Werk + geld

Gelddinge

Spaar!

Die nuwe RSG-omroeper, Pattra Mei (foto), wat binnekort saam met Martelize Brink en johan Rademan Oggend op RSG sal aanbied, se geldfilosofie is eenvoudig:

“Weet hoe om met geld te werk, dan sal geld vir jou werk. Spaar, spaar en nogmaals spaar is vir my baie belangrik. Ek soek tans ’n goeie plek om van my spaargeld te belê sodat ek kan voorsorg tref vir my jonger sussie, Ansjumay (12), se studies. Ek glo ook ’n mens moet ’n nes-eier opbou, want dan kan jy agteroorsit en jouself op die skouer klop omdat jy hard gewerk het daarvoor. Vir ’n bederfie koop ek duur skoene en reis die land plat.”

Minder Belasting

Die nuwe belastinggids is uit. Dit vertel jou hoe om die maksimum toelaatbare aftrekkings te eis en die minimum belasting te betaal. Daar’s ook ’n nuwe afdeling oor aftree-beplanning, raad oor hoe die nuwe belastingopgawe werk en wenke oor persoonlike finansiële bestuur. Minder vir Jan Taks 2008, Ralf Metz (Metz Press), R150.

 

Minder vir Jan Taks

Betaal só kleiner premies

  • Pas die versekerde waarde van jou motor jaarliks aan. Die waarde daarvan neem af.
  • Stel jou makelaar of versekeraar in kennis wanneer jy nuwe veiligheidsvoorsorgmaatreëls getref het, soos die aanbring van ’n veiligheidshek of ratslot (vir jou motor). Jou premie kan verminder.
  • Verhoog jou bybetaling wanneer jy eis. Jou premie sal dan laag bly.
  • Moenie onnodig eis nie. Jou geen-eis-bonus val weg en jou premie kan styg. Vervang liewer die klein goedjies self.
  • Moet nooit vals inligting verskaf nie, dis onwettig. Jy kan aangekla word van bedrog en onversekerbaar verklaar word. – Bron: Santam

Beskerm jouself

In die eerste drie maande van vanjaar het SA maatskappye R276 miljoen verloor weens identiteit-verwante diefstal. Dis wanneer iemand voorgee om jy te wees nadat hy dokumente soos jou kredietkaart of ID gesteel het. Hy maak dalk rekeninge in jou naam oop en gaan groot skuld aan.

Wenke:

  • Moenie bykomende kredietkaarte dra nie.
  • Kanselleer rekeninge wat jy nie gebruik nie.
  • Gaan jou kredietrekords na vir ongeoorloofde aktiwiteite. Skakel ’n kredietburo soos ITC of KreditInform. (As jy dit een maal ’n jaar doen, is dit gratis).
  • Gaan elke maand jou bank- en kredietkaartstate na.
  • Snipper papiere wat finansiële inligting bevat op.
  • Pas jou ID- en rekeningnommers soos goud op en verskaf dit net as jy self ’n transaksie aangaan.
  • Sodra jy agterkom jou ID is gesteel, laat weet jou bank en die departement van binnelandse sake.

Bron: Alexander Forbes Risiko- en Versekeringsdienste

Verhuur jou huis

Weens die stilte in die eiendomsbedryf is die behoefte aan huurhuise nou byna 10% groter as ’n jaar of wat gelede. As jy kan, skaf ’n plekkie aan wat jy kan verhuur.

Hier’s raad:

  • Kies ’n goeie gebied waar mense wíl woon. Soos naby ’n skool of universiteit, selfs op ’n ander dorp.
  • Maak die belegging vir inkomste, nie vir kapitale groei op kort termyn nie.
  • Raadpleeg verskeie banke vir ’n verband. Koste wissel.
  • Beding ’n goeie prys vir die eiendom. Die mark is stagnant.
  • Wees voorbereid daarop dat huispryse kan daal en maak seker jy kan groot herstelwerk betaal.
  • Besluit of jy self die eiendom gaan verhuur en of jy ’n agent gaan aanstel, wat ’n bestuursfooi vra.

Bron: ooba, ’n gemagtigde finansiële diensverskaffer