Werk + geld

Jy kán mense toespreek

Vroegoggend het jy al ’n hol kol op jou maag. Die onvermydelike kruip nader: Die oomblik wanneer jy moet opstaan en praat voor ’n see van gesigte. En jou senuwees is aan flarde. Maar as jy betyds – en reg – voorberei, kan jy met sukses voor mense praat, al beskou jy jouself as ’n swak spreker. Ongeag of jy ’n korporatiewe voorlegging doen of die skool se ouervereniging toespreek, fokus bloot op die 3 belangrikste elemente: navorsing, beplanning en uitvoering.

Doen jou huiswerk
Doen navorsing. Sorg dat jy weet waarvan jy praat. Kry die korrekte feite.

Beplan deeglik
Sorg dat jou toespraak ’n logiese begin, middel en einde het. Oefen dit hardop voor ’n vriendin, jou man, die hond, jou badkamerspieël . . . Jy moet gemaklik voel en vertroud wees met die woorde. Maar sorg dat jy ook nie te veel voorberei nie, anders kan jy entoesiasme, energie en spontaneïteit inboet. Moenie die toespraak uit jou kop leer of “opsê” nie.

Sê jou sê

  • Die sukses (of nie) van jou praatjie word al bepaal wanneer jy die oggend opstaan. Wees positief as jy jou oë oopmaak. (Dink: “Wat ’n heerlike dag. Ek is opgewonde oor my prestasies. Ek sien uit daarna om my kennis met ander te deel.”) Hou deur die dag vol daarmee en laat die selfvervullingsprofesie vir jou werk. (As jy aanmekaar vir jouself vertel jy gaan goed vaar, sál jy.) Die kanse dat die senuwees gaan pla, is dan minimaal, mits jy jou voorbereiding goed gedoen het.
  • Doen ontspanningsoefeninge as jy gestres voel. Haal diep asem. In en uit. Visualiseer hoe enige negatiwiteit uit jou vloei. Gebruik heeltyd kort bevestigende sinne teenoor jouself: “Ek is ’n uitstekende spreker.”
  • Laat jou liggaam ontspan as jy voor die gehoor gaan staan. Moenie jou hande op jou heupe sit of jou vingers swaai nie. As jy gebare wil gebruik, hou dit natuurlik en toepaslik. Hou oogkontak met die gehoor. Praat direk met hulle.
  • Neem klein kaartjies met sleutelwoorde saam (as jy notas wil gebruik) en nie velle papier nie. Jy kan na jou sleutelwoorde kyk terwyl jy ’n kort oomblik stilbly.
  • Haal diep asem en maak jou mond ordentlik oop as jy praat. Dit moet omtrent so groot wees soos as jy sê: “Ouch.” Moenie mompel nie. Projekteer jou stem sodat dit duidelik hoorbaar is. Verbeel jou dis ’n bal wat uit jou maag kom.
  • Besluit vooraf watter woorde jy wil benadruk. Dit maak jou toespraak meer betekenisvol en interessant, en keer dat dit eentonig raak.
  • Bly bewus van die pas waarteen jy praat. Moenie jaag nie. Mense gaan jou nie volg as jy te vinnig praat nie.
  • Dis belangrik om asem te skep sodat almal tyd kry om in te neem wat jy sê. Maak gereeld ’n pouse. ’n Nuttige maatstaf: Tel een telling met ’n komma, tel twee tellings met ’n punt en tel tot drie tellings met ’n nuwe paragraaf voordat jy voortgaan.

Vroegoggend het jy al ’n hol kol op jou maag. Die onvermydelike kruip nader: Die oomblik wanneer jy moet opstaan en praat voor ’n see van gesigte. En jou senuwees is aan flarde. Maar as jy betyds – en reg – voorberei, kan jy met sukses voor mense praat, al beskou jy jouself as ’n swak spreker. Ongeag of jy ’n korporatiewe voorlegging doen of die skool se ouervereniging toespreek, fokus bloot op die 3 belangrikste elemente: navorsing, beplanning en uitvoering.

Dr. Judy Jaye is projekontwikkelingsbestuurder van The Voice and Stress Clinic, Oxfordweg 125, Saxonwold, Johannesburg, 011 880 2334.

ONTHOU . . .

  • Hou aan met praat as jy dalk ’n fout maak, jou woorde omruil of vergeet. Moenie om verskoning vra nie. Die gehoor weet nie dat jy ’n fout gemaak het nie.
  • Gaan end-uit voort met jou toespraak. Moenie halfpad van koers verander as dit vir jou lyk asof party mense nie belang stel nie. Jy het jou nie voorberei op afwykings nie. (Onthou, daar sal altyd mense wees wat nie belang stel nie, maak nie saak hóé goed jy praat nie.)
  • Laat jou oë stadig oor die vertrek beweeg terwyl jy praat en hou jou oë op die vlak van die gehoor. Dis ’n mite dat jy moet fokus op die vriendelike gesig in die gehoor. Jy gaan hom of haar net ongemaklik maak. En nee, moenie fokus op die horlosie agter in die saal nie!
  • Doen waarmee jy gemaklik voel. Los die grappies as jy nie ’n goeie grapverteller is nie.
  • Hou jou lyftaal oop en gemaklik. Beheer enige senuweeagtige gewoontes, soos om heen en weer te wieg.
  • Wees positief.