FOTO: Verskaf

FOTO: Verskaf

Werk + geld

#9tot5: Purple Puppy Studio deel besigheidsraad

Riaan en Pieter het in 2012 besluit om hul passie vir lasersny en gravering ’n beroep te maak. En ná al die jare staan Purple Puppy Studio bankvas in die hart van die Kaap.

Riaan deel met ons hul besigheidsraad.

Het julle enige naskoolse opleiding wat julle gehelp het om Purple Puppy Studio te begin?

Ons het geen naskoolse opleiding of ervaring gehad wat tot Purple Puppy Studio gelei het nie. Purple Puppy was en is steeds ons droom. Ons het besluit om ons droom te volg en die groot stap te neem, en in Maart 2012 het ons afgeskop.

Wat is jul rolle in die besigheid?

Pieter is die ontwerper en vervaardiger. Sy passie vir ontwerp en detail dra grootliks by tot die sukses van Purple Puppy. Ek is verantwoordelik vir die administrasie, boekhouding en bemarking – glo my, ek kan soos hulle sê, ys aan ’n Eskimo verkoop.

 

Wine box

20150901_151602

Toe julle net begin het, watter afdeling het die meeste aandag geverg?

Eerstens om te leer hoe om die lasermasjien ten volle te benut. Tweedens, die bemarkingsafdeling, om potensiële kliënte te vertel wat ons doen en om elke geleentheid wat oor ons pad kom, maak nie saak hoe groot of klein nie, aan te gryp.

Hoe maak julle seker jul produkte bly relevant?

Ons kliënte se unieke versoeke hou ons op ons tone. Ons doen navorsing oor omgewingsvriendelike materiale wat ons gebruik en dan hou ons ons oog op sosialemedia-platforms soos Instagram en Pinterest.

Waar kom die naam vandaan?

Pieter is ook ’n kunstenaar en was besig met ’n skildery. Hy het die palet neergesit en van ’n afstand sy werk bekyk. Pablo, ons hond, het oor die palet met pers verf gehardloop. Hoe meer ons hom probeer keer het, hoe meer het hy gedink ons speel en jaag hom. Ons het besluit om die besigheid na hom te noem toe hy oorlede is. Uiteindelik het ons op Purple Puppy Studio besluit.

20150830_092101

Wat is sover die grootste les wat julle geleer het van ’n besigheid begin?

Harde, harde, baie harde werk en moet nooit ooit moed opgee nie. Glo in jouself en bowenal glo in jou Godgegewe talente en woeker daarmee – elke dag. Ons leef, slaap en eet letterlik Purple Puppy.

Wat is die lekkerste deel van Purple Puppy Studio?

Die feit dat ons vir onsself kan werk. Dit is by tye baie stresvol, maar die eindresultaat is die beloning – wanneer ’n kliënt, ’n bruid of wie ook al tevrede is en met ’n glimlag weggaan.

Besoek Purple Puppy Studio se webtuiste en Facebook-blad vir meer inligting oor hul produkte en wat hulle vir jou kan maak.

Lees nou