Werk + geld

Gelddinge

“My beste besluit”

Die koop van ’n erf in ’n goeie buurt en later die bou van ’n huis daarop, was haar beste besluit, sê Marié van Zyl, kredietbestuurder van Nedbank, Bellville.
“Die waarde van eiendom in dié buurt het geweldig toegeneem sedert ek in 1997 daar belê het. Toe ek geld nodig gehad het, kon ek dit boonop teen my eiendom leen. (Die rentekoers is laer as dié van ’n persoonlike lening.) Wanneer ’n mens onder finansiële druk verkeer, moet jy steeds tot elke prys probeer om jou huis te behou,” sê sy.

Kies só jou finansiële raadgewer

’n Goeie raadgewer moet jou

  • “taal” kan praat, jy moet dus verstaan wat hy sê
  • ’n volledige gedokumenteerde finansiëlebehoefte-ontleding doen van wat jy het, wil hê én nodig het
  • gereeld jou geldportefeulje saam met jou hersien
  • ’n groot verskeidenheid dienste bied
  • antwoorde hê op al jou geldvrae
  • niks sonder jou skriftelike toestemming doen nie
  • die nodige kwalifikasies volgens wetgewing hê
  • jou lewenslange vertroueling oor jou geldsake wees

Bron: Luandi Nienaber, Illumina Wealth Management, Pretoria

Begin jou eie onderneming

As jy geld wil leen om jou eie onderneming te begin kan jy aanklop by die beleggingsmaatskappy Business Partners. Hulle het R200 miljoen om voornemende vroue-entrepreneurs te help. Stuur ’n e-pos aan enquiries@businesspartners.co.za of bel 084gowomen.

Die regte siekefonds

Die Johannesburger Stephen Maasch, voorsitter van die Liberty-siekefonds, sê jy moet die volgende in ag neem wanneer jy op ’n fonds besluit, want goedkoop beteken nie noodwendig góéd nie.

  • Vra ’n professionele finansiële makelaar om die fynskrif te lees en vir jou te sê wat uitgesluit is van jou mediese dekking.
  • Maak seker daar is verskeie plan-opsies (soos ’n hospitaalplan of die betaling van chroniese medisyne). Die fonds moet dus buigsaam wees indien jy jou opsie wil verander.
  • Stel vas of die bestuur van die maatskappy kundig en ervare is, sodat hulle die beste pryse vir hul kliënte kan beding.
  • Maak seker jou siekefonds bied waarde vir geld. Dit beteken die meeste lede moet beslis nie ouer as 45 jaar wees nie.

 

My geldfilosofie

“Geld is ’n middel tot ’n doel. ‘n Mens moet dit belê vir môre se bestaan, maar ook geniet om vandag te leef. Geld kan wel geluk koop, mits jy dit wat jy het met ander deel wat nie het nie.”
Dr. Christa van Louw (foto), beskermpersoon van die Christa van Louw Trust, wat voorheen benadeelde mense maatskaplik en ekonomies help

 

Dr Christa van Louw

 

Eerlike wins

How to Make One Hell of a Profit and Still Get to Heaven deur dr. J.F. Demartini (Hay House, R148) sê jy kan steeds goeie geld verdien sonder dat jy ander te na kom (kul!). En sonder dat jy jou spirituele waardes hoef prys te gee. Die boodskap is: Jy kan jou finansiële drome laat waar word deur nuut daarna te kyk.