FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Werk + geld

Die glasplafon: 9 maniere om dit te breek

In die manswêreld van ‘n groot internasionale maatskappy het Lucinde de Lange dit reggekry om die hoogste sport te bereik. 

Die bemarkingshoof van Nashua SA is al 18 jaar by die maatskappy en deel 9 lesse wat sy op haar beroepspad geleer het. 

1. Leef volgens jou eie standaarde

Jy moet hard werk, bereid wees om lang ure in te sit en jouself kan motiveer – anders sal jy nie ver kom nie. Moet jouself nooit aan ander se standaarde meet nie. Wat vir hulle goed genoeg is, hoef nie vir jou goed genoeg te wees nie.

2. Ken jou swak en sterk punte

‘n Mentor kan jou help om agter te kom wat jou sterk en swak punte is sodat jy meer selfvertroue kan hê. As jy nie weet waar jou swak punte lê nie, sal jy nie weet hoe en wanneer om dit te aan te spreek nie. As jy nie weet wat jou sterk punte is nie, sal jy nie weet waarna om te streef nie.

3. Wees altyd positief

Ek hou nie daarvan as ander vir my voorskryf wat ek moet doen nie, en ek hou ook nie noodwendig daarvan om vir ander mense te sê wat hulle moet doen nie. Maar ek wil ander help om doelwitte te bereik. Ek sê dikwels ons moenie tob oor dít wat ons nie kan doen nie – kom ons praat oor wat ons KAN doen en hoe ons dit gaan regkry. Weet waarin jy goed is, bou voort daarop, en jy sal altyd beter presteer.

4. Praat minder, luister meer

Moenie skaam wees om raad te vra nie. Daar is ’n verskil tussen konstant vir hulp vra en nou en dan raad vra sodat jy iets kan leer. Ek wens ek het meer vrae gevra toe ek jonger was. Dan sou ek baie gouer kalmer en vol selfvertroue gewees het.

5. Leer uit jou foute

Ek het geleer dat ek nie altyd reg is nie! Niemand is altyd reg nie, erken as jy verkeerd was en beweeg aan. Jy moet foute maak sodat jy daaruit kan leer.

6. Vertrou jouself

Moet nooit aan jouself twyfel omdat jy ‘n vrou is nie. Doen altyd jou bes, dit is goed genoeg. As jy voel jy moet harder werk om jouself te bewys net omdat jy ’n vrou is, is jy verkeerd. As die mans jou laat voel jy is minderwaardig, verdien hulle jou nie.

Die werkomgewing gaan nie vir jou spesiale vergunnings maak oor jy ‘n vrou is nie. As jy in ‘n magsposisie is, gaan mense nie van jou hou nie weens die besluite wat jy neem – ongeag of jy ‘n man of ‘n vrou is.

7. Motiveer jouself

Veerkragtigheid is my geheime wapen. En jy kan net veerkragtig wees as jy in jouself glo – wat natuurlik makliker gesê is as gedaan. Praat met jouself, sê hoe goed jy is en raak ontslae van negatiewe gedagtes.

8. Wees aanpasbaar

Die enigste konstante is verandering. Dit help nie om jou teen verandering te verset nie, want dit bring nuwe geleenthede. Leer om dié moontlikhede raak te sien en benut dit.

9. Moet nooit ophou leer nie

Opvoeding is allerbelangrik. Daarsonder gaan jy nêrens kom nie. Moenie net op jou graad of diploma nie staatmaak nie. Jy hoef nie noodwendig ‘n nuwe graad- of diplomakursus te doen nie. Hou jouself op hoogte van ontwikkelings, doen kort kursusse, lees na oor die rigting waarin jy werk en ontwikkel jou emosionele intelligensie. As jy nie leer nie, sal jy nie groei nie.