Werk + geld

#9tot5: 2 susters leer ons hoe!

Ons hoef nie ver te soek na inspirasie nie. Dié jaar het ons baie inspireerders raakgeloop, onder andere die Theron-susters met hul onderneming wat modeprodukte van leer maak. Hulle het in 2015 besluit hulle wil dit doen, en níks sou hul keer nie – nie eens die feit dat hulle toe nog nie geweet het hoe ’n naaimasjien werk nie! Hoe doen hulle dit?

leer

FOTO Verskaf

Dié twee leef Eurythmics se liedjie “Sisters Are Doin’ It for Themselves” letterlik uit met hul Theron & Theron Designs. Berné en Simoné het ’n gaping gesien wat hulle wou vul: handgemaakte gehalte-leerprodukte wat on trend is. Nou maak hulle alles, van rugsakke tot palmsakke en skouersakke, asook dasse, kamerahouers, badkamersakkies, kruisbande, beursies, en vele meer!

Hulle deel hul kennis met ons.

Vertel ons bietjie meer van die idee. Het iets/iemand julle geïnspireer of was daar ’n markgaping wat julle raakgesien het?

Theron & Theron Designs was regtig ’n onverwagse droom wat baie vinnig waar geword het. Nie een van ons het dit vooruit beplan nie. Ons kon van die begin af identifiseer dat daar baie verskillende maatskappye is wat leerprodukte maak, elk met sy eie unieke vervaardigingstyl. Ons het toe besef daar’s ’n tekort aan modieuse leerhandsakke en ander produkte.

Het julle enige naskoolse onderrig wat gehelp het om Theron & Theron Designs op die been te bring?

Nie een van ons het daai tyd geweet waar ons gaan opeindig nie, maar ons storie is ’n bewys dat jou passie en belangstelling wel ’n groot rol speel.

Berné het ’n sakekursus, Business in Fashion Merchandise, by die modeskool LISOF in Pretoria gaan studeer, wat ons gehelp het om die bedryf vanuit ’n ontwerper se oogpunt te verstaan.

Simoné het internasionale handel en ekonomie by Noordwes-Universiteit in Potchefstroom gaan studeer, wat die besigheids- en bemarkingsaspekte minder Grieks laat klink het.

leer

Berné en Simoné Theron. FOTO Verskaf

Toe julle net begin het, watter afdeling het die meeste aandag geverg?

Om die idees van twee vroue saam te sit en die idee in ’n produk te omskep was nie so maklik soos die droom nie …

Die produksieproses was een van die moeilikste uitdagings. Ons moes onsself leer om met patrone, leer en industriële masjiene te werk. Die “trial and error”-proses het nederigheid en waardering vir ons produk gebring.

Hoe maak julle seker Theron & Theron Designs se produkte bly relevant en modieus?

“Trend forecasting” is een van ons belangrikste fokuspunte om ons produkte relevant te hou. Dis interessant om te sien hoe modes kom en gaan, en as ontwerper moet jy daarby aanpas.

Het julle van die begin af werkers in diens geneem en het julle dadelik masjinerie aangekoop? Of is dit iets wat stelselmatig gebeur?

Soos hulle sê: stap vir stap. Enigiets wat die moeite werd is, verg tyd.

Ons het stelselmatig geleer watter masjinerie wanneer nodig is. Al het ons baie min naaldwerkkennis gehad, het ons pa ’n kans gewaag en vir ons die eerste naaimasjien gekoop, ’n doodgewone Elna. Ons het vir die eerste jaar alles self gedoen.

Ná die eerste jaar kon ons nie meer die volume hanteer nie en Theron & Theron Designs het sy eerste werkers in diens geneem.

leer

FOTO Verskaf

Doen julle enigiets om jul tegniek, sosialemedia-profiel en sakevernuf te verbeter?

Ja, beslis. Jy is nooit te oud of te jonk om te leer nie. Vandag verander alles so vinnig dat dit onmoontlik is om te dink jy weet alles van jou bedryf en gebruikers.

• Ons gebruik graag Pinterest se trend forecasting-prente.

Arthur Porter se YouTube-video’s is goud werd wanneer jy inligting wil kry oor die verskillende industriële masjiene! Dit wys wanneer jy watter masjien moet gebruik en daar is ook ’n hele paar video’s om jou masjien te leer ken en te gebruik.

• YouTube het ons baie gehelp met wenke oor hoe om verskillende tipe ritse in te sit, verskillende handvatsels te bemeester, leer te kan verstaan en ook basiese naaldwerkkennis op te doen.

• Om ook op hoogte te bly van die nuutste sake- en bemarkingstegnieke, kyk ons gereeld na Bloomberg. Pinterest het ook sosialemedia- en statistiese inligting oor die nuutste bemarkings- en saketendense.

Hoe is dit om elke dag saam met jou sussie te werk?

Dis ’n uitdaging, en dis nie noodwendig ’n goeie idee om familie en besigheid te meng nie, maar in dié geval is dit juis spesiaal omdat ons ons droom met mekaar kan deel.

Wat is sover die grootste les wat Theron & Theron Designs julle geleer het?

Les een: Dit is GLAD nie so glamorous om jou eie onderneming te hê nie. Jy werk harder wanneer jy jou eie baas is.

Les twee: Foute maak jou sterker en slimmer.

leer

Simoné met hul “Envelope strap clutch”. FOTO Verskaf

Wat is die lekkerste deel van jul werk?

Om terug te kyk en te kan sien hoe die onderneming gegroei het. Hoe dit regtig onmoontlik gelyk het en hoe harde werk definitief beloon word.

Het julle enige raad vir mense wat ’n droom het en daaraan wil werk?

(Wens ons kan ’n hele boek hier skryf.)

• Daar is geen beter gevoel as om soggens wakker te word en nie te kan wág om werk toe te gaan nie.

• Uitdagings is wat jou sterk maak, so moet NOOIT opgee as jy ’n idee of droom najaag nie. Die belangstelling en passie wat jy insit word ALTYD uitgebeeld in die werk wat jy lewer.

“Say YES to an opportunity, and learn how to do it later”

- Sir Richard Brandson

Jy kan Theron & Theron Designs op hul webtuiste besoek of deur Instagram, Pinterest en Facebook kontak maak.

Kyk hier hoe hulle leerhandsak maak

Kyk hier na nog foto’s van hul leerprodukte

Lees nou

#9tot5: Haal hierdie woorde uit jou CV uit!

#9tot5: Skrap hierdie 10 slegte kantoorgewoontes

#9tot5: Landi Kuhn se besigheidsraad