jul07gelddinge1a
Werk + geld

Gelddinge

Lees die fynskrif!

Lees altyd jou polis se fynskrif en maak só seker jou besittings is nie onderverseker nie, sê Steffen Gilbert, hoof- uitvoerende beampte van Santam. Let op die volgende:

  • Oorweeg dit om die “alle risiko”-dekking vir byvoorbeeld juweliersware en selfone uit te neem. So nie, kry jy niks as jou selfoon gesteel word nie.
  • As sekere motoronderdele vir ’n maksimum van R10 000 verseker kan word, sal jy die uitstaande bedrag moet betaal.
  • Maak seker jy koop die vereiste ratslot vir jou motor. So nie, sal jy nie uitbetaal word in geval van motordiefstal nie.
  • Pas gereeld jou polis aan. As jou huis vir R100 000 verseker is, maar R1 miljoen werd is, sal jy groot skade ly as jou eiendom afbrand.
  • Maak seker waar in jou huis jy diefwering en veiligheidshekke moet aanbring, en ook dat jou alarmstelsel reg werk.

Vir meer inligting skakel Muzi Magagula by Santam 021 915 7000.

Belê in opvoeding

Rhoda Kadalie, akademikus en meningsvormer, glo ’n mens moenie uitgee wat jy nie het nie.
“Ek is heeltemal onmaterialisties en het ongelukkig nie baie om te spaar nie. Ek belê wel in die opvoeding van my dogter, Julia. Sy studeer tans aan Harvard (Amerika) en wil die volgende SA president word. Ek en haar pa probeer dit moontlik maak.”

 

Rhoda Kadalie

 

Kry vir jou ‘n makelaar

Die eiendomsektor is tans in ’n groeifase. Handré Basson, direkteur van Kanaän Eiendomme op Stellenbosch, vertel meer:

  • Wat beteken dit? Eiendomspryse het die afgelope vyf jaar of wat met rasse skrede gestyg. Nuwe ontwikkelings het oral verrys. Die rentekoerse was die laagste in 25 jaar en die gemiddelde mens kon eiendom bekom.
  • Waaraan word die groeifase toegeskryf? Die skaarste aan ontwikkelings en grond, en die groei in vraag na eiendom. Almal wil hul eie huise besit. Daar sal dus altyd ’n vraag na eiendom wees.
  • Is ons huise nou meer werd? Ja, beslis. Grondpryse het gestyg en boukoste het met gemiddeld 15% per jaar toegeneem.
  • Is dit nou die tyd om huis te koop? As jy dit kan bekostig, hou jou huis. Betaal dit. As daar geld oor is, belê weer in eiendom. Vandag se te-veel-betaal is môre se winskopie.
 

 

 

My beste belegging

Helena Wasserman, finansiële skrywer, sê:
“Ek en my man moes trek kort nadat ons ons eerste woonplek gekoop het. Ons het dit nie verkoop nie, maar verhuur en ’n tweede een gekoop. Ons het lank net op liefde en koue water gelewe, maar die waarde van ons eiendom het binne ’n kort tydjie verdriedubbel.”

 

 

Betaal minder belasting

Minder vir Jan Taks 2007 deur Ralf Metz (Metz Press, Kaapstad) leer jou in verstaanbare taal hoe die SA inkomstebelastingstelsel werk. Maak só seker jy betaal die minimum belasting. Ook in Engels beskikbaar as Paying Less Tax Made Simple 2007. Te kry by bekende boekwinkels, www.kalahari.net en Leserskring. Sowat R150.

 

Minder vir Jan Taks