CV

FOTO Justin Badenhorst

Werk + geld

#9tot5: Haal hierdie woorde uit jou CV uit!

Perfeksionis, hardwerkend en spanspeler is woorde wat werknemers oor en oor – en oor – lees. Hoewel dit dalk die waarheid is oor jou, en inderdaad nodige eienskappe kan wees vir ’n pos, het dié woorde intussen niksseggend geraak. Holrug gery. Vermy dit in jou CV, en jy staan ’n beter kans om aangestel te word …

Volgens The Telegraph toon navorsing dat jy net 8,8 sekondes het om potensiële werkgewers met jou CV te beïndruk. Daarna beweeg hulle na die volgende aansoek. Dit kan verskil van werkgewer tot werkgewer, maar die werklikheid is dat jou CV bo die res moet uitstaan. Vermy dié drie woorde, asook die volgende en ander op Forbes se lys sodat jou aansoek uitstaan.

Hardwerkend

Elke werkgewer hoop op ’n hardwerkende werknemer, dis vanselfsprekend. En as jy lui en ongemotiveerd is, gaan jy dít in elk geval nie op jou CV sit nie. Dink bietjie verder oor jou werksetiek en hoe jy jou dagtake aanpak. Kan jy ander woorde gebruik om dit te beskryf?

Probeer eerder: ywerig, geesdriftig, flink, fluks, leergierig, gewillig, vlytig

In Engels: industrious, diligent, conscientious, assiduous, attentive

Perfeksionis

Is dit regtig nodig om te sê jy is ’n perfeksionis? In hierdie geval sal jou werksetiek meer sê oor hoe jy jou werk afhandel en ingee as wat die woord “perfeksionis” doen. Die meeste werkgewers glo in elk geval in “gedoen is beter as perfek”, so skryf liewer oor hoe jy gewoonlik take afhandel, wat jy al behaal het, hoe jy spanning hanteer of hoe jy beplan.

Probeer eerder: professioneel, verbeter, behaal, afhandel, opgelos, onderhandel, geloods

In Engels: professional, achieved, negotiated, improved, solved, meticulous, inventive

Spanspeler

Jy weet nooit in watter span jy gaan instap nie, so los dié woord liewer uit. Verduidelik liewer dat jy al in spanne gewerk het en wat jou spanne behaal het, of sê hoe jy spanwerk benader.

Gebruik eerder: sosiaal, mensliewend, gementor, geskep, idees, beleefd, avontuurlustig

In Engels: social, cooperativeness, ideas, mentors, adventurous

Gedrewe leier

Dit is altyd baie beter om voorbeelde te gebruik van wat jy bereik het as om dié woorde te gebruik. Dis leeg, want die persoon wat met jou ’n onderhoud voer, gaan jou in elk geval hieroor vra. Verduidelik liewer in jou CV en vergroot so jou kans om vir die onderhoud genooi te word.

Eerder: Noem die toekennings wat jy gewen het, programme wat jy bygewoon het en wees spesifiek oor wat jou dryf.

Passievol

Dit bring ons by hierdie woord, óók leeg as dit sonder verduideliking op jou CV staan. Gebruik hierdie geleentheid om te wys jy’s gebalanseerd en menslik deur ander belangstellings ook te hê.

Eerder: Sê wat jou stokperdjies is en noem spesifiek die dinge waaroor jy passievol is.

Bronne: Career Girl Daily, Forbes, The Telegraph

Lees nou

#9tot5: Hier’s jou middel-van-die-jaar-motivering!

#9tot5: Só kry jy daai werk