FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Werk + geld

#9tot5: Landi Kuhn se besigheidsraad

Jy hoef nie vêr te kyk om deur mense geïnspireer te word nie. Hier gesels ons met die entrepreneurs wat hul passie hul beroep gemaak het. Lees meer oor hoe hulle begin het, wat hulle geleer het en hul raad! 

Ons eerste onderhoud is met die kunstenaar en sakevrou Landi Kuhn.

Het jy enige naskoolse onderrig wat jou gehelp het om Landi Kuhn functional art & design op die been te bring?

Ja. Ek het argitektuur aan die Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT) studeer. Die kursus het my blootgestel aan soveel meer as net argitektuur. Daar het ek alles geleer, van goeie ontwerp tot die rekenaarprogramme en vaardighede wat ek daagliks gebruik. Dit het ongelooflik baie deure vir my oopgemaak op die pad na Landi Kuhn Functional Art & Design.

Toe jy net begin het, watter afdeling het die meeste aandag geverg?

Die ontwerp en vervaardiging het maklik en vanself gekom, maar ek moes baie aandag gee aan die administratiewe gedeelte van die onderneming aangesien ek so baie gehad het om te leer. Alles was aan die begin nuut, vreemd en soms oorweldigend.

Landi Kuhn

Hoe maak jy seker jou produkte bly relevant en on trend?

Ek doen baie navorsing oor wat in die mode is en neem kennis van die produkte in my reeks(e) wat die meeste verkoop, maar op die ou einde volg ek my instink en maak produkte waarvan ek hou met die wete dat daar iemand daar buite is wat ook gek daaroor sal wees.

Het jy enige werkers in diens geneem of maak jy alles self?

Op die oomblik maak ek alles self. Dit is die lekkerste gedeelte van die hele proses.

Doen jy enigiets ekstra (woon klasse by, kyk video’s, ens) om jou ambag, sakevernuf of sosialemediakennis te verbeter?

Ek vra baie raad, veral met die besigheidsaspek, en is nie bang om met nuwe idees te eksperimenteer nie. Google is my beste vriend en ek lees graag na oor iets waarvan ek meer wil weet.

Landi Kuhn

Wat is die grootste les wat jy geleer het deur jou eie onderneming te begin?

Niks gebeur oornag nie. As iemand wat baie ongeduldig kan wees moes ek maar geduld aanleer. Solank jy jou passie najaag, val dinge tog met tyd in plek, hoewel dit aan die begin voel jy gaan nooit voorbly en bo uitkom nie.

Wat is die lekkerste deel van jou werk?

Definitief om mense te sien wat my ontwerpe dra. Dit bring ongelooflike werksbevrediging!

Besoek Landi se webtuiste en Facebook- blad vir meer inligting oor haar produkte.

Besoek SARIE se stalletjie by vanjaar se KKNK waar ons ook van Landi se produkte verkoop.