sr1112kos
Werk + geld

Hoe kom ek uit die rooi ná die feestyd?

Danelle van Heerde – aktuaris, Sanlam Persoonlike Finansies, Kaapstad

Hou op om jouself te verkwalik dat jy te veel bestee het – onthou eerder die lekker van die vakansie en fokus op die nuwe jaar. Kyk opnuut na al die uitgawes wat jy in Januarie moet dek. Prioritiseer dit volgens belangrikheid en op watter datum rekeninge betaal moet word.

As jy nie al jou noodsaaklike uitgawes kan dek nie, vind uit of jy sommige later kan betaal. As jy skuldbetalings het wat jy nie kan bybring nie, kontak die diensverskaffer (bv. die winkel) vroegtydig en reël dat jy minder betaal – moenie sommer net betalings mis nie, aangesien dit jou kredietwaardigheid negatief kan beïnvloed.

Moenie geld uitgee op luukshede wat jy nie nou kan bekostig nie. Stel ’n maandelikse begroting vir
die res van die jaar op. Jou begroting moet realisties wees, anders sal jy nooit daarby kan hou nie. Onthou om ook vir ongereelde uitgawes voorsiening te maak (bv. jaarlikse motorlisensiegeld).

Tref in jou begroting ’n onderskeid tussen noodsaaklike en luukse uitgawes. Jy kan luukse uitgawes
aanpas wanneer daar onvoorsiene uitgawes opduik. Hou boek van al jou aankope en betalings sodat jy kan sien waarop jy jou geld bestee. Dit is baie keer die klein luukshede wat veroorsaak dat
jou begroting nie wil klop nie! (Kyk ’n bietjie wat is die groottotaal as jy al daardie aankopies bymekaartel.)

’n Paar klein aanpassings kan ’n groot verskil aan jou maandelikse uitgawes maak: Vergelyk pryse, pak jou eie middagete in werk toe, nooi vriende vir ete eerder as om uit te eet, beplan jou etes vooruit en koop streng volgens jou lysie.

Wees versigtig vir skuld. Gebruik skuld vir groot uitgawes soos ’n huis en motor, maar gebruik kontant vir dag-tot-dag-uitgawes. As jy reeds korttermynskuld het, probeer om meer as die verpligte maandelikse bedrag te betaal. So kan jy baie op rente spaar.

As jy ’n kredietkaart gebruik, betaal sover moontlik elke maand die volle uitstaande bedrag, want rentekoerse op kredietkaarte is besonder hoog. Maak seker jy spaar elke maand sodat jy nie volgende jaar weer in hierdie situasie beland nie. Bepaal hoeveel jy graag wil spaar en sit dit dadelik opsy sodra jy jou salaris of inkomste kry.

Maak nie saak hoe klein nie – elke bietjie help. Bou ’n noodfonds op wat jy kan gebruik vir groter, onbeplande uitgawes, soos om jou motor te laat herstel.’n Algemene riglyn is om vir tussen drie en ses maande se uitgawes voorsiening te maak. Gebruik ’n produk soos ’n geldmarkfonds of spaarrekening waar jy vinnig toegang tot jou geld kan kry en jy nie blootgestel is aan markskommelings nie.

Wat betref die tweede deel van die vraag: Die geld wat ons spaar, maak ’n groter bydrae tot die land se ekonomiese gesondheid as die geld wat ons uitgee, juis omdat dit gebruik word om beleggings en ontwikkeling te finansier. Dit is ook nie goed vir die ekonomie as ons skuld maak om dag-tot-dag-uitgawes te dek nie.

Huishoudings en maatskappye met gesonde finansies is die grondslag vir ’n gesonde ekonomie. Jy kan dus jou deel doen vir die land deur kapitaal op te bou deur middel van eiendomme en beleggings, versigtig geld uit te gee en oordeelkundig skuld aan te gaan.