek kalm en doen wat nodig is.” Dit verg wel tyd, emosie en energie om te kla en dinge reg te stel, maar nie genoeg mense doen dit nie, sê sy.

“Suid-Afrikaners moet besef dat elke bietjie help. Elke stem tel en om op te staan is die enigste manier om dinge in ons land te begin regmaak – al begin jy hóé klein.”

Lees nóg inspirerende verhale hier: