Ettie Bierman
Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Ettie Bierman

Sy het nie haar eie kinders nie, maar haar honderdste liefdesverhaal, Fluisterliefde (NB-Uitgewers, R94,95), wat pas verskyn het, is opgedra aan al haar “hondekinders” wat haar lewe verryk het.

Haar volgende roman, Omdat die hart onthou, verskyn ook binnekort. Ek het baie gewroeg met Fluisterliefde, maar toe die boek uiteindelik ná baie swoeg en trane verskyn het, wou ek dit teen my vasdruk, soen, voel en ruik. Die geur van papier en drukkersink het soeter geruik as Chanel No. 5, J’adore van Dior, ’n Thierry Mugler geur of enige ander parfuum wat ’n sportmotor se prys kos! Om daardie heerlike vreugde telkens te ervaar sal ek aanhou skryf solank as wat romantiese siele aanhou lees. En die titel? Omdat die liefde soms met trompetgeskal na jou kom en soms net as ’n sagte fluistering op die wind.

Ek het drama studeer aan die Pretoriase Onderwyskollege, maar ná twee jaar het die wanderlust my beetgepak en ek was vyf jaar lank lugwaardin op die destydse SAL se internasionale roetes. Dáár het ek my eerste man,’n passasier, Jannie Wiehman, ontmoet. Hy is twee jaar later aan ’n hartaanval oorlede. Die vliegery het my genoeg stof vir 23 lugwaardin-boeke in die gewilde Jakaranda-reeks gegee. My helde en heldinne het oor die jare bygebly met die tye. Deesdae is hulle moderne, selfstandige denkers, professioneel en blootgestel aan elektronika. Veertig jaar gelede, toe ek Waardin in die wolke geskryf het, was die heldinne meer onderdanig aan die manne. Ek het vroeër ook monoloë en toneelstukke vir skoolgebruik geskryf. Die see en die warm tropiese Suidkus het my meer onlangs opnuut geïnspireer om die warmer ‘hygies’ aan te pak. Ek en Roelf giggel soms lekker oor die held en heldin se katel-kaperjolle . . .”

Lees nóg inspirerende verhale hier: