Eie stories

Vrouemaand-inspirasie: Tiffiny Onderstall

Dis ’n groot eer om deel te wees van dié projek. Ek het begin Desember 2012 gehoor Maretha Maartens skryf die Eie Talent-wedstryd uit vir kinders van 13 jaar en ouer om illustreerders vir dié spesifieke jeugboek te soek. Kinders van die Nellie Brisley-kunsskool, waar ek kunsklasse kry, en die Eezet Fourie-kunsskool het deelgeneem. Ons moes sestien illustrasies doen. Die tema was aanneming en ek moes dierekarakters teken. ’n Klein kameelperdjie se ma was swanger, sy was bang sy sou nie vir hom kon sorg nie. Sy gee toe haar kindjie vir ’n ander mamma wat beter vir hom kon sorg. Ek het baie min riglyne gekry. Toe kies ek om dié storie met akrielverf, baie kleur en blommetjies te laat lewe.

Gedurende ons Desember vakansie in die Sederberge naby Clanwilliam in die Wes-Kaap het ek soms tot 24 uur lank aan een illustrasie gewerk. As die familie kaart gespeel het, moes ek vasbyt. Dit was ’n reuse-uitdaging en ek het bly fout soek met my werk. Maar ek het baie geleer. Gewoonlik doen ek abstrakte of realistiese illustrasies. Dit was báie moeilik om dieregesigte vriendelik te teken.

Toe ek klein was, was ek mal oor kryte en teken. Veral leeus, want die maanhaar was vir my so mooi. Ek wou sommer huil as ek moes ophou. Ek het R5 000 losgeslaan met my inskrywing. Nou sien ek baie uit na die volgende boeke se illustrasies. Kuns is mý manier om te ontsnap van nare dinge soos groepsdruk of tuiswerk. Ná skool wil ek omgewingswetenskaplike word en navorsing in alternatiewe energiebronne doen. Kuns moet altyd net my stokperdjie en ontspanning bly – nie ’n werk nie!”

Lees nóg inspirerende verhale hier: