FOTO Gallo Images / Getty Images

FOTO Gallo Images / Getty Images

Werk + geld

#9tot5: Staan uit in die besigste werksoek-maand!

Het jy geweet in Januarie doen die meeste mense aansoek om ’n nuwe werk? Werkgewers weet dit, en daarom adverteer hulle graag poste in hierdie maand. Hier is die redes waarom mense aan die begin van die jaar so fluks werk soek. Ons gee ook raad oor hoe jou aansoek nie net nóg ’n e-pos in iemand se inboks bly nie.

Die webtuiste Monster.com, wat beskikbare poste internasionaal adverteer, se besigste maand vir werkaansoeke is Januarie, berig Fast Company. Dis veral bedrywig op 27 Januarie, wanneer daar ’n 75%-verhoging in aansoekers op hul webtuiste is.

Die rede?

Careers24, een van Suid-Afrika se grootste werksoekwebtuistes, ervaar ook hierdie styging in die aantal besoekers op hul webwerf. Elizabeth Mamacos, hoof van Careers24 se inhoud, noem hierdie redes op:

1. Mense is oor die Desembervakansie by die huis en omring deur vriende en familie wat vra hoe dit by die werk gaan. As dit sleg gaan, moedig geliefdes mekaar aan om ’n skuif te maak.

2. Baie mense gebruik die vakansie om na te dink oor die jaar wat verby is en wat hul drome vir die volgende jaar is. Baie kom tot die slotsom dat ’n skuif nodig is.

3. “Nuwe jaar, nuwe jy.” Hierdie begin-van-die-jaar-ingesteldheid maak dat mense hul CV opdateer en uitstuur. Nuwejaarsvoorneme is nog aan die orde van die dag.

4. Die einde van ’n jaar en die begin van ’n nuwe dui ook op die begin van nuwe werksfases. Matrikulate van die vorige jaar en gegradueerdes begin soek of soek steeds, na werk. Aan die ander kant merk die begin van ’n jaar ook die begin van nuwe kursusse, programme en internskappe, dus word daar ook meer geadverteer van werkgewers en werwers se kant af.

Volgens The Telegraph toon navorsing dat jy net 8,8 sekondes het om potensiële werkgewers met jou CV te beïndruk. Daarna beweeg hulle aan na die volgende aansoek.

Laat jou CV uitstaan

1. Wees spesifiek

Moenie jou vaardighede net opnoem nie. Pleks daarvan om byvoorbeeld bloot sosiale media as een van jou vaardighede te lys, noem ’n voorbeeld van die teikens wat jy behaal het of hoe jy dit ingespan het om jou werkprestasie te verbeter.

Werwers het nie tyd om elke CV op te volg en uit te vra oor jou vaardighede nie, fokus dus op jou resultate en bemark jouself.

2. Noem net die belangrikste

Tensy jy pas uit die skool stap, hoort daar nie ’n afsonderlike afdeling vir skoolprestasies op jou CV nie. Werk liewer sulke prestasies in onder opskrifte soos “Toekennings” of “Vaardighede”. As jy nie skaam is om voor groot gehore te praat nie, lys dit as een van jou vaardighede en staaf dit met ’n voorbeeld van jou prestasies as lid van die skooldebatspan. Onthou om spesifiek te wees – as jy ’n prys gewen het, noem dit.

3. Uitleg

Skryf puntsgewys en moenie jou CV langer as twee bladsye maak nie. Talle voorbeelde is op die internet beskikbaar wat jy kan aflaai. Nommer punte onder mekaar of skep ’n dotlys. Dit help dat jy bondig skryf en lyk ook netjieser. In ’n CV lees niemand lang sinne nie.

4. Slurp kennis op

Gryp elke geleentheid aan om kennis en ervaring op te bou. Deesdae is daar kursusse wat ’n mens aanlyn kan doen. Probeer LinkedIn Learning – die eerste maand is gratis. As jy al ’n stalletjie by ’n mark bedryf het of in ’n restaurant gewerk het, noem dit. Hierdie rolle wys vir die werkgewer en werwer ’n ander sy van jou.

5. Gebruik jou netwerk

Career Girl Daily lê klem daarop dat ’n nuwe werk soms gaan oor wie jy ken. Dit beteken nie jy moet beste vriende wees met die grootbaas van ’n top-maatskappy nie, maar eerder dat jy byvoorbeeld by die haarkapper laat val dat jy op soek is na werk. Hierdie bekroonde webtydskrif vir loopbaangerigte vroue meen drie werke skuil in elke mens se netwerk van kennisse. Gesels oor jou drome en praat veral met mense wat jou goed ken.

6. Behou jou momentum

Moenie ophou om jou CV uit te stuur nie. Mense is geneig om hul momentum halfpad deur Januarie te verloor en gou weer in ou werkroetines te verval. Wees die een wat dadelik reageer op advertensies en hou aan om jou CV uit te stuur.

Dit is ook ’n goeie idee om jou CV gereeld op te dateer sodat jy nie van belangrike gebeurtenisse en werkervaring vergeet nie. Wanneer daardie droomwerk geadverteer word, is jy gereed!

Lees nou

#9tot5: Só kry jy daai werk

#9tot5: Haal hierdie woorde uit jou CV uit!

Spaar soos ’n millennial!