Rouxvé Meyer
Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Rouxvé Meyer

“As ek ‘n rugbywedstryd kyk en Bryan Habana onderskep die bal en druk ‘n drie, voel ek hoe die opwinding in my opwel. En dis presies hoe ek gevoel het toe SA SELECT se intekenare net ál meer geword het!

Ek het grootgeword in ‘n rugby-kyk-familie, dus het ek die spel begin verstaan en passievol daaroor geraak. Wanneer ek en my pa ons eie spankeuses bespreek het, het ek altyd gefrustreerd gevoel omdat ek duidelik anders as Heyneke Meyer dink. Ek het besef dat baie ondersteuners so voel en gedink hulle het eintlik ’n plek nodig waar hulle hul stem kan laat hoor. Toe begin ek die webblad vir ondersteuners. Dit voel net so goed om rugby te kyk, en net omdat ek ‘n meisie is, beteken dit nie ek weet min van die spel nie.

Ek is nie taai genoeg om self rugby te speel nie, maar dis regtig vir my ‘n passie en ‘n liefde wat ek graag eendag met my werk sal wil kombineer. Dalk word ek ‘n bestuurder, want ek hou van besigheid. Dis seker nie prakties om te droom van afrigting nie . . . My gunsteling-speler is Habana. Toe ek nog min van die tegniese aspekte geweet het, het ek van hom gehou omdat hy die meeste drieë gedruk het. Vandag kyk ek na meer as wie die meeste drieë druk. Maar hy het regtig ‘n groot bydrae tot my liefde vir die sport gemaak. Ek is mal daaroor om hom op die veld te sien, veral op Nuweland. Dis baie lekkerder om wedstryde daar te kyk as op televisie. Nie net sien jy die groter prentjie van wat op die veld gebeur nie, maar die ondersteuners word een groot familie.”

Lees nóg inspirerende verhale hier: