feb07gelddinge1a
Werk + geld

Gelddinge

My 3 beste besluite

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep en mede-aanbieder van Ontbytsake op kykNET, gee sy beste 3 finansiële besluite:

  • My heel beste een: Werk vir jouself. Entrepreneurs is die skaarsste element in enige ekonomie. Maar jou hart moet op die regte plek wees – jy moet vertroue in jouself hê. Die moeilikste is om die daad by die woord te voeg.
  • Koop kontant. Ek besef min mense kan motors en huise kontant koop – maar maak daardie som: Kyk hoeveel geld van jou paaiement gaan na jou motor/huis en hoeveel gaan bank toe. Ek het skuld so gou moontlik afbetaal, tweedehandse motors gekoop (kontant, as dit kon) en gespaar vir bederfgoed. (Moet nóóit leen vir ’n vakansie nie!)
  • Kry ’n begroting. Jy moet ten minste weet wat in jou geldsake aangaan en rofweg ’n finansiële plan hê. En begin gou spaar vir aftrede – alles volgens plan.

Sonder skuld

Maak jy ook skuld om ’n lewenstyl te handhaaf wat ver bo jou vermoë is? (Skuld het in die eerste ses maande van 2006 sowat 69% van mense se besteebare inkomste uitgemaak – dis selfs hoër as in 1998, toe skuld teen 61% op sy piek was.)
En ’n nuwe tendens het nou kop uitgesteek – ’n tweede verband op jou huis om jou peperduur lewe te finansier…
Slaan vanjaar ’n nuwe blaadjie om. Moenie in die kringloop verval waar jy al jou geld gebruik om skuld terug te betaal nie. Bly dus uit die skuld. Begin vandag nog geld wegsit – verkieslik waar jy dit nie maklik in die hande kan kry nie. Dit sal jou motiveer om nóg te spaar.
Bron: Mike Smith, besturende direkteur, EasyPay-betalingsdiens

 

 

 

4 redes hoekom jy in jou verband moet belê

Met stygende rentekoerse is dit nou die tyd om meer op jou verbandrekening af te betaal. Saul Geffen, hoof van die verbandonderhandelaar MortgageSA, sê hoekom:

  • Jy spaar op rente.
  • Jy betaal jou verband vinniger af as jy ekstra geld inbetaal (die afbetalingstydperk verkort heelwat meer as wat jy sou dink).
  • In die verlede was aandelemarkte geneig om te sukkel wanneer rentekoerse styg. (Ekstra kontant in jou verband maak dus sin.)
  • In die afgelope 20 jaar was eiendom die bateklas in SA wat die beste presteer het – Absa verwag dat huispryse oor die volgende vyf jaar met 80% sal toeneem.
 

 

 

Leer uit die ou jaar

Dawie Klopper, beleggingsekonoom van PSG Konsult, sê wat jy uit die ou jaar kan leer – en met groot vrug in die nuwe jaar kan toepas:
“Bly kalm. Alle markte (ook eiendomme, aandele en kommoditeite) gaan deur siklusse – en dit kan enige tyd daal. En hoewel ons dink dinge kan nog lank goed gaan, is hierdie soort ‘korreksies’ altyd onverwags en pynlik en dit kan tot grootskaalse paniek lei.

“Onthou: As die markte skielik daal (hulself korrigeer), moenie paniekerig raak en op die onderste punt uitverkoop nie. In Mei 2006 het die mark byvoorbeeld in twee weke met 17% gedaal en vir almal was dit baie erg – maar as ons nou terugkyk, is die terugsakking vergete!”

 

 

Weet waar jou geld is

My persoonlike geld-filosofie? Respekteer dit, maak dit, bou iets daarmee. En die beste finansiële besluit wat ek nóg geneem het, was om elke dag te weet hoeveel geld ek waar het. -

Deon Coetzee, akteur in Villa Rosa