mood werk lees nou
Werk + geld

Hoe vra jy vir ’n groter salaris?

Soms is jy jare lank tevrede met ’n klein salaris. Veral as werkbevrediging vir die min geld vergoed. Maar op ’n dag voel jy genoeg is genoeg. ’n Groter salaristjek, glo jy, gaan vir seker help om jou weer met nuwe ywer te laat werk. 

Elsabé van der Schyff, bedryfsielkundige van Pretoria, reken dit is normaal. Alle mense het ’n behoefte aan erkenning, ook geldelik. Veral deesdae, waar almal die swak ekonomie aan hul sak voel.

Organisasies wat in hul mense belê, besef hulle moet elke werknemer se unieke potensiaal identifiseer en hulle help om dit te bereik. ’n Goeie salaris en merietebonusse is uitstekende motiveerders.

“Dit maak beslis sin dat jy jou posisie by ’n maatskappy heroorweeg as jy deurlopend ’n gebrek aan erkenning [ook byvoordele soos ’n motortoelae] ervaar.”

Monene Murray, sakekonsultant van Durbanville, sê meer geld kán weer nuwe woema in jou werk sit, maar sy glo jy moet dit omsigtig benader. Sy stel voor jy maak ’n afspraak met jou baas. (Dit is onvanpas om uit die bloute in ’n e-pos ’n hoër salaris te vra.)

“Doen jou navorsing baie goed. Stel vas wat markverwante salarisse is deur te kyk na soortgelyke poste wat geadverteer word. Sit jouself in jou baas se skoene en probeer dink wat hy/sy vir jou sou wou vra. Dit help natuurlik altyd as jy iemand is wat goed presteer,” sê sy.

Sy meen ook dit is ’n goeie idee om die gesprek te begin deur te sê hóékom jy meen jy behoort ’n hoër salaris te verdien. Verwys byvoorbeeld kortliks na ’n paar van jou prestasies in die verlede en noem dan markverwante salarisse (net om dinge in konteks te plaas). Dít is veral raadsaam as ander mense in soortgelyke posisies meer as jy verdien.

Bly kalm, al voel jy dalk emosioneel oor die kwessie. Dit sal jou saak versterk. Vra ook aan die einde van die gesprek vir jou bestuurder wat hy/sy nodig het om jou versoek uit te voer. (Byvoorbeeld afskrifte van kursusse wat jy geslaag het.)

Nóg oor werk en geld