FOTO: Instagram  @styleiinspo

FOTO: Instagram @styleiinspo

Werk + geld

My baas is jonger as ek

Die dilemma: ’n Jong vrou het die aanstelling gekry waarop ek gehoop het. Dis erg genoeg, maar dit voel ook onnatuurlik, soos toe my jonger sus voor my ma geword het. Moet ek nou jonger aantrek? My baas se pêl wees? (Sy het nie juis ’n saak met my nie.) Of dalk ma speel?

Kenners se raad

Suzette Brits, Bedryfsielkundige van Vaaldriehoek sê:

Daar is dikwels tot drie generasies
in die werkplek: die Baby Boomers (gebore 1946 tot 1964), Generasie X (gebore 1965 tot 1980) en Generasie Y (gebore 1981 tot 2000). As jy weet waar jy inpas, sal jy dalk jou nuwe baas beter verstaan.

Baby Boomers plaas sterk klem op werksetiek en boekgeleerdheid. Hulle doen “beskaafde” dinge soos om dadelik e-pos te beantwoord. Generasie X is nie altyd getrou aan maatskappytradisies nie en glo sterk aan kreatiwiteit. Generasie Y neem blitsvinnig besluite, via tegnologie, maar is soms onge- dissiplineerd. Hulle wil nie noodwendig hul kollegas sien nie, solank hulle tegnologies “verbind” is. Baby Boomers beskou Generasie Y soms as werksku en aandagafleibaar.

Beskou jou baas se aanstelling as ’n leergeleentheid. Wees geduldig met jouself en met haar. Dis waarskynlik vir haar ook ’n aanpassing. Sy voel dalk effens geïntimideer omdat jy ouer is. ’n Ma-rol is heeltemal onvanpas. Wees ’n mentor (as sy dit toelaat), maar laat haar ook toe om jou te lei. As jy skielik jonger aantrek, gaan jy nie respek af- dwing nie. Sorg wel dat jou kleredrag gepas is – veral as dit belangrik is vir die beeld van die maatskappy.

Wys só dat jy haar respekteer:

  • Vra haar mening oor werksake en ander kwessies. Komplimenteer haar opreg wanneer sy iets goed doen.

  • Wees nederig en bereid om te leer. Sy sal dan ook jou hulp inwin.

  • Laat haar verstaan dat jy terugvoer oor jou werk verwelkom.

  • Pas by haar werkstyl aan sonder om jou identiteit te verloor.

  • Doen introspeksie. Wat lê vlak in jou gemoed? Is jy dalk bang jy is besig om oorbodig te raak by die werk omdat
jy nie kan byhou met die vinnige tempo van verandering nie? Dalk voel jy verbitter oor verlore geleenthede.

  • As dit so is, kry professionele hulp. ’n Sielkundige of werkafrigter kan jou help om weer rigting te vind.

Bettie Rall, Voorligtingsielkundige van Kaapstad sê:

Al is dit moeilik, moet jy probeer om jou nie die jonger vrou se aanstelling persoonlik aan te trek nie. Dis nie noodwendig ’n refleksie op jou werk en waarde op kantoor nie. Dalk pas die doelstellings van die pos nie by
jou vaardighede nie. Die vereiste vir sekere leierskapsposte kan byvoorbeeld ’n taakgerigte, saaklike, nie-empatiese soort mens wees en jy is dalk ’n warm, emosionele, empatiese leier. Al is jy nie geskik vir die pos nie, maak dit nie van jou ’n swak leier nie.

Die belangrikste is: Hou kop en moenie aanvallend teenoor haar wees nie. Dít sal net jou onsekerheid beklem- toon. As iemand jou opinie oor die nuwe aanstelling vra, moenie iets negatiefs kwytraak nie. As jy niks goeds oor haar kan sê nie, bly neutraal en sê iets soos “Ek wens haar net die beste toe.” Bitsigheid is onprofessioneel en kan jou toekomstige aanstellings negatief beïnvloed.

Bly oopkop. Die jongeling kom dalk met nuwe idees waardeur jy kan leer. Maar as jy te veel weerstand bied, sal jy dit nie sien nie en agterbly.

VIR HULP

Suzette Brits: 083 268 9925 suzette.b@vodamail.co.za

Bettie Rall: 021 987 0111 bettierall@mweb.co.za