Werk + geld

Geld- & werkdinge

Sportiewe dekking

As jy aan ’n ekstreme sportsoort soos rotsklim of valskermspring deelneem, maak seker jou mediese fonds sluit dekking in vir as jy (of jou afhanklikes) beseer word, sê Clinton Alley van Medshield. Vra jou makelaar presies hoeveel dekking jy het. En as jy oorsee wil deelneem, vra jou reisagent of ekstra dekking nodig is. As jy nie sulke versekering het nie, is ’n goeie hospitaalplan ’n minimumaanbeveling.

Ek glo

“Geld wat ek reeds gemaak het, werk nou vir my. Ek verander nie heeltyd van beleggings nie, ek dink langtermyn. As die mark val, skrik ek nie – die meeste afwaartse siklusse styg weer. Ek dink mooi voor ek geldrisiko’s neem. Wat spaar betref, vergelyk ek pryse, ry minder en koop vars produkte in klein maat en ander in groot maat. Ek onthou om ligte af te skakel en water te spaar.” Carien Wandrag, aktrise en veldaanbieder van 50/50 op SABC2.

Rente elke dag

Daar ís wel spaar- of tjekrekeninge wat goeie rente op jou kontant betaal, soos die Sanlam Liquid-rekening (12,29%). Maar jy moet minstens ’n R500-balans handhaaf.
Die Capitec Global-bankrekening bied 10% rente tot en met ’n balans van R10 000 en daarna 11,5%. Party rekeninge (bv. by Standard Bank en Absa) betaal ’n deel van jou maand se bankkoste terug indien jy ’n minimum balans (gewoonlik rondom R10 000) handhaaf.
Gebruik www.justmoney.co.za se bankkoste-berekenaar om te sien of dit vir jou lonend is.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

V&A: Dit werk vir my

Birgit Thümecke is die besturende direkteur van Lufthansa Global Telesales, ’n bekroonde internasionale inbelsentrum in Kaapstad. Hulle dien Lufthansa-kliënte wêreldwyd en behartig ook die kliëntediens van ander lugdienste.

Jy bestuur 450 werknemers. Jou geheim? Ek maak staat op ’n hoogs professionele span, hou by my standaarde en sorg dat kommunikasie altyd uitstekend is.
Hoe hanteer jy ’n begroting met ’n omset van R84 miljoen? Ek gee die verantwoordelikheid vir ’n klein span wat voortdurend met mekaar kommunikeer. Ek hou ook boek van álle transaksies.
Hoe hanteer jy kliënte-terugvoer? Ek luister na hulle sodat daar nie misverstande is nie. Ons ontleed die terugvoer en doen iets daaraan. So weet die kliënt ons het hom gehoor.
Suksesgeheime? Organisering, ’n sterk bestuurspan met aanvullende vaardighede en uitstekende kliëntediens. ’n Mens moet ook so vinnig moontlik by verandering kan aanpas.
Toekomsdoel? Personeeluitbreiding in Kaapstad. Ons personeel is ons grootste aanwins en ons wil ons energie op hulle fokus.
Raad aan jong sakevroue? Wees getrou aan jouself. Wanneer struikelbokke dan jou pad kruis, sal jy die regte besluite neem. Moet ook nie bang wees vir die onbekende nie!

 

Eerlikheid tel

As ’n werwingsmaatskappy jou nader, wees eerlik oor jou huidige salaris. Jok jy, word jou integriteit later betwyfel – jou nuwe werkgewer sal bewyse vra. Jy sal nie te min aangebied word nie, want werwingsmaatskappye hou tred met die markplek. Hulle weet ook wat skaars vaardighede werd is.
Fokus op jou rol binne die toekomstige maatskappy – werkgewers word afgeskrik as jy geldgedrewe is, sê Madge Gibson van die Jack Hammerwerwingsmaatskappy, Kaapstad.



 

“As jy ’n sake-onderneming bedryf, moet jy seker maak jou bates is behoorlik verseker. Maak voorsiening vir stygende vervangings-

koste – pas jou korttermynversekering aan!” – Lourens Joubert, SANTAM