Werk + geld

40 wen-wenke vir werksoekers

Jy bestudeer ál wat ’n advertensie is op soek na werk. Jy stuur jou CV aan na elkeen wat belang stel, maar jy vergeet dalk een ding: Werk soek is in jou kop.

Soos René Best, beroepskonsultant, sê: ‘Kry jou kop reg en werk aan jou ingesteldheid’

1. Neem verantwoordelikheid vir jou eie werksoekproses. Die tyd is verby dat jy op ander (bv. agente) kan staatmaak om namens jou werk te soek.

2. Pak werk soek soos ’n projek aan, anders gaan dit ’n halfhartige poging wees, soos om saam met jou oggendkoffie so met die een oog deur die koerant te kyk.

3. ’n Positiewe ingesteldheid is ’n móét. As jy byvoorbeeld ’n “slagoffer-van-regstellende-aksie”-houding gaan inneem, gaan jy nêrens kom nie.

4. Wees pro-aktief en doen navraag by maatskappye aan wie jy jou CV gestuur het.

5. Laat ’n professionele persoon jou CV opstel en jy moet altyd weet presies wat daarin staan. Dis verbasend hoe baie dit gebeur dat die onderhoudvoerder ’n vraag oor die CV vra en dan kan die aansoeker nie met selfvertroue antwoord nie.

6. Wees altyd deeglik bewus van jou vaardighede, vermoëns, talente, prestasies en toepaslike ondervinding. Sorg dat jy jou vaardighede en vermoëns te alle tye met selfvertroue kan verwoord. Mens weet nooit wie jy ontmoet met wie jy kan netwerk nie.

7. Herskep jouself heeltyd sodat jy in alle opsigte markgerig kan bly. Die dae toe ’n maatskappy vir 10, 20 jaar na jou omsien, is verby. Soek jou sekuriteit in jouself en nie in ander nie.

8. Hou jou oë oop vir poste bywerwingsagentskappe, in koerantadvertensies, bedryfstydskrifte, op die internet. En netwerk – dis ’n baie kragtige stukkie gereedskap wat mense nie na waarde skat nie.

9. Glo en vertrou altyd daar is ’n pos wat wag om gevul te word – nuwe organisasies word geskep, hulle verander, brei uit en mense raak rusteloos en soek ander werk. Moet nooit moed verloor nie.

10. Hou jou moontlikhede oop – as jy nie dadelik die perfekte werk kry nie, doen aansoek vir kontrakwerk of projekte wat interessant lyk. Hierdie soort werk lei dikwels tot opwindende geleenthede binne die organisasie of ander mense wat jy teëkom.

11. Onthou, jy het “oordraagbare” vaardighede wat van groot waarde in ’n ander bedryf kan wees. Dink buite jou boksie – werk ook aan jou benadering wanneer jy werk soek. Moenie net na “postitels” kyk nie, maar ook na “vereiste vaardighede”, m.a.w. die noodsaaklike vereistes in die werkbeskrywing of advertensie waaraan jy dalk voldoen.

12. Terwyl jy na jou droomwerk soek, onthou, dit help jou ook om jou beroepsdoelwitte weer te bekyk – jy raak meer bewus van jou vaardighede, kennis, waardes, belangstellings en voorkeure. So kan jy meer weldeurdagte besluite neem. Leer ken jouself dus opnuut terwyl jy werk soek.

Bron: René Best

‘Doen die ondervinding op waarvoor soveel advertensies vra’ – Tracey Czakan, besturende direkteur van Kelly-personeelagentskap

13. Kry deeltydse of naweekwerk terwyl jy nog op skool of kollege is of in die eerste paar maande nadat jy jou graad verwerf het.

14. Sê ja vir daardie werk wat jou dalk nie rasend opgewonde maak nie, selfs as jy swak betaal word. Dis ’n manier om ’n voet in die deur te kry. En doen die werk uitstekend.

15. Oorweeg skaduwerk, selfs sonder betaling. Jy leer, kry ’n kans om jouself te bewys en as ’n vakature beskikbaar raak, weet jou werkgewers waartoe jy in staat is en jy het beslis ’n voorsprong bo ander gesigloses wat hul CV ingestuur het. (Reg Lascaris, een van die groot suksesstories in Suid-Afrikaanse bemarking, het in die advertensiewese begin deur gratis te werk vir ’n klein advertensie-agentskap. In minder as 20 jaar het hy ’n wêreldwye agentskaphandelsmerk opgebou.)

16. Oorweeg dit om ’n fleksiepersoneellid of tydelike werker te wees. Jy word só blootgestel aan verskillende soorte werk en dis dalk net die eerste stap in die rigting van beter moontlikhede.

17. Kyk uit vir leerlingskapgeleenthede (learnerships). Dis ’n uitstekende manier om die arbeidsmark te betree en werkvaardighede aan te leer.

18. Wees die beste kandidaat. Hoe meer vaardighede jy het, hoe aantrekliker is jy as ’n kandidaat vir ’n pos. Rekenaargeletterdheid is ’n groot moet – hoe meer sagteware-pakkette jy kan bemeester, hoe beter. Die verrigting van verskeie take is die norm. Die vermoë om te help met iets soos data-vaslegging of ander kantoortake is ’n besliste pluspunt wat jou bo ander kandidate sal laat uitstaan.

Bron: Tracey Czakan

‘Laat jou CV vir jou werk’ – Estelle Estelle Zawatzky, CV-en-profielopsteller

19. ’n CV is bedoel om ’n duidelike, akkurate maar bondige prentjie van jouself te skets. Onthou, die persoon wat die CV lees, is besig – en joune is een van baie. Sy eerste indruk van die CV gee vir hom sy eerste indruk van jou. Gee jouself ’n voorsprong – maak dit die maklikste en aantreklikste een om te lees.

20. Hou die CV kort maar deeglik, sodat hy vinnig kan kry waarvoor hy soek. Fokus op wat jy het om te bied.

21. Wees eerlik, en sorg dat daar nie foute insluip soos datums wat oorvleuel nie. As jy ’n fout gemaak het en die leser kom dit agter, gaan hy dalk jou geloofwaardigheid nog voor ’n onderhoud in twyfel trek.

22. Benewens al jou kwalifikasies en relevante besonderhede, kyk of jy iets spesiaals kan kry om te noem, soos as jy byvoorbeeld die “top-tydelike werker” was, of die hoogste punte vir tik op kollege gekry het.

23. Moenie die CV se verpakking oordoen nie – hou dit net netjies en ordentlik. (Vermy oorversierde, oordramatiese lettertipes, wat moeilik is om te lees.)

 24. Jou dekbrief is baie belangrik. Vermy die aanhef: “Aan wie dit mag aangaan.” Stel vas wat die naam is van die persoon aan wie jy dit moet rig, sy voorletters, korrekte titelen die korrekte naam van die maatskappy. En moenie verkeerd spel nie!

 25. Jy kan in die dekbrief sê dat jy sekere vaardighede het wat jy glo met groot vrug in die maatskappy aangewend kan word. Dalk het jy indieptekennis van die betrokkeprodukte en dienste. Lei die leser só na die relevante inligting in jou CV.

26. As jy vir ’n onderhoud genader word, maak seker jy weet presies waar jy moet wees, met genoeg tyd om daar te kom. Moenie te veel onderhoude op een dag inpas nie (jy weet nie hoe lank dit gaan duur nie).

27. Doen vooraf navorsing oor die maatskappy sodat jy voorbereid is en kan wys jy stel werklik belang, dat jy entoesiasties is en kennis van die organisasie het.

28. Lyk professioneel.

29. Wees voorbereid op vrae, sonder dat dit uitgedink klink. Vrae soos: “Vertel my van jouself” laat menige onvoorbereide kandidaat met ’n skaapagtige uitdrukking op die gesig.

30. Sorg dat jy ingeligte vrae gereed het.

Bron: Estelle Zawatzky


Ondersoek oproepsentrums – daar is groot loopbaanmoontlikhede’, sê Diana Capazorio, hoof van Kelly se Contact Centre Staffing

31. Die wêreld van kontak/oproepsentrums is ’n baie goeie een om in te wees. Daar is hope moontlikhede en nuwe werkgeleenthede word heeltyd geskep. En dis ’n goeie wegspringplek. Jy kan deeltyds of permanent werk. Dis ook baie veelsydig – hier is plek vir van gegradueerdes tot mense sonder enige tersiêre opleiding. Jy kan ook met ’n reeks kursusse binne ses maande gekwalifiseer wees.

32. Werk aan die volgende vaardighede as jy ’n voorsprong bo ander wil hê om ’n agent by ’n kontaksentrum te word: rekenaarvaardighede, kommunikasie, ’n sosiale persoonlikheid, die vermoë om met mense te werk, ’n aanvoeling vir verkope, veeltaligheid, goeie besluitnemingsvaardighede, die vermoë om onder druk te werk, kennis van sagtewarepakkette.

33. Hou tred met die jongste tendense in IT en kommunikasie. Volg ekstra kursusse, lees relevante boeke en bly gefokus. Dis werklik in jou hande – en die geleenthede sal vir jou oopgaan.

Bron: Kelly Personeel

NOG RAAD VAN BEDRYFSKENNERS

34. “Entoesiasme en passie tel baie. Ek het al mense wat effens minder gekwalifiseer is aangestel bo beter gekwalifiseerdes omdat hulle ’n ‘hongerte’ vir die pos gehad het, hulle wou dit bitter graag hê. En ek was nog nooit verkeerd nie.”

35. “Moenie net ’n neutrale, standaard-CV uitstuur aan al wat leef en beef en hoop iets kom terug nie. Dit gaan nie gebeur nie. Pas jou CV aan by die maatskappy – ‘verpersoonlik’ dit as ’t ware net vir die betrokke maatskappy.”

36. “As jou ma/tannie/neef iemand ken wat dalk van ’n werk weet, ondersoek dit – moenie jou neus daarvoor optrek nie. Jy weet nooit waartoe dit lei nie. Gryp enige geleentheid aan. Netwerk, netwerk, netwerk – met familie, vriende, kontakte van skool, universiteit …”

37. “Selfvertroue is ’n pluspunt tydens ’n onderhoud, arrogansie nie. Moenie te oorvriendelik raak met ’n onderhoudvoerder as dit goed gaan nie.”

‘Werknemers huur mense wat soos hulle is. Doen jou bes om in te pas’*

38. Jou CV verteenwoordig jóú. In een minuut gaan jou potensiële werkgewer besluit of hy jou wil ontmoet (of in diens neem) – afhangend van hoe jy jouself op jou CV  bemark het. Dis dié belangrikste dokument. Lees na daaroor, vra kenners, doen soveel as wat jy kan om dit perfek te kry en jou te laat uitstaan.

39. Wees ernstig oor jou werksoek-projek, maar moet dit nie persoonlik opneem as jy nie die werk kry nie.

40. Laat iemand ’n kamma-onderhoud met jou voer (dis ’n Amerikaanse uitvinding, maar dit word ook in SA gedoen). Vra die voorligtingseenheid van jou plaaslike universiteit of vra ’n vriend wat by menslike hulpbronne betrokke is. Des te beter as julle dit op video kan opneem sodat jy dit later kan terugspeel en jouself kan beoordeel.

* Verwerk uit: The business of becoming employed, A guide for South African job seekers, Colleen McLintock-Rudnick, Spearhead, 2001.

 

WEET MEER

René Best, beroepskonsultant met spesialiskennis van onder meer selfbemarking, CV’s, Onderhoudstegnieke, beroepsnavorsing: 021 790 7144, 082 391 3751

Estelle Zawatski, CV-en-profielopsteller: 011 616 1109, 082 344 4909

Kelly Personeelagentskap (hoofkantoor): 011 722 8300; www.kelly.co.za

The business of becoming employed, A guide for South African job seekers, deur Colleen McLintock-Rudnick, Spearhead, 2001