Werk + geld

Jou werk: Is jy te oud? Dalk te jonk?

Verby is die dae toe base almal ouer as 40 was.

As jy destyds ‘n grootbaas geword het vóór 40 het jy die koerante gehaal! Deesdae is die werkplek ‘n mengelmoes van jonk en oud – in enige pos.

Die groot uitdaging is om relevant te bly in jou beroep en tussen jou kollegas, ongeag jou ouderdom.

Jong mense moet kan meeding én op gelyke vlak sosialiseer met mense ‘n paar dekades ouer as hulle. Soms moet hulle dié mense selfs bestuur.

Ouer mense moet eweneens bybly met verandering, vernuwend kan dink en iets van die voortvarendheid en vreesloosheid van hul jeug behou.

Want verandering is deesdae die wagwoord in die sakewêreld – maak nie saak in watter bedryf jy werk nie. Niks bly vir lank dieselfde nie.

“Jy moet jouself reg instel en bereid wees om risiko’s te neem, iets nuuts te probeer,” sê Neil Jacobsohn, medeuitvoerende hoofbestuurder van FutureWorld in Johannesburg, wat ondernemings help om die toekomstige sakekonteks te verstaan.

Al pas jongmense soms makliker aan by verandering is daar vir hulle ‘n eie stel uitdagings.

Op net 22 het HERMAN LENSING kosredakteur van SARIE geword. Hy is ‘n opgeleide sjef met ervaring as kosassistent.

Herman se hoofverantwoordelikheid is om “saam met ons lesers te kook en hulle te inspireer”. Maklik is dit nie wanneer hy in kos-en-wyn-kringe moet hoor “sjoe, maar jy’s so jonk” nie.

“Dit breek wel my selfvertroue af. Ek troos my daaraan dat ons redakteur, Michélle van Breda, sê ouderdom is net ‘n nommer, dat talent en passie tel!”

Sy jeug tel eintlik in sy guns, sê hy.”Ek kyk anders na kos. Ek glo dat ons net die beste uit elke seisoen behoort te eet en dat alles vars moet wees.”

Dit was eers moeilik om sy ouer kollegas op die naam te noem: “Ek is geleer ‘tannie’ en ‘oom’ is ‘n vorm van respek. Nou besef ek by die werk is ek nie meer ‘n kind nie.”

Hy het nog altyd geglo 40-jariges is boring en dit verras hom dat sy ouer kollegas so energiek en lewenslustig is. Almal by SARIE het ‘n “ongelooflike passie” vir hul werk, hulle werk na-ure en niemand loer na hul horlosies nie, sê hy.

By SARIE is almal “gelukkig ook tegnologies by”, maar tegnologie speel ‘n nóg groter rol in sy eie lewe.

“Ek bestel baie goed deur die internet terwyl sommige ouer kollegas bang is dit raak iewers op pad weg.”

Herman is ook deel van die instant gratification-generasie – hy wil dadelik antwoorde hê.

“Ek het besef dit kan nie altyd so werk nie. Daar is soms prosesse wat jy moet deurgaan om te sorg vir ‘n goeie eindresultaat.”

Hy hou daarvan as iemand sommer in die verbyloop vir hom iets vra of sê. “Ons jongmense tob nie lank oor probleme nie. Ons embrace hulle, soek oplossings en beweeg aan.”

Herman wil nes sy ander kollegas behandel word.

“Streng. En nie jammer gekry of op neergesien word oor my ouderdom nie. Maar ek wil ook leiding hê. Respekteer my en ek sal jou respekteer.”

Hy vra baie vrae om sy ouer kollegas se wêreld te verstaan en hy leer daagliks oor die tydskrifbedryf. “Dis ook ‘n groot uitdaging om my eie begroting te  bestuur.”

Vir Herman se generasie weeg persoonlike verwesenliking swaarder as loopbaansukses.” As ek nie meer groei of gelukkig is nie, sal ek van werk verander, selfs sonder bevordering,” sê hy.

 

MARIÉ VAN ZYL (49), kredietbestuurder van ‘n groot bankgroep in Plattekloof buite Kaapstad, kom uit ‘n generasie waar jy dinge presies reg moes doen.
“Ek is ‘n perfeksionis en dit pla my dat jonger mense nie genoeg aandag aan detail gee nie. Hulle mis dikwels dít wat vir my vanselfsprekend is, soos om sekere dokumente by ‘n kredietaansoek in te sluit.”

Soms sukkel sy om aan te pas by nuwe rekenaarstelsels, terwyl die jonger mense gou daaraan gewoond raak.

Marié sê ook haar werk is vir haar ‘n loopbaan, maar vir baie van die jongeres is dit ‘n stepping stone. Hulle beweeg dalk eersdaags aan na ‘n ander werk of gaan oorsee. Tog kom vra hulle dikwels raad oor hul loopbane. As sy hulle aanmoedig, waardeer hulle dit.”Al wat ek van hulle verwag, is respek vir ervaring en kennis.”

Party sukkel om haar op die naam te noem en sê selfs “u”. Sy aanvaar dit as ‘n vorm van respek.

Marié het wel baie by die jonges geleer.”Soos die werklewe-balans, wat hulle perfek regkry. En ook hoe om dinge anders en selfs beter te doen.”

Want uiteindelik werk jonk en oud saam aan dieselfde doelwitte en moet hulle mekaar waardeer en benut.

Deur jouself oop te stel vir invloede van ander generasies kan jy slimmer en beter anderkant uitkom.

 

[box:full:grey:both]

DINK EN WERK JONK
Ouer kollegas kan lank nie meer die mag van hul posisie gebruik om jonges se samewerking te kry nie, sê Anphia Beyers, bedryfsielkundige van Kaapstad. Jy het nuwe leierskapvaardighede nodig. Soos om take in konteks te plaas: Jonges moet weet hóékom hulle iets op ‘n spesifieke manier moet doen en wat hul doel binne die maatskappy is. “Om vir hulle te sê ‘jy doen dit omdat ék so sê,’ is uit,” beklemtoon Anphia. Ook:

  • Leer tegnologiese taal verstaan. As jy bv. nie SMS-taal verstaan nie, kan jy belangrike boodskappe en inligting mis, sê Anphia.
  • As jy relevant wil bly, moet jy tegnologie omarm, beaam Neil Jacobsohn van FutureWorld. Moenie weghardloop van bv. sosiale netwerke soos Facebook nie.
  • Dink hoe tegnologie soos sg. smartphones of skootrekenaars ingesluit kan word by die jonger generasie se pakkette – hulle wil werk waar daar state of the art-tegnologie is.
  • Kommunikeer via tegnologie soos Skype met jongeres, en benut podcasts en video-grepe vir opleiding.
  • Maak die werkplek so aangenaam moontlik. Omdat die jonger generasie ook die grootste netwerke het, sal almal daarbuite dadelik weet as die werk sleg is en hulle liewer nie by jul maatskappy moet kom werk nie, sê Alan Hosking, uitgewer van HR Future Magazine, Johannesburg.
  • Maak seker hulle geniet hul werk. Sorg vir sosiale verkeer.
  • Hulle hou van reis en groepwerk. Gee geleenthede daarvoor.
  • Moenie dit wat anders is, altyd as verkeerd beskou nie.
  • Wees buigsaam. Tegnologie maak dit moontlik dat mense soms vanuit ‘n koffiewinkel kan werk.
  • Jongmense wil hulself uitdruk en kleredrag speel ‘n groot rol. Dalk moet jul dragkode hersien word. As jy voel jou eie klere is outyds, praat met ‘n mode-konsultant.
  • Respekteer álle individue, ongeag hul kultuur. Die jonger generasie is gewoond aan diversiteit.
  • Toon belangstelling in jongmense se musiek en TV-programme.
  • Laat jonger werknemers toe om hul werkspasie te verpersoonlik met foto’s en persoonlike items. Hulle wil in ‘n gemaklike en aantreklike omgewing werk.
  • Deel jou kennis kort en bondig en vra hul mening.
  • Wees ‘n mentor. Hulle wil voel die maatskappy gee om.
  • Aanvaar dat jonger kollegas se doelwitte dalk vir jou onrealisties lyk, maar hulle glo genoegsaam in hulself om dit na te streef. Praat met hulle oor hul volgende loopbaan-stappe.
  • Vertrou hulle en laat hulle toe om sover moontlik hul eie ding te doen. Gee net duidelike riglyne oor die eindresultaat.

LEER UIT ERVARING

*Pasop vir persepsies en vooroordele teenoor ouer kollegas: as jy onbewustelik besluit het hulle is outyds, outoritêr of eng, sál jy hul optrede so vertolk.

*Besef jul kernwaardes verskil, sê Anphia Beyers, bedryfsielkundige van Kaapstad. Hul “outydse” gedrag is dikwels gegrond op waardes soos respek vir gesag.

*Besef harde werk is vir baie ouer mense ‘n diepgewortelde waarde. Hulle sal dalk dikwels na-ure werk en dit bes moontlik ook van jou verwag. Praat met hulle oor jou werk-lewe-balans.

*Toon respek vir hiërargie en strukture, al is dit moeilik om “deur iemand anders” te kommunikeer. respekteer kennis – vra ouer kollegas se raad.

*Besef jou ouer kollegas wil ook leer. As hulle met tegnologie sukkel, bied hulp aan. Jy kan só jou verhouding met hulle versterk.

*As jy wil kla, kla op ‘n strategiese manier – maak eerder voorstelle. Hóé jy dit doen, sal bepaal of jy as krities en moeilik gesien word of as iemand wat waardevolle bydraes lewer.

*Leer by ouer kollegas hoe om professioneel te kommunikeer. Probeer jou taal suiwer hou tydens professionele onderhandelings.

*Kommunikeer dikwels een-tot-een met ouer kollegas. Hulle verwag dat jy die moeite sal doen om na hul kantoor te stap.

*Gee altyd jou volle aandag. al kan jy multi-task, moenie bv. SMS’e tik tydens vergaderings nie. Dit kom moontlik disrespekvol voor.

*As julle verskil oor hoe iets gedoen moet word, tree terug en vra: Waaroor gaan dit nou eintlik? Wat is die einddoel wat ons wil bereik?

*Stel belang in jou ouer kollegas se vakansies, kinders of stokperdjies. Jy bou só goeie verhoudings. Dalk deel julle boonop belangstellings.

*Ken jul maatskappy se geskiedenis, veral die lesse wat reeds geleer is.

 


Hulp

  • As jy en jou uitvoerende span ‘n aanbieding wil bywoon oor hoe om in die jonger generasie se koppe te klim, bel Alan Hosking by 011 88 8929 of stuur ‘n e-pos na alan@hrfuture.net.
  • Google ‘n bietjie “bridging the generation gap at work”.
  • Bel Anphia Beyers, bedryfsielkundige, by 021 913 2990. Besoek ook www.redconsultants.co.za.

  • http://aqunuiiudvvf.com/ jnuexrs

    aU54Qu gerhglxtdncw, [url=http://ofvdnkvondqe.com/]ofvdnkvondqe[/url], [link=http://almgjnttptci.com/]almgjnttptci[/link], http://itrkqnljqqtv.com/

  • vihwua

    wYuiU4 rdwbrqrorrci, [url=http://kowfzltvjlkn.com/]kowfzltvjlkn[/url], [link=http://qafushfokmwt.com/]qafushfokmwt[/link], http://uetdpfirrqoj.com/

  • vihwua

    wYuiU4 rdwbrqrorrci, [url=http://kowfzltvjlkn.com/]kowfzltvjlkn[/url], [link=http://qafushfokmwt.com/]qafushfokmwt[/link], http://uetdpfirrqoj.com/