Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: M’Lani Basson

NUWE MOONTLIKHEDE

“Nadat ek in 2002 ’n graad in kuns en sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het, wou ek kunsterapie in Engeland studeer, maar dit was peperduur.Toe hoor ek toevallig van perdeterapie en besluit dís my oplossing. In 2003 het ek dit toe ’n jaar lank in Skotland bestudeer en vyf en ’n half jaar gelede begin met perdeterapie by die nie-winsgewende organisasie Amado. Ek glo in perde se helende eienskappe, want hulle is ongelooflik ingestel op mense se emosies, vergewe maklik en praat boonop nie terug nie. “Weekliks werk ek met sowat 60 ‘weggooi’- en gemolesteerde kinders [tussen 5 en 19 jaar] van die Ligstraal Skool in Paarl-Oos.Wanneer hulle op die plaas aankom, is baie van hulle moedeloos, hul selfbeeld is swak en hulle het geen toekomsvisie nie. Ek het die ongelooflike verantwoordelikheid om hulle nuwe moontlikhede te gee. Maar dis ook ’n geskenk om ’n paar uur per week met my drie Appaloosas, ’n ou Boerperd en ’n Friesmerrie sonskyn in hul lewe te bring.Dis ’n groot voorreg om elke oggend op te staan en ’n verskil te kan maak.”

GOEIE RESULTATE

“Om elke dag in die buitelug te werk, met die reuk van perde en die geluid van kinderstemme, is onskatbaar. Dis wonderlik om te sien hoe die kinders blom as hulle die perde borsel, lei, opsaal en uiteindelik op hulle ry. Selfs die kinders in rolstoele ry hier perd. Ek kan elke dag sien hoe wonderlik is die terapie se resultate. In 2008 was

hier sewe rolstoel-kinders, en vandag kan vyf van hulle loop! “Jy moet die kinders vir seker nie soos afvlerk-voëls hanteer nie, want dan gaan hulle nooit vlieg nie. ’n Gemolesteerde dogtertjie leer hier byvoorbeeld die krag van ‘nee’. ’n Perd van 400kg luister na haar as sy met haar pinkie die teuels trek en hom stop, terwyl ’n groot man haar eens gemolesteer het. Kan jy dink wat dit vir haar selfvertroue doen? ’n 16-jarige serebraalgestremde se pa moes haar eens in die bad tel. Sy is nou 20 en

danksy perdry het haar bene met 11cm gegroei, sy stap self en bestuur ’n plaasbiblioteek. Daar is baie sulke suksesverhale. “Hier mag die kinders speel. Hulle

ken dit nie, want by hul huise is daar skeltaal en onmin. By Amado leer hulle komplimente uitdeel – vir mekaar en vir die perde. Dit bemagtig en verryk hulle.”

STEREOTIPERING

“Dit kos sowat R5 000 per jaar om ’n kind op ’n perd te hou en R120 vir perdekos wat net ’n week hou. Maar ons is al langer as vyf jaar aan die gang. Sommige maande leef ons van die hand na die mond. Ons is afhanklik van die publiek se steun en klein donasies. Ek het gelukkig nooit grootgeword met die idee om ryk te wees nie. “Dit maak my dikwels ook mismoedig om te dink dat die burokratiese regstelsel baie gemolesteerde kinders faal, maar jy moet maar net aanbeweeg en probeer om ’n verskil te maak. Dit help nie ek kyk na hulle met hartseer oë nie …”

Wat ek geleer het

WAT EK GELEER HET

Luister regtig goed na mense.

Speel meer.

Respekteer kinders.

Aanvaar ander onvoorwaardelik.

Maak lysies. Soos jy dit aftik, voel jy dinge kom klaar.

Vir inligting: 083 604 4037,

www.amado.co.za

 

Lees nóg inspirerende verhale hier: