FOTO: Unsplash (William Iven)

FOTO: Unsplash (William Iven)

Werk + geld

5 wenke om kop te hou as geldsake knyp

Jy bly net nie by nie. Kospryse skiet die hoogte in, petrolpryse en kragtariewe klim, rentekoerse begin styg, die rand se waarde tuimel . . . Kenners sê as jy in beheer wil voel van jou finansies, is die eerste stap om te weet wat met jou geldsake aangaan.

Stel ’n begroting op

’n Behoorlike begroting help jou om jou geldsake op koers te hou – of jy nou wil spaar, skuld vermy of afbetaal, of ’n strenger oog wil hou oor jou uitgawes, sê Graham Craggs, woordvoerder van Budget Insurance. Deesdae is daar ’n magdom begroting-apps (party is gratis) en webwerwe wat jou daarmee kan help as jy nie weet hoe nie. Die goue reël is om dit elke maand getrou te doen en jou begroting by te werk sodat jy weet hoeveel van jou salaris jy gebruik, versus wat jy beplan het om uit te gee. Stel vas wat dit is wat jou elke keer oor jou begroting laat gaan. En trek dan die leisels stywer.

FOTO: Unsplash (Olu Eletu)

FOTO: Unsplash (Olu Eletu)

As die skuld jou ry . . .

’n 2015-opname deur DebtSafe, ’n skuldbestuurmaatskappy, wys meer as die helfte van deelnemers kon nie al hul skuld terugbetaal nie en 40% het aangedui hulle het oorbestee op hul kredietkaart.

Die dilemma: As jy een keer ’n betaling oorslaan, eskaleer jou terugbetalings en jy moet dalk ’n lening aangaan om ander skuld af te betaal.
As jy geen ander keuse het as om nog geld te leen nie, kies die kortste terugbetalingstydperk wat jy kan bekostig. Dit sal jou geld bespaar.

• Betaal elke maand ’n bietjie ekstra af, want rente word vinniger afbetaal en dit verlaag die hoeveelheid geleen.

• As jy nie kan betaal nie, kontak jou kredietverskaffer en tref ’n reëling wat julle albei pas. As jy nie betaal nie, sit jy met ’n swak betalingsprofiel.

• Weet jy nie waar om te begin met jou skuld nie? Betaal die heel duurste skuld eerste af (die een met die hoogste rente) of die rekening wat die naaste is aan afbetaal. Gebruik dan die geld wat jy spaar om die volgende skuld te takel. (www.capitec.co.za)

• Sluit onnodige rekeninge en beperk jouself tot een of twee belangrikes.

FOTO: Unsplash / Anna Demianenko

FOTO: Unsplash / Anna Demianenko

Meer geld in jou sak

Mense staak soms in moeilike ekonomiese tye polisse soos lewens- of begrafnisversekering sodat hulle meer kontant beskikbaar het. Dit lyk dalk na die maklikste opsie, maar dink mooi, waarsku Lee Bromfield, hoof van FNB Life. “Jy verloor voordele wanneer jy ’n polis kanselleer, veral as jy al ’n klompie jare premies betaal het. Die meeste polisse het wagperiodes.

Indien jy kanselleer, en later heraansoek doen, moet jy dikwels weer op nul begin. Sekere lewensversekeringspolisse word ook oor tyd vir die polishouer goedkoper, en as jy heraansoek doen, word jou premies dalk hoër.”

Koskwessies

• Lus vir ’n lekker wegneem-etebederf? Ken jou wegneemplekke en benut spesiale aanbiedings en afslag-dae in jou area. Maar beskou dit as ’n bederf, nie ’n gewoonte nie.

• As jy altyd oor middagete by ’n deli of die restaurantjie op die hoek kos koop, pak eerder ’n kospakkie in vir werk. Jy sal verbaas wees hoeveel jy spaar. Moenie ná werk inderhaas by geriefswinkels koop nie – maak eerder ’n ordentlike inkopielys en koop een of twee keer per maand alles by die supermark.

FOTO: Getty Images / Gallo Images

FOTO: Getty Images / Gallo Images

Spaar vernuftig

• Onthou, selfs die kleinste aanpassing/besparing maak op lang termyn ’n groot verandering.

• Gebruik internet- en selfoonbankdienste om rekeninge te betaal.

• Vra afslag waar jy kan. En benut spesiale aanbiedings soos dié by skole waar jy dikwels in die begin van die jaar korting kry as jy die volle bedrag vir die jaar se skoolfonds of aktiwiteite vooruit betaal.

• Koop basiese goed by die groot maat.

• Maak leefstylveranderinge – as jy en jou maat op dieselfde roete ry, pendel saam. Beplan jou ritte beter. Koop ’n maandelikse buskaartjie.

• As julle besluit om in te kort, sorg dat die hele gesin verstaan en saamwerk.

Bron: Graham Craggs, woordvoerder van Budget Insurance, SARIE-lesers

FOTO: Instagram s_lamprell

FOTO: Instagram s_lamprell

Verdien ekstra geld

Daar is baie maniere om wettig geld te verdien as jy net jou vaardighede inspan,
maar die mees voor die hand liggende oplossing vir ’n kits-geldinspuiting is om van al jou ongebruikte goed ontslae te raak. Die dagblad Beeld berig ’n onlangse meningspeiling deur die aanlyn advertensiediens Gumtree het getoon hoe graag Suid-Afrikaners artikels opgaar – sommige kan selfs vir duisende rande verkoop word as die eienaars net bereid is om daarvan af te sien.

Lees nou

’n Spaarplan vir jou – spaar só R13 780 in ’n jaar

8 wenke om op jou kosmandjie te spaar

Koop slim en spaar só op mode-items

Spaar brandstof só