Werk + geld

Help, dit is vakansie!

Hugo Theron Kaapse kliniese sielkundige se raad:

Die natuurlike spanning tussen werk en die ander dele van ons lewe is nie nuut nie. Sigmund Freud, die vader van psigoanalise, het reeds teen die vorige eeuwisseling gesê al wat die lewe die moeite werd maak, is “liefde en werk”.

Werk het ’n blink- én ’n skadukant: Dit kan ’n reusebydrae tot jou fisieke en psigiese lewensgehalte lewer, maar ook ’n groot bron van spanning wees. Daar is ’n fyn lyn tussen wat goed is en wat skadelik kan wees, veral as jou werk ’n groot deel uitmaak van hoe jy
jouself definieer.

’n Uitdagende werk waarin jy goed is, kan baie energie toevoeg tot jou daaglikse bestaan. Maar baie keer veroorsaak die stres dat jou liggaam konstant hoë vlakke van streshormone soos kortisol en adrenalien afskei. (Al ervaar jy dit subjektief as positief.)

Dis op die lange duur nadelig vir jou immuunstelsel. Jy raak gewoond aan die gevoel van dryf en aan die gang wees wat adrenalien jou gee, maar jy’s dalk nie bewus daarvan dat jou liggaam eintlik swaar trek nie. As die vakansie aanbreek en jy ontspan (jou liggaam skei dan minder streshormone af), kan jy siek word en terneergedruk voel.

Dit klink of jy nie genoeg balans het nie en of jou streshormone ’n wesenlike impak op jou liggaam het, insluitend jou brein se chemie. Dit veroorsaak simptome soos verhoogde angsvlakke en geïrriteerdheid waarvan jy eers bewus word as jy weg van die werk is.

Vakansie hou is belangrik. As jy nie ’n behoorlike blaaskans neem nie, sal die stres jou uiteindelik inhaal. Die simptome kan na jou werk toe oorspoel.

Die antwoord lê onteenseglik in balans. Gereelde ontspanning met goeie sosialisering, dieet en oefening beteken dat die highs en lows tussen werk en vakansie nie so hoog is nie.

[box:full:grey:both]

Wenke

[/box]

  • Moenie te hoë verwagtinge van jou vakansie koester nie.
  • Jy het dalk verhoudingsprobleme en gebruik jou werk as verskoning om te vlug. Los dié probleme op voor jy met vakansie gaan.
  • Indien gaste gedurig by jou wil kom afpak, sê vooraf reguit jy is doodmoeg en sal hulle nie dié vakansie kan huisves nie.
  • As jy nie vanjaar kans sien vir daardie familiebyeenkomste nie, vlug na ’n vakansiebestemming. Sê vir jou familie jy en jou gesin het nodig om tyd aan mekaar af te staan.
  • Laat vaar familietwiste of -vooroordele. (Al is dit net vir die duur van die vakansie!)
  • As die Kersmaal by jou huis is, vra elke familielid om ’n gereg te bring.
  • As jy Kerstyd met verlies vereenselwig, soos die dood van iemand na aan jou, of ander trauma, sê vir jouself dis natuurlik om dan af te voel. Maak tyd vir rou en huil.
  • As jy jou verbeel jou werk is al wat betekenis aan jou lewe gee, reik uit. Raak byvoorbeeld by liefdadigheid betrokke.
  • As jy jou elke feestyd oor geldsake bekommer, besluit vooraf wat jy kan bekostig. Moenie jou geskenk- of kosbegroting oorskry nie.
  • Beplan ’n paar projekte/lekker dinge net vir jouself. Loop dié vakansie kunsklasse, werk deur daardie lys boeke waarby jy nooit uitkom nie en maak tyd vir jou stokperdjie.
  • Oefen, rus en slaap genoeg.
  • Moenie te veel alkohol drink of ongesond eet nie. Dit kan jou meer terneergedruk laat voel.
  • As Kersmusiek jou depressief maak, vervang dit met klassieke musiek of jazz.
  • As jy bekommerd is oor jou troeteldiere, reël lank voor die tyd goeie verblyf vir hulle. Reël ook dat iemand ’n ogie oor jou huis en tuin hou.
  • As dit vir jou stresvol is om weg te gaan bly vanjaar tuis. Niemand dwing julle om weg te gaan nie.
  • Maak vanjaar self jou Kerskaartjies en -geskenke.
  • As jy nie van besige winkelsentrums en ’n gejaag hou nie, bly weg. Doen jou Kersinkopies maande voor die tyd.
  • Geniet die vars lug en natuurskoon