FOTO: Getty Images / Gallo Images / Nick David

FOTO: Getty Images / Gallo Images / Nick David

Werk + geld

Die 7 F’s tot ’n Fantastiese Feesseisoen en selfs ’n beter 2016

Hierdie tyd van die jaar is ons wiele gewoonlik besig om af te val of ons voel ’n bietjie pap. Sommige van ons het waarskynlik al ’n paar skroefies verloor en voel van balans af of selfs lomp. Mammas het skaars die eksamenskof oorleef, dan word van hulle verwag om die gesin op te pak vir hul wonderlike, langverwagte familievakansie saam met die skoonfamilie. Sjoe!

Mel Tomlinson, uitvoerende hoof van die Performance Booster Program, is al vir 9 jaar ’n sake-afrigter wat sake-eienaars, bestuurders en werknemers in verskillende bedrywe leiding gee. Sy deel graag ’n paar wenke uit hul “wiel van die lewe”, een van hul modelle om mense te help om ’n meer positiewe uitkyk op hul lewe te kry.

Hier is ’n paar maklike maniere om jouself koelkop te hou oor die vakansieseisoen. Dit behoort ook te help om die kans te verminder dat jy die begin van 2016 ’n hele 10kg swaarder en ’n paar duisend rand armer gaan wees.

Wheel of life lr

Fun – dit is die seisoen om vrolik te wees – laat hang jou hare ’n bietjie los en lag baie. Lag is die kuur vir baie kwale. ’n Goeie oefening is ’n visiebord vir die gesin sodat almal kan sien wat elkeen se drome, wense en idee van pret is.

Friends - kuier saam met mense wat jou laat goed voel. Bly ver weg van negatiewe familielede en probeer om nie sleg te praat van ander nie. Jy is die gemiddeld van die 5 mense met wie jy die meeste tyd bestee. Dis dalk ’n goeie tyd om die vriendskapskas uit te pak en ’n paar nuwes in te nooi.

Finance – wees bietjie suinig sodat jy nie 2016 in die rooi begin nie. Ons maak dikwels skuld om ’n indruk te maak – en dis onnodig. Gee eerder slim, bekostigbare en deurdagte geskenke. Of gee geskenkbewyse en vermy só ure in ’n uitputtende winkel om geskenke te soek wat binnekort weggegooi gaan word. Jy wil nie afbetaal aan geskenke nadat hulle opgeëet of gebreek is nie.

Flame en Romance – Ons gades trek soms aan die kortste ent oor dié tyd. Net toe hulle dink hulle is op die punt om ’n bietjie liefde en aandag en welverdiende rus te kry, moet hulle meeding met kinders, vriende en familie. Kikker jou vlam op met ’n paar date-aande en spesiale oomblikke. Laat die kinders by Ma bly, pak ’n piekniekmandjie, kyk ’n sonsopkoms, soen ná donker op die strand soos in die ou dae …

Furniture - Wanneer ons moeg is, is ons omgewing geneig om ook ’n bietjie vaal te lyk. Nou is ’n goeie tyd vir ’n mini-dekorprojek. Bring ’n helder nuwe kleur in, gooi daardie ou mat uit en gee jou leefruimte weer ’n nuwe baadjie. Vra dat almal vir jou geskenke in jou nuwe gunsteling-kleur koop vir vars energie. Kyk ook uit vir ’n kort kursus in verftegnieke – dikwels by ysterwarewinkels – vir inspirasie om jou hande vuil te maak en kreatiewe tyd saam met die gesin deur te bring. Dit sal nie net nuut voel nie, dis boonop hope pret om saam iets te skep en julle sal trots voel op jul gesamentlike pogings.

Fitness and Health – die versoekings oor dié tyd is altyd groot en ons eet te veel en drink gewoonlik te veel alkohol. Wees bedag op jou liggaam se behoeftes. Hou jou porsies klein en verdubbel jou waterinname. ’n Stappie op die strand, ’n bergstap of fietsry saam met die gesin kan ’n prettige manier wees om fiks te bly. Om een keer ’n week te vas en net vrugte of sap in te neem, is ook ’n goeie idee.

Further Development and Future - Of jy nou ’n beroepsvrou of tuisblyma is, almal moet ’n nuwe vaardigheid aanleer. Kies ’n aanlyn kursus – baie van hulle is gratis. Om nuwe dinge te leer verbreed ons horisonne, maak ons oop vir die ontmoeting met nuwe en interessante mense en verbeter ons selfvertroue. Probeer om altyd te groei in wat jy doen en jy sal nooit verveeld wees nie.

Leef vir vandag, maar beplan vir die toekoms.

31 Desember is ’n wonderlike dag om ’n bietjie tyd weg te steel vir jouself – net 45 minute om te besin oor die afgelope jaar. Skryf ’n brief vir jouself wat jy volgende jaar op 31 Desember gaan lees. Dit help jou om jou wense en begeertes te visualiseer.

Besoek Performance Booster vir meer inligting oor die “wiel van die lewe”.

Vir meer inligting oor die Performance Booster Program, besoek hul webwerf by www.performancebooster.co.za, e-pos info@performancebooster.co.za of bel hulle by 013 744 0027.

­­