sr1303_hjg_1_
Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Tania van der Merwe

“Toe ek my naam hoor, was dit ongelooflik! Ek het nog nooit so iets beleef nie. Dis lekker om ’n slag erkenning te kry vir dit wat jy doen, want ’n juffrou se werk word soms as vanselfsprekend aanvaar.

Ek moes ’n voorlegging doen vir dié toekenning. Ek het voor die tyd foto’s geneem van my klas, my beplanning en die gemeenskapsprojekte waarby ons betrokke is. Ons skool is in ’n vennootskap met die nie-regeringsorganisasie Badisa en help hulle om tweedehandse klere te verkoop. Ons het ook 2l-bottels vir Kansa ingesamel. Dan het ek ook ’n nasorgsentrum op die dorp waar ek kinders help met hul tuiswerk en toetse.

Ek put soveel genot uit my betrokkenheid by die kinders, veral om hulle te sien ontwikkel. As hulle hier by my in die klas aankom, is hulle so klein. Dan leer en groei hulle – sosiaal, emosioneel, fisiek én intellektueel. Dis vir my die lekkerste om te sien hoe ’n skaam, teruggetrokke eenkantkind skielik begin blom as ek eers deurbreek.

Omdat elke kind uit ander omstandighede kom, gee ek soggens vir elkeen ’n drukkie. Ek wil hê die klas moet vir hulle ’n veilige omgewing wees. Wanneer die skaam kinders dan later uit hul eie na my toe kom en vir my ’n drukkie gee, sién ek hoe hulle ontwikkel het. Dís ’n ervaring wat jy nie kan beskryf nie. My werk voel eintlik vir my soos ’n stok- perdjie. Die toekenning het my aangemoedig om nog meer te doen vir my skool en vir die kinders. My doelwit is om elke dag ’n klein verskil in elke kind se lewe te maak, met die hoop dat dit later ’n groot verskil in sy of haar lewe sal wees.”

Lees nóg inspirerende verhale hier: