Werk + geld

Hoe om jou werk te bedank

Sy’s een van die mees senior vroue in die SA bankwese. Maar Venete Klein, uitvoerende direkteur van Absa Kleinhandelsbank in Johannesburg, sou nooit gekom het waar sy vandag is as sy nie ’n hele paar keer van werk verander het nie.

Om uit jou werk te bedank is nooit ’n maklike besluit nie. Jy kan jouself móég twyfel: Hoe weet jy jy doen die regte ding? Sê nou dis nét so sleg by die volgende plek, of jy vorder daar stadiger? Is jy nie te oud om iewers anders te begin nie? En as jy jouself weer kom kry, is jy nog steeds net waar jy is. Net om oor ’n maand of twee weer te wonder…

Haar besluit om aan te beweeg was elke keer reg, sê Venete. “Dis iets wat jy in jou siel aanvoel.”

Vir dié dinamiese sakevrou, ’n boorling van die Kaapse Vlakte, is dit belangrik om passie te hê en gelukkig te voel in jou werkomgewing. “Jy kan net jou vlerke gebruik om te vlieg as jy die regte wind het om jou te dra,” sê sy.

Haar loopbaan het sowat 30 jaar gelede nederig begin toe sy as junior beampte by ’n bank in Kaapstad

Moet ek bedank?

Kenners sê, vra jouself eers die volgende vrae af:

  • Is daar nuwe vaardighede wat ek moet aanleer om my te bring waar ek wil wees?
  • Kan ek die vaardighede by my huidige werk aanleer, of moet ek dit iewers anders gaan doen?
  • Maak my werk my nog opgewonde of bring dit maar net geld in?
  • Voeg ek nog waarde toe?
  • Het ek reeds my kort- en langtermyndoelwitte bereik?
  • Het ek al alles van die  pos, die omgewing waarin ek werk en die bedryf geleer?
  • Het ek alle moontlikhede ondersoek om in my huidige omgewing te vorder
  • Is daar nog uitdagings of doen ek my werk met my oë toe?
  • Kan ek nog identifiseer met my taak, my kollegas en die organisasie se leierskap en waardes?
  • Is die werk nog bevorderlik vir my loopbaan, of stagneer ek of gaan selfs agteruit?
  • Wil ek nog presteer of verlam my werk my eerder?
 

aangestel is. Daarna het sy geleenthede aangegryp en “met geduld en inspanning” die beroepsleer geklim. Maklik was dit nie, veral nie in apartheidsdae nie, maar sy was vasbeslote om bo uit te kom. Toe daar nie genoeg kanse was om te vorder nie – veral nie vir bruinvroue nie – het sy die selfvertroue gehad om nuwe moontlikhede te soek en elke keer te leer en te groei.

Tog het sy ook altyd seker gemaak sy maak nie deure agter haar toe wanneer sy van werk verander nie. Sy het goeie verhoudinge gebou en behou. Kwade gevoelens baat jou niks, glo sy. Veral in Suid-Afrika, wat maar ’n klein sakegemeenskap het. Vandag word sy nasionaal en internasionaal gerespekteer. Sy help met die herformulering van Suid-Afrika se bankwette en is ook die eerste vrou wat in die Afrikaanse Handelsinstituut se Uitvoerende span as vise-president dien.

Jy máák jou loopbaan en net jý stap die pad, beaam Anelle Simonis, senior loopbaankonsultant by die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool.Selfs al dink jy nie jy doen so ’n belangrike werk nie, moet jy jou loopbaan bestuur. Die woord career kom juis van die Frans-Romeinse woord carraria, wat “pad” beteken. Soms is dié paadjie onvoorspelbaar, of jy voel dit loop dood. Maar probeer so goed moontlik op koers bly, sê dr. Zani Dannhauser, bedryfsielkundige aan die Universiteit Stellenbosch.

Moenie vasklou aan die outydse siening dat jy ’n rolling stone is as jy van werk verander nie.

Hoe gereeld jy dit doen, hang af van mens tot mens – solank jou loopbaan uitdagend bly en jy groei. “En jy móét voel jy lewer ’n bydrae en dat jou werk betekenis het,” sê Zani.

Hoe bestuur jy jou loopbaan? Vra jouself eers af: Wat wil ek nog bereik? Stel dan realistiese, haalbare doelwitte. Jy kan byvoorbeeld nie verwag om dadelik bevorder te word nie. Sodra jy die doelwitte behaal het, stel nuwes of beweeg aan. “Maak net seker daar’s ’n logiese patroon in jou loopbaanvordering op jou CV,” sê Anelle.

Dit moenie lyk of jy sonder ’n plan rondval tussen werke nie.

Moet ook nie in dieselfde pos bly net omdat jy bang is vir risiko’s nie. Só gaan geleenthede verby. Miskien onderskat jy jouself, of jy’s te lojaal of bekommerd oor jou baas se reaksie, daarom doen jy nie vir ander poste aansoek nie. Of jy glo liewer ’n bekende as ’n onbekende ergernisMaar dit kan veroorsaak dat jy stagneer en nie jou potensiaal bereik nie.

 

“Jy máák jou loopbaan, en net jy stap die pad” – Anelle Simonis, loopbaankonsultant

Daar is ’n paar algemene redes vir bedanking, sê Anelle. Dalk voel jy jy’t ’n plafon bereik. Jy wil nuwe uitdagings aanpak, maar jy vaar so goed in jou huidige pos dat jou hoof jou daar wil hou. Of jy voel jou bydrae word nie meer waardeer nie. Dalk pas jou huidige pos nie meer by jou loopbaanbeplanning in nie of jy het bloot ’n beter aanbod gekry. ’n Salaris wat te min is of ’n moeilike baas laat mense ook skuif – veral as die werk boonop met hul gesinslewe inmeng of te stresvol is.

Wanneer jy wel verandering oorweeg, vra jouself eers ’n paar eerlike vrae (hierbo). Dis belangrik dat jy vir die régte redes skuif.

Hierdie foute het ek gemaak

Sonja du Toit (skuilnaam)van Johannesburg sê sy het dié fout gemaak en het – tydelik – verkeerd besluit.
“Ek het as kopieskrywer bedank om grimering te bemark, want ek was uitgeput en het lelik gevoel. Maar ek het nie in die produkte geglo nie, ek verpes teepartytjies en het die kreatiwiteit van kopie skryf geweldig gemis.”
Sy’t na haar ou loopbaan teruggekeer en skryf nou met nuwe geesdrif.

Dit het ek reg gedoen

Edmund Terblanche het die regte vrae gevra en toe besef sy werk – parke- en rekreasiebestuur vir munisipaliteite – pas nie by hom nie. Van skooldae af wou hy eerder wyn maak, maar toe luister hy na ’n dosent in parke- en rekreasiebestuur wat ’n rooskleurige prentjie oor dié rigting geskets het.

Vir sommige mense kan dit ’n lekker werk wees, maar Edmund het te laat besef dit pas nie by sy persoonlikheid en voorkeure nie. Hy hou van fokus en sy werk was te “wyd”.

Hy moes meestal personeel bestuur en het te min buite gewerk. En daar was die reëls en regulasies en die politiek van plaaslike owerhede wat hom ondergekry het. Nogtans was dit vir hom ’n moeilike besluit om ná vyf jaar te bedank en keldertegnologie te gaan studeer. Hy het skielik nie meer ’n salaris gekry nie, maar het beter in sy studies gevaar as ooit tevore.

Die verligting was groot, sê hy.

“’n Vreemde, nuwe motivering het in my are gevloei.“ Vandag is hy wynmaker op La Motte by Franschhoek. Dis ’n hoogtepunt om sy eie wyn in sy hande te hou en te proe.

Hoe gemaak as jy ’n werk doen waarvoor jy tog passie het, maar jou humeurige baas, die klein salaris of te min geleenthede maak dit vir jou moeilik om te bly?

  • Probeer dit eers oplos, sê Anelle. Vra byvoorbeeld oor bevordering of dat jou pos uitgebrei word. As jou baas self die probleem is, praat ook eers met hom of haar. Dalk het julle net verkeerde persepsies van mekaar.
  • Soms is dit die moeite werd om met ’n moeilike baas uit te hou, veral as jou werk nog waarde tot jou lewe voeg. Maar oorweeg dan steeds ander opsies.
  • Bou vir jou ’n vertroulike netwerk op wat jou sal laat weet van werkgeleenthede.
  • Beplan jou gesprek met jou baas. Kies jou tyd reg. Jou prestasie-evaluasiegesprek is dalk ideaal.
  • Moenie met ’n houding instap nie en sorg dat jou emosies onder beheer is. Dit moenie ’n kla-sessie wees nie, sê Anelle.
  • Wees professioneel en gee voorstelle vir oplossings.
  • Wanneer dit by doelwitte kom, kan jy byvoorbeeld sê: “Ek kan ongelukkig nie hieraan voldoen sonder spesifieke opleiding nie.” Dan is jy pro-aktief en konstruktief.

As jou baas nie bereid is om te luister nie en jy is seker niks gaan verander nie, bespreek jou probleme met mense hoër op

Maar as jy verskeie kere jou ontevredenheid op ’n professionele manier onder almal se aandag gebring het en dit help nie, oorweeg bedanking. Neem dan die besluit met jou kop, nie jou hart nie. Want voor jy ’n nuwe pos oorweeg, moet jy eers jou eie behoeftes goed ken, sê dr. Pieter Koortzen, konsultantsielkundige van Resolve Encounter in Gauteng, wat onder meer in loopbaanbeplanning spesialiseer.

Vra jouself wat jy uit die nuwe werk wil hê.

  1. Hoe belangrik is geld of fleksietyd vir my? Skryf als neer.
     

     “Ken jou behoeftes voor jy ‘n nuwe pos oorweeg” – dr. Pieter Koortzen, konsultant-sielkundige

     

  2. Vra dan tydens die onderhoud oor die posinhoud.
  3. Vind uit wat jou presiese verantwoordelikhede sal behels.
  4. Is dit realisties?
  5. Sal jy jou werk én gesin kan hanteer?

Die werk moet interessant en uitdagend wees. Neem verryking en groei in ag. Kyk byvoorbeeld na opleidings- en bevorderings-geleenthede. Dis ook baie belangrik dat die kultuur van die organisasie met jou waardes moet ooreenkom. “Anders kan jy interne konflik en angs ervaar,” sê Pieter. “Jy moet kan identifiseer met die organisasie se doelwitte en manier van werk.”

Is die pakket lonend genoeg vir wat jy sal moet insit?

“Moenie jouself te kort doen nie,” sê hy.

Kyk na die byvoordele: Kwalifiseer jy vir ’n pensioen- en siekefonds, is daar ander aansporings, kry jy ’n
13de tjek en motorvoordele, of kan jy aandele koop? En hoe vergelyk dit met jou huidige pos?

“Dalk kry jy minder betaling, prestige of bevorderingsmoontlikhede, maar meer tyd, groter vryheid en ’n geleentheid om ’n wesenlike bydrae te maak,“ sê Anelle. Besluit wat vir jóú belangrik is en neem ’n ingeligte besluit. Jou werk is immers ’n belangrike deel van jou lewe. Dis belangrik dat jy jouself daarin kan uitleef.

Doen dit so!
  • Voor jy bedank, moet jy ‘n skriftelike aanbod van jou nuwe werkgewer kry.
  • Vind uit hoe jou maatskappy sebedankingsbeleid werk en gee betyds kennis.
  • Moenie impulsief of wanneer jy kwaad is, bedank nie. Jy wil nie brûe verbrand nie: ‘n Mens weet nooit wanneer julle weer moet saamwerk nie! Bedank vreedsaam en beklemtoon die positiewe, soos dat jy persoonlike ontwikkelingsbehoeftes het.
  • Onthou om te onderhandel oor uitstaande betalings soos ‘n pro-rata bonus, kommissie of verlof-uitbetalings.
  • Moenie jou nuwe pos as afdreigmiddel vir ‘n hoër salaris gebuik nie, waarsku Anelle Simonis, senior loopbaankonsultant aan die Universiteit Stellenbosch se Bestuurskool. As jou baas jou wel ‘n beter aanbod maak, vra jouself hoekom jy in die eerste plek wou bedank en of jou baas se aanbod by jou loopbaanbeplanning inpas. Indien wel, kry dit op skrif voordat jy ja sê. Loopbaankundiges reken egter jy moet baie mooi dink voordat jy so ‘n teen-aanbod aanvaar. “In die meeste gevalle hou dit mense in elk geval nie veel langer tevrede nie,” sê dr. Zani Dannhauser, bedryfsielkundige aan die Universiteit Stellenbosch. Jou kollegas sal dalk ook wonder of jy nog toegewy is aan jou werk.
  • As jy mondeling kennis gegee het, moet jy dit ook op skrif plaas vir jou direkte hoof en die personeelafdeling. Hou jou brief kort en saaklik. Gee die datum van jou laaste werkdag. Jy kan ook jou hoof bedank, maar hou dit professioneel. Dis ‘n amptelike dokument – jy kan altyd later ‘n meer persoonlike brief skryf as jy wil.
  • Handel projekte af in jou kennismaand(e) en gee ‘n vorderingsverslag aan jou bestuurder. Bied aan om jou opvolger op te lei, of help die maatskappy om ‘n geskikte plaasvervanger te vind.
  • Moet jou nie skaar by kollegas wat ontevrede is oor hul werk en nou by jou wil kla nie, waarsku Zani. En moenie sê jy’s nou beter daaraan toe as hulle nie. Jul loopbaanpaaie kruis dalk weer. Bedank hulle en kry hul kontakbesonderhede, ook diegene met wie jy weer kan saamwerk. En onthou: Jy wil verwysings hê vir die toekoms. As iemand anders jou baas bel, moet hy of sy glad nie huiwer om jou aan te beveel nie!
  • Daar lê vir jou ‘n opwindende tyd voor, maar doen eers ‘n bietjie selfondersoek sodat jy nie ou foute in jou nuwe werk herhaal nie.