werk

FOTO: Mark Cameron

Werk + geld

#9tot5: Só kry jy daai werk

Dit begin by jou dekbrief en eindig by jou onderhoud. Om aansoek te doen vir ’n posisie is intimiderend en stresvol, maar raai wat –  ons almal gaan daardeur. Hier is ons raad vir jou om dié werk te kry!

Vandag val die kollig op die dekbrief en die onderhoud. Dít is die twee plekke waar jou toekomstige werknemer jou kan leer ken. Doen dit dus reg!

Eerstens, jou dekbrief:

1. Moenie copy en paste nie. As jy ’n basiese dekbrief het wat jy altyd aanpas vir elke aansoek, lees dit oor en oor deur – en wéér ’n keer. Vra sommer iemand anders om dit ook deur te lees. Niks grief ’n werkgewer soos ’n dekbrief met ’n ander maatskappy se naam of webwerf daarin nie.

2. Doen voor die tyd navorsing. Jou dekbrief behoort ’n duidelike weerspieëling van jou persoonlikheid, ervaring en prestasies te wees, maar dit moet ook wys dat jy kennis dra van die maatskappy waarby jy aansoek doen. Skryf dus hoekom jy daar wil werk of hoe jy reeds gebruik maak van die besigheid se webtuiste, tydskrif, lesings, artikels, praatjies, of wat ook al relevant is.

3. Dit moenie langer as een bladsy wees nie. ’n Halwe bladsy, dalk driekwart, behoort genoeg te wees.

Jou onderhoud:

Wat wil jy hê moet die werknemer tydens die onderhoud van jou te wete kom? Skryf 3 dinge oor jouself neer wat jy wil hê hy of sy moet weet. Doen dit voor jou onderhoud en oefen hoe jy hierdie dinge gaan kommunikeer, en hoe jy dit uit verskillende rigtings kan benader. Dit sal jou selfvertroue gee, die onderhoudvoerder laat besef dat jy reg is vir die rol en dit sal vars in jou agterkop wees om daaroor te praat en dit by jou antwoorde in te werk.

werk

FOTO: Unsplash (Tim Gouw)

1. Trek aan volgens jou persoonlikheid. Onthou dat werknemers baie mense sien vir onderhoude, daarom kan eerste indrukke jou later onderskei van iemand anders. En die onderhoudvoerder sien jou uitrusting raak nog vóór jy jouself voorstel. Dit hang natuurlik af van die soort werk waarvoor jy aansoek doen, maar probeer om jou voorkoms persoonlikheid te gee met iets soos ’n helder hemp of skoen, oorbelle of interessante borsspeld. Jy wil nie soos al die ander lyk nie …

NUUT! SARIE se modekursus

2. Maak oogkontak. Jy lyk selfversekerd as jy oogkontak behou. Sit daar meer as een mens in die onderhoud, moet jy probeer om met almal te gesels en nie net op een te fokus nie.

3. Onthou, die onderhoud is ’n gesprek. Wees jouself.

4. Twee vrae wat jy altyd kan verwag? “Wat onderskei jou van al die ander aansoekers?” en “Wat kan jy na die tafel bring?”

5. Beklemtoon jou ondervinding en wat jy al vermag het, nie jou akademiese rekord nie. Jou akademiese prestasies is reeds in jou CV en die onderhoudvoerders het dit klaar gelees. Dit is nou die tyd om jou ervaring uit te lig en te vertel wat jy al in die praktyk geleer het.

6. Berei jou eie vrae voor. Aan die einde van die onderhoud sal daar vir jou geleentheid gegee word om ook vrae te vra. Doen presies dit. As jy vrae gereed het, wys dit dat jy jou navorsing gedoen het en werklik geïnteresseerd is in dié posisie.

7. Dink of doen voor die onderhoud iets anders as wat jy normaalweg doen, wees kalm en luister. Gaan op Instagram, blaai deur ’n tydskrif, woon ’n gimklas by, luister na jou gunsteling-Podcast, ens. Dit sal jou help om regtig in die onderhoud te fokus en te luister na die vrae, omdat vooropgestelde/uitgewerkte antwoorde nie nog in jou kop maal nie.

FOTO: Unsplash (Christopher Campbell)

FOTO: Unsplash (Christopher Campbell)

Dit is ook belangrik om te onthou dat hoewel jy aansoek doen om ’n pos, jy ook op soek is na ’n posisie wat by jou loopbaanplanne inpas. Maak dit duidelik. Al hoop jy om die werk te kry of deur te dring tot die volgende ronde onderhoude, moet hierdie werk ook pas by jou beroepsplan vorentoe. Vra dus vrae aan die onderhoudvoerder om seker te maak dat dié posisie jou gaan uitdaag en die nodige waardevolle ondervinding bied.

BRONNE: Refinery29Matete Lerutla, Menslike Hulpbron Bestuurder by Metropolitan

Lees ook

2016 se slegste beroepe: Verkoopspersoon is een van hulle

#9tot5: Landi Kuhn se besigheidsraad

#9tot5: Skrap hierdie 10 slegte kantoorgewoontes