Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Jolanda van der Lingen

“Dis ’n oorweldigende gevoel! Die wete dat dit ’n honger mens kan help, maak my baie dankbaar. Die hóóp wat ek in die ontvangers en die organisasies se oë sien as hulle die kos kry, is onbeskryflik! MasterChef skenk wonderlike vars en voedsame bestanddele, soos groente, vleis en suiwelprodukte. Dis dikwels die enigste keer dat die mense sulke vars produkte kry. Dit is die tweede jaar dat ons dit namens Woolworths en Robertsons versprei en vanjaar bereik kos van sowat R1 miljoen byna 10 000 mense.

Ons het nie die geriewe om die produkte te berg nie, daarom deel ons dit dadelik uit. My man, Charles, help baie en is een van Valcare se grootste ondersteuners. Ons gebruik sy bakkie om dit op te laai en te versprei. Dit is lekker om veral die kinders aan nuwe kosse bekend te stel, want die sensasie om byvoorbeeld ’n ander soort perske te proe of pasta in ’n ander vorm te sien, gee hulle groot vreugde. Dit het my eie houding teenoor kos verander.

Ek probeer ook my kinders, Adriaan (6) en Charl (4), leer om versigtig met kos te werk en dit nie te mors nie. In my beroep as maatskaplike werker sien ek baie mense se nood. Jy kan nie anders as om dankbaar deur die lewe te gaan nie. Ek put absolute tevredenheid uit my werk. Om te kan sien ek maak ’n verskil . . . ek dank die Here vir die pad wat ek stap.

Elke dag is groter en mooier en ek kry die geleentheid om wonderwerke te sien wat op die mees lukrake tye en maniere gebeur. MasterChef is vir my een van hierdie wonderlike wonderwerke!”

Lees nóg inspirerende verhale hier: