Lewe + Liefdes

Wanneer jou lewe in ‘n oogwink verander

Veral as so ‘n insident met iemand na aan jou gebeur of as jy direk daarby betrokke is. Dis nou ook nie asof jy regtig beplan vir sulke gebeure nie. Die werklikheid daarvan is: dis onverwags, ingrypend en in baie gevalle traumaties. Jou lewe verander in ‘n oogwink en onherroeplik; jy kan nooit weer terugkeer na hoe jou lewe voorheen was nie. Jy moet die gebeure verwerk op manier wat jy steeds kan aangaan met jou lewe. Dis natuurlik makliker gesê as gedaan, want hoe tel jy die stukke van die vloer af op? Hierdie week het ek verhale gekies waarin sulke lewensveranderende oomblikke plaasvind.

Onthou om ons elektroniese boekwinkel op kalahari.com te besoek om van die boeke teen afslagpryse aanlyn te bestel.

15 Seconds, Andrew Gross (HarperCollins, R200)
Dr. Henry Steadman het alles – ‘n goeie besigheid, ‘n pragtige dogter vir wie hy baie lief is. Terwyl hy in Florida is vir ‘n kongres, word sy lewe skielik deur omstandighede buite sy beheer beïnvloed. Hy word deur ‘n polisieman van die pad afgetrek. Dan word die polisieman doodgeskiet en Henry word daarvan verdink dat hy dit gedoen het. Hy klop om hulp aan by ‘n vriend, maar dié is ook vermoor en Henry slaan op vlug. ‘n Groot fout, want nou is die polisie seker hy is die skuldige en hulle doen alles in hul vermoë om hom op te spoor.

Hy skakel die polisie om sy onskuld te probeer bewys en kom in aanraking met Carrie Holmes. Sy is die enigste persoon wat in sy onskuld glo. Intussen is die regte moordenaar op vrye voete. Dan ontvang Henry ‘n oproep van die moordenaar vanaf sy dogter se selfoon! Hy het haar ontvoer en waarsku Henry om nie na die polisie te gaan om sy onskuld te probeer bewys nie. Alles wat vir hom lief en dierbaar is, is weg en Henry het niks meer om te verloor nie . . .

‘n Pa se liefde vir sy dogter word tot die uiterste beproef. Hierdie is ‘n regte knop-op-die-maag spanningsverhaal wat jou heelnag sal wakker hou. – Nicolene Carstens

Alles wat blink 

Alles wat blink, Melissa Scharneck (Queillerie, R180)
Janine sterf ná ’n siekte. Haar testament bepaal haar vier jong, beste vriendinne moet saamreis om haar as te gaan strooi. Janine se boedel betaal vir alles en hulle ry in haar ou pienk Volksie.

Sonja, die sjef, is bang sy raak mal soos haar ma en ouma. Madie, die finansiële bestuurder, se hartchirurg-man is ontrou. Gerda, die petite, fraai sweiser is oorwerk en moet drie groot kinders se nukke hanteer. Karien is heldersiende en vertel mense se fortuin. Almal was lief vir Janine, maar nie vir mekaar nie. Hulle het die een vreemde, lagwekkende avontuur na die ander. Soos Janine bedoel het, leer hulle mekaar ken, en mekaar se probleme en persoonlikhede verstaan.

Avontuur op ’n drafstap. Vol kwinkslae, in heerlike moderne idioom geskryf. Lekker ontvlugting uit die alledaagse werklikheid. – Malene Breytenbach

 Die twee lwens van Dieter Ondracek

Die twee lewens van Dieter Ondracek, André Krüger (Human & Rousseau, R185)
Dis ‘n bekende filosofie dat die mens se bestaan ‘n konstante struweling tussen lig en donker is, en dat laasgenoemde van ons die gevaarlikste lewende organisme op aarde kan maak. Soos reeds in die titel gesuggereer word, is Krüger se debuutroman juis ‘n verkenning van hierdie realiteit en beleef die leser dit intens saam met die hoofkarakter op sy reis.

Gedurende die Tweede Wêreldoorlog voer die spoorweg-ingenieur Dieter Ondracek sy bevele uit soos daar van hom verwag word, maar kort voor lank besef hy hy het in iets verander wat hom walg: ‘n Nazi-marionet en massamoordenaar van derduisende onskuldige Jode.

Hy hervestig hom as Nazi-vlugteling in Johannesburg tydens Suid-Afrika se apartheidsjare en probeer hier ‘n nuwe identiteit en lewe skep. Hy vind selfs weer liefde, maar die spoke van sy verlede wil nie verdwyn nie. Kan hy sy verlede begrawe of wag verantwoording vir sy wandade noodgedwonge aan die einde van die dag?

Dis ‘n skokkende universele verhaal met ‘n sterk spanningslyn en geloofwaardige karakters. Dieter Ondracek is nie ‘n lafaard of ‘n monster nie, ook nie die tipiese held nie . . . Hy is net mens en juis daarom kweek dit empatie. Jy hoop tot die laaste bladsy op die moontlikheid van sy verlossing. Verder sorg die subtiele ooreenkomste tussen die twee betrokke lande vir nabetragting oor die verantwoordelikhede wat saam met die individu se ideologiese en politieke identiteit kom – hetsy die uitlewing daarvan aktief of passief is. Amalia Uys

 Dis my geheim

Dis my geheim, Juanita Aggenbach (Protea Boekhuis, R140)
Dis my geheim is Juanita Aggenbach se debuut. Dis ʼn outobiografiese vertelling en handel oor ʼn 20-jarige aangenome meisie wat besluit om haar biologiese ma op te spoor. Die leser word ingelei in die verweefde wêrelde van Eloïse (die hoofkarakter), Ané en Petra, asook dié van haar biologiese ouers en uitgebreide familie. Die verhaal begin wanneer Eloïse (‘n aangenome kind) deur haar biologiese grootouers verwerp word. Lesers wat van emosiebelaaide outobiografieë hou, sal Juanita se vertelling oor haar eie lewe geniet. Linette van der Merwe

 Gods and Beasts

Gods and Beasts, Denise Mina (Orion, R190)
In ‘n poskantoor in Glasgow word ‘n oupa tydens ‘n rooftog voor sy 4-jarige kleinseun doodgeskiet. Volgens ooggetuies blyk dit die oupa het sy aanvaller geken en hom vrywillig gehelp tydens die rooftog.

Speurder Alex Morrow lei die moordondersoek. Kort voor lank is daar meer vrae as antwoorde. Wat was die motief vir die moord en waarom die roof? Wie is Martin Pavel wat die kleinseun beskerm het, is hy net ‘n hulpvaardige vreemdeling of steek die geheimsinnige vreemdeling iets weg? Wat is die verband tussen die oupa en die politikus Kenny Gallagher?

Alex se ondersoek word verder bemoeilik deur ‘n gewetenlose groep wat polisielede probeer omkoop. Twee  beamptes swig voor die versoeking. Die boek neem ons op ‘n tog deur die onderwêreld van korrupsie en bedrog met ‘n paar verrassings langs die pad. – Karien Labuschagne

 Held up

Held Up, Christopher Radman (Headline, R185)
Toe Paul van Niekerk in sy nuwe wit 318i BMW by ‘n rooi verkeerslig stilhou, peins hy oor hoe ‘n gelukkige man hy is. Hy geniet sy nuwe werk by ‘n advertensiemaatskappy; hy het ‘n pragtige vrou, Claire; hul babadogter, Chantal, is ‘n genot en hier sit hy in sy splinternuwe droomkar. Dan word sy wêreld aan skerwe geruk wanneer aan sy ruit geklop word met ‘n pistool.

Paul word net nog ‘n statistiek wanneer hy gekaap word. Hy kom ongedeerd daarvan af, maar Chantal, slegs nege maande oud, is agter in die motor in haar babastoeltjie! Die polisie vermoed dat die kapers nie net karre roof nie, maar ook betrokke is by die handel in kinders. Alhoewel die polisie alles in hul vermoë doen, lyk die saak hopeloos. Die storie volg Paul se soeke na sy dogter, die leidrade wat hy volg, planne wat hy maak. Dis ‘n aksiebelaaide verhaal vol kinkels en kabels. – Karien Labuschagne

 I've got your number

I’ve Got Your Number, Sophie Kinsella (Bantam Press, R195)
Poppy Wyatt en haar selfoon is onafskeidbaar. Sy trou oor ‘n week met Magnum Tavish, ‘n briljante professor. Haar selfoon word gesteel by ‘n hotel waar sy ‘n konferensie bywoon. Haar lewe kom byna tot stilstand. Sy was juis besig om al die vroue wat saam met haar by die konferensie is te teks om te vra of hulle haar antieke verloofring gesien het. Dit het verdwyn toe die brandalarm afgegaan het terwyl almal dit aangepas het.

Al wat sy in haar soektog gevind het, was ‘n selfoon in een van die vullisdromme. Sy besluit dis haar uitkoms. Dis Sam Roxton se persoonlike assistent se maatkappyfoon. Die assistent het die pad gevat nadat sy ‘n modelkontrak gekry het. Sam se maatskappy het ook ‘n konferensie in dieselfde hotel gehad, net op ‘n ander vloer. 

‘n Telefoniese verhouding ontstaan tussen Poppy en Sam. Sy weier om die foon terug te gee, want almal wat haar ring moet help vind, het nou hierdie foon se nommer. Sam het die foon nodig, want al sy besigheidsboodskappe en e-posse word na dié foon gestuur. Hulle kom ooreen Poppy sal al sy boodskappe aanstuur totdat sy nie meer die foon nodig het nie.

Hulle ontmoet en met heelwat intrige raak hul lewens verstrengel. Intussen vind Poppy uit haar verloofde was ontrou en hy was ook al amper verloof aan ‘n hele aantal ander jong vroue.  Magnum het ‘n enorme probleem met ”commitment”. Die uiteinde is dat Poppy uit die kerk stap in haar trourok, sy kan eenvoudig nie met Magnum trou nie, en Sam wag vir haar aan die oorkant van die straat. – Jenny du Toit

 Kill Alex Cross

Kill Alex Cross, James Patterson (Century, R215)
Zoe en Ethan Coyle, die president van Amerika se kinders, word ontvoer. Onmiddellik is Washington in rep en roer. Is dit die werk van die Midde-Ooste? Washington se water word besmet. Alex Cross word op versoek van die president se vrou aan die hoof van die ondersoek geplaas. Alex se gevoel is dat die ontvoering ‘n persoonlike motief het en nie die werk van ‘n faksie uit die Midde-Ooste is nie. Hy ondersoek alles haarfyn en maak ‘n deurbraak wanneer hy uitvind dat Zoe ‘n selfoon gehad het.

Die selfoon is die sleutel tot die oplossing. Alles dui daarop die skuldige is Rodney Glas, die skoolverpleër. Daar is ongelukkig nie genoeg bewyse om hom in hegtenis te neem nie.

Rodney se seun het gesterf weens nalatigheid van dokters en ‘n tekort aan mediese fondse. Hy blameer die regering en die sisteem wat in plek is. Volgens hom moet die presidentspaar voel hoe hy gevoel het toe hy alles moes deurmaak. 

Cross besluit die enigste manier hoe hulle hom gaan vastrek, is as hulle hom onwettig ontvoer, vol waarheidserum pomp en hom dan so dwing om hulle na die kinders te neem. – Jenny du Toit

 Little Star

Little Star, John Ajvide Lindqvist (Quercus, R134)
Terwyl Lennart Cedeström besig is om sampioene te pluk in die woud, kom hy af op ‘n vlak graf. ’n Gedeelte van ‘n plasieksak steek uit. Dan beweeg die sak en hy ontdek ‘n babadogtertjie. Hy red die kind, maar besluit om haar te hou en nie die polisie te kontak nie. Lennart, met die hulp van sy vrou, Laila, steek haar in die kelder weg.

Vroeg reeds besef hulle dat sy anders is. Aanvanklik praat sy nie, maar kan musieknote perfek namaak. Lennart het geen idee wat sy besluit tot gevolg sal hê nie. Het sy besluit gelei tot die tragiese gebeure wat sou volg?

Dis ‘n opwindende spanningsverhaal. Die storie vloei aanvanklik stadig, maar dit mag dalk wees omdat dit vertaal is. – Karien Labuschagne

 The Ice on Mars

The Ice on Mars, Sean Badal (Wigan Pier Press, R130)
In ’n skietery tussen ’n groep geregsdienaars en ’n bende rowers word die dogter van Samuel Steyn, ’n Johannesburgse chirurg, deur ’n opslagskoot getref. Oorweldig deur haar dood en op soek na ’n antwoord, stort sy lewe stuksgewys ineen; wie was verantwoordelik vir die fatale skoot – booswig of polisieman? In ’n poging om die burokrasie, rompslomp en korrupsie te vermy neem Steyn die wet in eie hande en word hy by die einste wanpraktyke betrek wat hy met soveel afkeer bejeën.

In dié neerdrukkende dwaalroman neem Badal verskeie aktuele kwessies, ook die heersende opvattings en denkbeelde van Suid-Afrikaners, onder die loep. Hy skilder egter ’n donker prentjie; byna alle aspekte van ons samelewing is op die afdraandpad, met geen hoop of antwoord in sig nie.

Hoewel goed geskryf en boeiend, is hierdie verdoemende aanklag op die stadige ontbinding van die maatskaplike orde in ons land allesbehalwe ’n aangename leeservaring. – Emsie Viljoen