Werk + geld

Gelddinge

Leer jou kind van geld

Begin sommer vroeg-vroeg om jou kind die waarde van geld te leer – sodra sy jou vra om iets vir haar te koop. Leer haar meer gevorderde feite sodra sy met basiese wiskunde begin. Gee haar keuses in die winkel en gesels oor die voordele van kwaliteit teenoor kwantiteit. Laat haar toe om self die winkelassistent vir klein aankope te betaal, en laat sy ook self haar (en jou) kleingeld nagaan. Moedig haar aan om die kelner se fooitjie van 10% in die restaurant uit te werk.

*Bykomende bron: Synovate In:fact

Jy verdien jou rande

The Little Money Bible deur Stuart Wilde, sowat R85 (Hay House)
Daar’s 10 wette van oorvloed, sê die skrywer. En jy moet hulle ken om seker te maak jy’t genoeg geld. Dit beteken nie jy stel geld bo jou siel nie – jy kan ryk én spiritueel wees.

 

Little Money Bible deur Stuart Wilde

Dek jou polis alles?

Voldoen jou korttermynversekering aan al jou behoeftes? Dink ’n bietjie hieroor:

  • Maak seker jou polispaaiemente word betaal. Dalk het jou bankbesonderhede verander.
  • Vermeerder jou paaiement soos die waarde van jou huis en die inhoud toeneem.
  • Maak seker jou motor is voldoende verseker. Stippel duidelik uit dat jou 21-jarige kind ook gereeld jou motor gaan gebruik!
  • Maak seker jou juweliersware word gespesifiseer en dat ander besittings, soos jou bril en kamera, onder “alle risiko” gedek is.
  • As jou huisdekking van diefwering en veiligheidshekke afhang, maak seker jou hele huis is so beskerm. En as die uitbetaling van jou huis se alarm afhang, maak seker dit werk. Aktiveer dit wanneer jy jou huis verlaat!
  • Maak seker jy verstaan die kontrak wat jy met jou versekeraar sluit en dat jy weet wat presies alles deur jou polis gedek word.

*Bron: Santam

Maak voorsiening

“My finansiële doelwitte is om my huis binne tien jaar af te betaal en, omdat ek alleenlopend is, te verseker dat ek voldoende aftreevoorsiening het. ’n Mens moet die geld wat jy verdien vir jóú laat werk. En om jouself te bederf hoef nie duur te wees nie … Hou jy nie ook van daardie Pretty Woman-gevoel nie?”
Leigh Bennie, gewese Big Brother-deelnemer en aanbieder van Talk Radio 702 en 567 CapeTalk

Maer tye

Noustrop? Probeer uithou en moenie jou lewens- of uitkeerpolis kanselleer nie. Dan sal jy ’n afkoopboete moet betaal en dalk weens swak markprestasie veel minder uitkry. As jou uitkeerpolis eers verval het, kan jy nie geld daarteen leen, dit ruil of verkoop nie. Onttrek eerder ’n klein bietjie geld uit die polis en gaan voort met die paaiement. Of reël dat jy tydelik ’n paaiement of twee oorslaan.
*Bron: Metropolitan