Hanteer konflik reg

Deur Martie Lancellas, SARIE - Oktober 2007

Skram jy weg van konfrontasie omdat dit so onaangenaam kan wees? Probeer ’n ander benadering en kyk watter verskil dit maak

Vandág is die dag dat jy jou kollega trompop loop, want haar projek is al wéér laat. En daar sit en klets sy op die foon terwyl haar werk al twee dae gelede klaar moes wees. Sy voel duidelik vere vir jou gesag.

Vasberade stap jy haar kantoor binne. Maar vyf minute later is jy terug, effe oorbluf. Jy het háár so pas om verskoning gevra omdat jy druk op haar sit.

Want jy vermy konfrontasie. Jy bewaar liewers die vrede. Dalk dink jy konfrontasie is altyd “sleg”. Of jy probeer dit wegredeneer.

Maar konfrontasie kán positief en bevrydend wees, en tot almal se emosionele groei bydra - mits jy “volwasse” optree. Dikwels kom die kind in ons na vore wanneer ons konflik moet hanteer - die bang kind wat magteloos voel en onttrek; die befoeterde tiener wat aanval: “Moenie vir my vertel wat ek moet doen nie!”; of die nar wat die situasie met ’n grappie probeer ontlont. Maar dit lei nie tot ’n oplossing nie - dis net nóg ’n verdedigingsmeganisme.

Faktore soos kultuur, geslag, kennis, ondervindings, indrukke, kinderjare en persoonlikheid laat ons elkeen deur ons eie filter of “gekleurde” bril na die lewe kyk. En op grond hiervan maak ons sekere aannames. Jy sien byvoorbeeld iemand frons en herken dit as iemand wat “kwaad” is vir jou.

Hy is dalk aan die wonder oor iets anders, maar jy dink dadelik jy het gefouteer. Jy voel verwerp, verdedig jouself of raak verskonend.

Probeer ’n slag ’n ander benadering. Voordat jy ’n moeilike gesprek begin, speel eers klaar met sulke aannames, want dit weerhou jou daarvan om iemand sinvol te konfronteer.

Daar is 4 stappe wat jy moet volg. Jy sal dalk aanvanklik sukkel, omdat ons nooit geleer het om so te praat nie. Dit verg oefening. Werk eers self daardeur. Skryf dit neer - skei die feite, emosies, aannames en reaksies om objektief te kan wees. Gebruik dié stappe dan weer in die gesprek.

DIE 4 STAPPE

* Wat is die feite?
Wat het régtig gebeur? Jou emosies, aannames en beskuldigings is nie ter sprake nie: Die sperdatum was Woensdag. Dis Vrydag en haar werk is nie ingegee nie.

* Hoe voel jy regtig?
Identifiseer jou emosies en skei dit van jou aannames: “Ek voel regtig kwaad” of “Ek voel magteloos”.

* Hoe interpreteer jy dit?
Wat beteken dit vir jou? Watter aannames of gevolgtrekkings het jy gemaak? Dalk het jy dadelik gedink: Sy dink ek is nie belangrik genoeg om na te luister nie. Of: Net ék werk hard, niemand gee om nie. Toets dit by haar: “Toe jy nie jou opdrag ingegee het nie, het ek aangeneem jy neem my nie werklik ernstig op as jou projekleier nie.” Só gee jy haar kans om saam te stem of nie. Sy is dalk verstom - dalk was haar siek dogter die oorsaak. Dis belangrik dat jy die aannames as joune toeëien, eerder as om haar te beskuldig en sonder respek te behandel. As jy bv. sê: “Jy voel vere vir my gesag,” beskuldig jy haar, eerder as om jou aandeel in die konflik te erken.

* Wat moet die uitkoms wees?
Kry ’n oplossing. Stem in: “Goed, ek besef dis spesiale omstandighede. In die toekoms wil ek hê jy moet my betyds sê sodat ek ’n plan kan maak. Ek wil nie hê dit moet weer gebeur nie.” Laat sy sê wat sy van jou verwag. Wees groot genoeg om na haar te luister. Selfs wanneer jy ’n moeilike baas konfronteer, hóú by jou stappe. Sy gedrag moenie jou reaksie bepaal nie. Aanvaar net vir jou eie aandeel verantwoordelikheid. Oorweeg die hulp van ’n fasiliteerder as ’n oplossing julle bly ontwyk.

* Dr. Martie Lancellas is ’n emosionele intelligensie-kenner en meester-lewensafrigter van Strong Foundation, www.strongfoundation.co.za; 021 975 1794.

 

Konflik word ideaal opgelos as julle . . .

* direk kommunikeer (nie per e-pos, SMS of telefonies nie) * met empatie luister * jul gevoelens en gedagtes kan uitdruk * mekaar se gevoelens en behoeftes respekteer * dieselfde “mag” het (niemand is bang of oorafhanklik nie) * dieselfde einddoel het: dat almal wen * albei afgekoel het * mekaar nie beskuldig, verneder of slegsê nie

 

Verwante artikels

Web Development by FormFunction