hey girl ryan gosling
Werk + geld

#9tot5: Hier’s jou middel-van-die-jaar-motivering!

Voel jy of dit eintlik al Desember moet wees? Is jy nie meer gefokus by die werk nie en gesels jy al meer met die kollegas om jou? Is jy deesdae baie op jou selfoon en allerhande webtuistes? Toemaar, jy is nie alleen nie. Soos baie ander beroepsmense kort jy net ’n bietjie motivering vir die tweede helfte van die jaar.

Hier’s ’n paar wenke om jou te motiveer vir die res van 2016. Almal se lus vir werk kwyn soos ons die maande aftel na Desember; moenie dink dat jy alleen is nie. Ek hoop een van dié wenke verander jou gevoel oor jou werk en bring daardie lus terug!

Maak ’n lysie

Ms. Career Girl stel voor jy maak ’n lysie van die dinge wat jy deur die dag moet doen. Stel die lysie op voordat jy jou e-posse oopmaak. Op dié manier verseker jy dat alles wat in jou kop is en alles wat jou pla, eerste op jou doenlysie is.

Fokus daarop om jou lysie eerste af te handel, vóór ander mense ook nog vir jou takies gee. Jy gaan gemotiveerd voel as jy jou eie werk afhandel en met jou pen op die lys kan doodtrek.

FOTO: Unsplash (William Iven)

FOTO Unsplash (William Iven)

Doen iets nuuts

Het jy geweet Nicole Kidman is mal oor tuinmaak, of dat Beyoncé hou van realiteitsprogramme en dat Anna Wintour haar dag met tennis begin? Al hierdie suksesvolle vroue het iets wat hulle in hul vrye tyd doen om hul gedagtes van hul werk af te vat (lees hier).

Jy het hard gewerk vir 6 maande, en nou lê daar nog 6 maande voor. Jou moegheid is te verstane. Soek na ’n stokperdjie wat jou sal interesseer as jy by die huis kom en waarin jy weer van voor af ’n student kan wees. Wat van nuwe resepte uit ’n kookboek, bordspeletjies of brei-werk?

Oefen

Dit is iets waarvan ons almal weet en waarvan ons heeltyd hoor, maar doen ons dit? Oefeninge sal jou kop en jou lyf ’n gesonde en positiewe boost gee.

Oefeninge hoef ook nie al jou tyd op te neem nie. Lees hier vir oefeninge wat net 12 minute van jou dag gaan neem. Oefen is lankal nie meer net hardloop of gimnasiumsessies nie. Daar is soveel meer meer keuses as in die verlede en jy kan iets kry wat vir jóú werk. Die televisiekanaal Via het onlangs gesels oor al hierdie oefen-trends. Oefen saam met iemand, oefen alleen of oefen met die hulp van jou selfoon!

FOTO: Unsplash (Christopher Campbell)

FOTO Unsplash (Christopher Campbell)

Herevalueer: Gaan terug na jou begin

Dit is belangrik om tyd in jou jaar te maak om te besin oor jou vordering in jou beroep, jou geluk en jou doelwitte. Career Contessa stel voor dat jy sit en weer vir jouself vra “hoekom”. Die antwoord op dié vraag sal dit weer vir jou duidelik maak hoekom jy hou van jou werk, hierdie loopbaan gekies het en wat jou droom was en is.

Navorsing wat in die Harvard Bussiness Review gepubliseer is, het bewys dat werkers wat dagboeke hou en skryf oor hul suksesse (al is dit hoe klein) baie gelukkiger is en dat hierdie oefening jou bui opkikker en produktiwiteit verhoog.

Volg ’n mentor

Sosiale media maak dit maklik om jou rolmodelle te volg of daagliks geïnspireer te word deur webtuistes en hul wenke.

Ek stel Career Contessa en TED-video’s voor. Career Contessa kan jy ook op Instagram volg waar hulle elke dag kort wenke deel en jou op hoogte hou van nuwe artikels op hul webtuiste.

En as jy nog nie TED se video’s ken nie, klik sommer dadelik hier vir ’n video wat handel oor hoe motivering werk. TED se video’s van kenners word die wêreld oor opgeneem en gaan oor enigiets van hoe die diereriem-kalender (zodiac) werk tot hoe jy kan weet dat ’n kind jok.

As niks werk nie, is daar altyd die Ryan Gosling-memes

ryan gosling hey girl ryan gosling hey girl

Lees ook

#9tot5: Skrap hierdie 10 slegte kantoorgewoontes

#9tot5: Só kry jy daai werk

Spaar soos ’n millennial!

Kom hekel saam – Blok 1