Werk + geld

Gelddinge

Skilderye of aandele?

Skilderye is ’n goeie belegging, veral as jy toevallig koop net voordat die kunstenaar sterf, sê Pieter Eksteen, portefeuljebestuurder van PSG Konsult, Stellenbosch.
“Die waarde van ’n goeie kunswerk kan dramaties toeneem ná die kunstenaar se dood.
Dis egter belangrik om eerder die werk van bekendes te koop.” William Kentridge, Irma Stern en Pieter van der Westhuizen se werk is van dié wat vandag duisende rande werd is. Maar hy reken tog dat aandele steeds ’n beter belegging as skilderye is. Vra raad by jou makelaar.

Eiendom vir later

Shemane Harris, TV-aanbieder en -regisseur, som haar geldfilosofie só op: “Ek is nóú eers besig om ’n verhouding met geld aan te knoop. Ek glo daaraan om in eiendom te belê sodat ek dit eendag, wanneer ek oud is, kan verhuur vir ’n maandelikse inkomste. Ek mors nie geld op duur motors nie en glo ’n mens moet net koop wat jy kan bekostig en wat jou gelukkig maak.”

 

Shemane Harris

 

 

 

Kry vir jou ’n makelaar

Elke gesin behoort ’n makelaar te hê. As dit by geldsake kom, is persoonlike kontak besonder belangrik, sê Luandi Nienaber, finansiële adviseur van Illumina, Pretoria.
Kies ’n makelaar wat deur ander aanbeveel word. Daar’s ook ’n lys name op die webwerf van jou versekeringsmaatskappy (soos Old Mutual, Sanlam of Liberty Life). ’n Makelaar het gespesialiseerde kennis en kan jou help met onder meer aftreebeplanning, hospitaalversekering, lewensversekering, spaarplanne, korttermynversekering en beleggings soos dié in effektetrusts, aandele en soms selfs in eiendomsportefeuljes.

 

 

My beste belegging

Dr. Prieur du Plessis, besturende direkteur van Plexus Batebestuur, Durbanville, sê hy het ’n sterk voorkeur vir langtermynbeleggings soos aandele, effektetrusts en eiendom.
“Om my entrepreneurskant tevrede te stel belê ek egter oorwegend in my eie onderneming. Dis ongetwyfeld die beste belegging wat ek tot dusver gemaak het, veral omdat dit my ywer regstreeks beloon.”

 

 

Hoe gemaak met daardie los R1 000?

As jy gelukkig is, het jy hierdie maand ’n ekstra R1 000 wat jy graag wil spaar. Wat is die beste keuse? Spaarrekening? Kredietkaart?
“Jy kan meer rente verdien as jy jou geld in ’n beleggingsrekening by ’n bank belê. Dan kom jy ook nie in die versoeking om geld te trek nie,” sê Hermien Strümpher, senior bankier van Nedbank, Bellville. Daar’s verskeie moontlikhede, sê sy. Soos ’n vaste deposito. Die rentekoers word jaarliks vasgestel. Jy kan besluit of jy jou geld van maand tot maand wil herbelê en of jy dit dalk vir ses maande of langer wil belê. Hoe langer die tydperk, hoe hoër die rente.