FOTO Instagram (@__yarms)

FOTO Instagram (@__yarms)

Werk + geld

Doendinge onder R100 in Johannesburg!

Is jy in Johannesburg die volgende paar vakansiedae? Ons het ’n lysie saamgestel van ons gunsteling-doendinge. Hier is vir jou aktiwiteite en dinge om te doen wat jou minder as R100 uit die sak gaan jaag.

Gratis

1. ’n Toer van Johannesburg en ’n liefdadigheidsoggend.

Gee 90 minute van jou tyd aan Better SA. Jy parkeer jou motor by ’n afgesproke plek en die organisasie laai jou met ’n bus op en neem jou na ’n welwillendheidsprojek van jou keuse. Só kan jy rustig sit en die stad bewonder terwyl jy rondgery word.

2. Maboneng

Gaan loop rond in Maboneng en asem die inspirasie rondom jou in. Op Sondae is die Market on Main-mark ook oop, so daar is oorgenoeg om verniet in te neem op dié besige dag!

3. Melville-koppies

Dit is gratis om by dié reservaat in te gaan en jy kan self rondstap en een van die mooiste uitsigte oor Johannesburg inneem. Volgens die webtuiste is Melville-koppies die laaste bewaarde bergrug in Johannesburg sedert die ontdekking van goud in 1886.

Besoek dié reservaat eerder in ’n groep as alleen en wees bewus van jou veiligheid.

FOTO: Instagram (@carmenbotma)

FOTO: Instagram (@carmenbotma)

4. Besoek die Shadow Boxer-buitelugmuseum

Chancellor House is nou ’n nasionale gedenkwaardigheid en het ’n wonderlike buitelugmuseum met tydlyne en inligting wat op die vensters gedruk is. Besoekers lees dié inligting van buite die gebou. Chancellor House is die oorspronklike kantore van Mandela & Tambo Prokureurs.

Die bekende Shadow Boxer-standbeeld van Nelson Mandela staan voor die Johannesburg-landdroshof net oorkant die straat en is op sigself iets om te besoek.

5. Emmerentia-dam & Johannesburgse Botaniese Tuin

Mag jy nooit sê dat Johannesburg nie buitelug-aktiwiteite bied nie. Besoeke aan dié tuin is gratis en byna regdeur die jaar is die grasperk voor die Emmerentia-dam vol groepe mense wat piekniek hou of dié wat ’n rustige plek soek om te lees en werk. Vat jou kombers en neem die mooi rondom jou in.

Onder R100

Hierdie lys is saamgestel met die hulp van Kulula.

1. Klim die mure van die Orlando Towers in Soweto. Hierdie muur is 25 m hoog en dit sal jou R50 kos.

2. Besoek die historiese Johannesburg Dieretuin. Toegang is R46 vir kinders onder 12 en R75 vir volwassenes.

3. Monte Casino Bird Gardens is ’n gunsteling onder Johannesburgers. Jy kan ook van Suid-Afrika se gevaarlikste reptiele hier sien. Toegang is gratis vir kinders onder 2 jaar, R39 vir kinders van 2 tot 10, R70 vir kinders ouer as 10 en volwassenes, en R39 vir pensioentrekkers van 60 en ouer.

 

FOTO: Instagram (@priscilacmotta)

FOTO: Instagram (@priscilacmotta)

4. Hierdie tyd van die jaar is ook perfek vir ’n rit deur ’n wildtuin. Besoek die Pilanesberg-natuurreservaat in Noordwes teen R65 vir volwassenes en R20 vir kinders. Miskien sien jy selfs die Groot 5!