Werk + geld

Hou op kritiseer

Die werknemers van ’n maatskappy kry ’n e-pos: Die persoon wat hul persoonlike groei belemmer het, is dood. By die begrafnis drom almal saam om te sien wie dit is. Hulle is verbaas om ’n spieël in die kis te sien.

Die les:

Jy is dikwels self jou grootste vyand. En een manier hoe jy jouself saboteer, is om te krities teenoor ander én jouself te wees. Die oorsaak lê by hoe krities jou ouers, onderwysers en ander belangrike mense in jou lewe teenoor jou is of was. Dalk was jou ouers nooit tevrede met enigiets wat jy gedoen het nie. Hulle het jou miskien nooit erkenning of komplimente gegee nie.

En nou doen jy dieselfde met ander mense. Die samelewing se klem op sukses en prestasie skep ook onrealistiese verwagtinge. As jy nie een van die slim kinders op skool was nie, glo jy dalk jy is gemiddeld of tweede beste.

En dit word die verwysingsraamwerk waarvolgens jy jouself en ander beoordeel. Jy voel nutteloos en waardeloos. Jy breek ander af sodat jy beter oor jouself kan voel. Jy het miskien nie veel om jou op te roem nie, maar hulle is ook nie te watwonders nie, troos jy jouself. Jy is dalk só krities teenoor ander dat hulle wye draaie om jou gooi. Jy loop dus nie die gevaar dat hulle jou óók gaan verwerp nie.

Aanvaar en geniet jou uniekheid. Waardeer ook ander mense s’n.

WAT KAN JY DOEN?

  • Raak bewus van hoe krities jy teenoor ander is. As jy met iemand gesels het, kyk watter gedagtes oor hom/haar gaan daarna deur jou kop. Gebruik ook ander mense as klankbord. Hulle kan jou terugvoer gee as jy oorkrities is.
  • Probeer dié negatiewe patroon breek. As jy besef jou gedagtes neig na die negatiewe, fokus op iets kleins van dié mens wat positief is.
  • Is dít wat jy glo van hom/haar die volle waarheid? Jy “lees” iemand se gedagtes en glo hy/sy bedoel iets anders as wat hy/sy sê. En dan maak jy subjektiewe afleidings. Jou baas groet jou nie hartlik genoeg nie en jy besluit dadelik hy/sy is vir jou kwaad. Maar dalk is hy/sy net ingedagte.
  • Jou brein reageer op jou insette. As jy dit lank genoeg met negatiewe inligting peper, sal dit later outomaties net op negatiewe dinge fokus.
  • Neem ’n wilsbesluit om nie iets slegs van iemand anders te sê of te dink nie.
  • Aanvaar en geniet jou uniekheid. Raak ook bewus van ander mense se uniekheid en waardeer dit. Moenie iemand evalueer op grond van een ding wat hy/sy verkeerd gedoen het nie. Of op grond van net een kriterium nie, soos ras, geslag, kultuur, geleerdheid, godsdiens, beroep, ens.
  • Vergewe ’n slag jouself en ander mense. Ja, daardie mens het jou dalk seergemaak en teleurgestel. Maar met hoeveel mense het jý dit al gedoen?
  • Moenie te vinnig oordeel nie. Jy weet nie altyd hoekom iemand op ’n sekere manier optree nie. As jy die groter prentjie sien, verstaan jy dalk sy/haar optrede beter.
  • Jou oorkritiese houding is dikwels ’n aanduiding van hoe jy oor jouself voel. Mense wat gemaklik met hulself is, is minder krities teenoor ander. Belê in persoonlike groei en werk aan jou selfbeeld. Kry vir jou ’n mentor of leefstyl-afrigter. Daar is ook goeie boeke oor selfbeeld beskikbaar.
  • Doen selfondersoek. Wat in jou verlede het tot jou kritiese houding bygedra? Meer en meer mense besoek ’n sielkundige om hulself van die verlede te bevry.
  • Vra jouself af: As ek nóú op my sterfbed lê, sal ek nog so krities teenoor myself en ander wees?

 

5 kritiese denkfoute

  • Jy fokus op mense se foute, terwyl jy hul positiewe eienskappe ignoreer.
  • Jy hang etikette om hul nekke en noem hulle allerhande name as hulle iets verkeerds doen: “Sy’s ’n aap.” “Sy’s dom.”
  • Jy fokus op alles wat verkeerd kan loop en verwag altyd die ergste.
  • Jy sien die lewe in swart en wit: Jy is nie buigsaam nie en dit versterk jou oorkritiese houding.
  • Jy maak negatiewe veralgemenings op grond van beperkte bewyse.