sr0904gelddinge01
Werk + geld

Geld&werkdinge

Só spaar ek
“Ek is nie eintlik spandabel nie, maar dié wat my ken, weet ek hou van bubbly. Ek hoop nie dit klink vertonerig nie! In die verlede het ek vir spesiale geleenthede geld ‘verkwis’ op ‘n paar bottels Spaanse Cava en Franse sjampanje. Hierdie jaar is daar niks dáárvan nie! Ek koop nou plaaslike méthode cap classique-wyne wat nét so goed en soms selfs beter is. En ek voel geen gemis nie.” Shemane Harris, aanbieder van Wat’s die storie? op kykNET

AANLYN SKRIKKERIG?

As jy huiwerig is om met jou kredietkaart via die internet te koop, maak MIMONEY vir jou ‘n nuwe aanlynwêreld oop. Jy kan per debietkaart of kontant ‘n MIMONEY-koopbewys kry by deelnemende verkoopsagente, soos Ster-Kinekor, of dit via internetbankdienste, jou selfoon of telefoonbankdienste koop. Jou selfoonnommer is jou verwysing en die koopbewysnommer word na jou selfoon gestuur. Jy gebruik dié nommer vir aanlyn-inkopies by byvoorbeeld kalahari.net en ander deelnemende aanlynwinkels. Vir meer inligting besoek http://www.mimoney.co.za

Almal by die werk!

In dié kwellende ekonomiese tye val die klem ál meer op produktiwiteit. Daarom moet jy sorg dat jou mense by die werk is, sê Diane Capazorio, direkteur van Kelly in Johannesburg.

  • Sien om na hul welstand. Moet hulle nie met werk oorlaai nie.
    Moedig mediese ondersoeke aan en maak seker hul stresvlakke ruk nie handuit nie.
  • Spoor hulle aan om verder opgelei te word.
    Ontsluit hul vaardighede en potensiaal. Dít hou almal gemotiveerd.
  • Maak seker jy stel die regte mense in die regte pos aan.
    Dán sal jy hulle behou.
  • Maak seker jou kollegas is gelukkig en tevrede.
    Só bly hulle toegewyd. Vir 100% aanwesigheid deur die jaar kan jy hulle selfs met ‘n afdag beloon.

KOM OP ‘N NUWE GEDAGTE

INNOVASIE BETEKEN OM MET IETS NUUTS VORENDAG TE KOM.
Jy kan dit ook doen, sê Reana Rossouw van Next Generation Consultants in die Kaap. die Wright-broers van amerika, wat die eerste suksesvolle vliegtuig gebou het, het ure lank voëls in vlug dopgehou en ánders na hulle gekyk. As jy ‘n innoveerder wil wees, vra jouself dié vrae oor jou projek:

  • Hoekom word dit nog altyd só gedoen?
  • Wie het dit begin, en hoekom?
  • Watter alternatiewe is oorweeg en watter idee is deur die nuwe voorstel vervang?
  • Wat is my of my kollegas se grootste klagte oor hoe ons dit tans doen? Hoe kan ons verbeter?
  • Hoe word dit in soortgelyke velde of in ander stede, lande of kulture gedoen?
  • Watter ander aannames is voorheen gemaak, of watter beperkinge was daar?
  • Hoe kan ek enige van bogenoemde op my projek/ werk toepas?

dÍs sukses

“Om sukses te bereik hou nie noodwendig verband met finansiële vooruitgang nie – dis eerder om geleenthede te benut.”

Jannie Rossouw, leefstylafrigter: Bright Future Training, Durbanville