Werk + geld

Kies slim – nuwe werke, groot kanse

    

 Het ek maar destyds geweet wat ek nou weet, het ek iets heel anders gaan studeer. Klink dit bekend? En noudat jou kinders op ’n loopbaan moet besluit, wil jy seker maak hulle kies reg. Of dalk wil jy self van rigting verander of jou vaardighede uitbrei sodat jy in die toekoms gesog sal bly.

Want werk is skaars. En omdat mense deesdae langer leef, gaan jy dalk tot lank nà 55 moet werk om finansieel te oorleef. Boonop is jong mense (en hul ouers) dikwels negatief en dink daar is nie ’n werktoekoms in SA nie.

Maar Anton Musgrave, uitvoerende hoof-beampte van FutureWorld International, wat maatskappye help om strategiese beplanning te doen skets ’n ander prentjie.

“Daar was nog nooit meer geleenthede as juis nou vir dié wat dit wil aangryp nie,” sê hy. Veral ook as jy besef die lewe skuld jou niks. Jy moet self dinge laat gebeur. En is die toekoms van werk nie opwindend nie! glo hy.

Daar is soveel verandering wêreldwyd dat 40% van vandag se eerstejaarstudente oor 10 jaar ’n werk

 

“Vandag se eerstejaars sal oor 10 jaar ’n werk doen wat nou nog nie eens bestaan nie” – Anton Musgrave, futuris

 

 gaan doen wat nou nog nie eens bestaan nie, sê Anton. Jy sal weliswaar moet uitstaan om in SA ’n goeie werk te kry, veral as jy nie ’n kandidaat vir regstellende aksie is nie. En jy moet jouself só bekwaam dat jy oorsee ook kan werk as dit nodig is.

As jy reeds werk en net jou ervaring wil uitbrei om in die arbeidsmark relevant te bly, oorweeg ’n kort kursus aan ’n universiteit (die meeste bied so iets aan, ook Unisa). Byvoorbeeld: Leer om sin te maak uit sakeplanne en begrotings, skerp jou rekenaarkennis op, of word ’n beter bemarker. Dis vaardighede wat jou in enige werkplek ’n mededingende voordeel sal gee. Of jy kan deeltyds ’n MBA of bykomende bestuurskwalifikasie verwerf. Vind ook by jou werkgewer uit by watter ekstra opleiding jy sal baat vind.

Anton voorspel ‘n paar toekomsneigings
  • Bejaarde- & Kinder-versorging
    Die behoefte hieraan sal toeneem omdat mense ouer word en ook omdat al hoe meer ouerpare albei moet werk. Daar gaan ook meer vigswesies wees wat versorg moet word. (En weens die vigskrisis sal ’n behoefte aan vigswerkers en -opleiers toeneem.)
  • Werke gebore uit katastrofes
    Anton voorspel meer natuurrampe. Aardverhitting kan byvoorbeeld tot vloedskade lei. Meer dokters, fisioterapeute en traumaberaders (maatskaplike werkers en sielkundiges) sal nodig wees. Om die skade van natuurrampe te herstel sal argitekte, bouers en projekbestuurders gesog wees.
  • Elektrisiteits- & waterkrisisse sal die behoefte aan ingenieurs en navorsers op dié gebiede verhoog. Projekbestuurders en kernfisici sal ook nodig wees.
  • Bosbou
    Bome sal moet help met hernubare brandstof en om aardverhitting te help bekamp. Die groenbeweging sal groter raak en mense sal meer omgewingsbewus gemaak moet word.
  • Biotegnologie
    Omdat die wêreldbevolking steeds groei, sal beroepe rondom biotegnologie vir die vervaardiging van kos, medisyne en brandstof noodsaaklik word, sê prof. Kobus Maree van die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria.
  • Biochemie (chemiese prosesse in mense, diere en plante) sal meer aandag geniet – veral genetika (die ontleding van DNS) om só agter te kom wat siektes veroorsaak. Genetiese manipulasie van bv. groente sal belangriker word om só meer mense te kan kos gee.
  • Kweek van liggaamsorgane
    Navorsing oor die moontlikheid hiervan sal uitbrei.
  • en ook nanotegnologie, die studie van molekules en atome. “Dit gaan alles oor die sagteware van die lewe,” sê Anton.
  • Entrepreneurs
    “Ons skoolstelsel lei steeds mense op om vir iemand anders te gaan werk,” sê dr. Piet Muller, futuris van Pretoria. “Jong mense sal moet leer om hul eie werk te skep.” So skep die kragkrisis bv. nuwe geleenthede vir entrepreneurs, sê prof. Maree.
    Steenkool is die “nuwe goud”. Kyk uit vir geleenthede by ondernemings wat steenkool ontgin en bemark. Die toekoms het ’n enorme behoefte aan selfgedrewe mense. Jong mense wat nou die arbeidsmark betree, kan van vyf tot sewe beroepe in hul lewe hê!

In die volgende dekade gaan daar veral in dié 10 beroepe ’n tekort wees:

1. Die gasvryheidsbedryf en toerisme

Vryetydsbesteding gaan een van die grootste beroepsgolwe oor die volgende dekade veroorsaak. Dit sluit ’n wye verskeidenheid in, soos sportbestuur, toerisme en vermaak. Prof. Maree sê jy sal goed kan vaar as jy behoorlik opgelei is én oor spesiale vaardighede beskik. Dalk was jy al die nasionale kookkampioen of is jy vier tale magtig!

Volgens ’n oudit van vaardighede deur die departement van omgewingsake en toerisme gaan die gasvryheidsbedryf bv. binne die volgende drie jaar sowat 24 000 sjefs of kokke nodig hê, 23 500 kelners en 8 000 bestuurders.

Opleiding: ’n Diploma of sertifikaat in toerisme of hotel- en spysenieringsbestuur aan ’n kollege of universiteit van tegnologie. Sommige universiteite bied ook nagraadse opleiding in toerisme.

2. Bestuur

Volgens die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing is daar ’n tekort van tussen 350 000 en 500 000 opgeleide persone vir bestuurs- (en tegniese) posisies. Dis mense wat leiding en besluite kan neem en strategies kan dink.

Opleiding: ’n Sertifikaat- of diplomakursus in bestuur. maar sorg eers dat jy ’n ander graad as grondslag het. Universiteite bied ook ’n B.Com. met ’n gespesialiseerde kursus in bestuur aan.


3. IT- en Kommunikasie-tegnologie

Vanweë tegnologiese vooruitgang is daar wêreldwyd ’n tekort aan IT-spesialiste en aan vaardighede in die inligtings- en kommunikasietegnologie-bedryf (ICT).
Een studie, in opdrag van Cisco Systems (verskaffer van netwerktoerusting en -bestuur vir die internet), raam dat SA reeds teen volgende jaar ’n tekort aan meer as 100 000 ontwikkelaars, samestellers en bestuurders van IT-stelsels sal hê. Die ICT-maatskappy IQ Group beplan byvoorbeeld om sagtewareontwikkelaars uit Indië te werf. Maar vermy die voetsoolvlak soos IT-ondersteuning of -onderhoud. Dáár is ’n ooraanbod.
Opleiding: Universiteit: B.Sc. IT of B.Com. informatika-kursusse. Universiteite van tegnologie: Diploma in IT. Private instansies soos Damelin College (www.damelin.co.za) bied ook meer gevorderde rekenaaropleiding, soos ’n sertifikaat in die hantering van netwerkstelsels, aan.

4. Leerkragte

Onderwys is een van die groot werkgeleenthede van die toekoms, sê dr. Piet Muller. Daar is ’n tekort aan onderwysers oor ’n breë spektrum, maar veral in wiskunde en wetenskap.

Op ’n konferensie verlede jaar het Econometrix se hoofekonoom, dr. Azar Jammine, gesê sowat 21 000 onderwysers moet per jaar in SA opgelei word, maar net 5 000 kwalifiseer tans.

Daarby verlaat sowat 17 000 onderwysers die beroep elke jaar, berig Rapport (16 Maart 2008).

As die regering wil keer dat jong mense oorsee gaan skoolhou, moet hulle aandag gee aan swak salarisse, gedurige leerplanveranderings en swak werkomstandighede weens geweld en dissipline-probleme, meen kenners.

Met ’n onderwysgraad kan jy ook private klasse gee (waarvoor daar ’n ál groter behoefte is), doseer aan ’n private opleidingsinstansie soos Damelin College, of aan ’n universiteit, of betrokke raak by navorsingsprojekte aan opvoedkundige fakulteite.

Opleiding: Benewens universiteite, kan jy ’n onderwyskwalifikasie verwerf aan ’n opleidingsinstansie wat by SAQA (SA Qualifications Authority) geregistreer is. Afstandsonderrig word ook deur universiteite soos die Noordwes Universiteit aangebied (bel Willie van Vuuren by 018 299 45 77).

*Vir nog opsies, sien ook www.education.gov.za

5. Mediese beroepe

SA het te min dokters (en spesialiste soos narkotiseurs en pediaters). Daar’s ook ’n behoefte aan tandheelkundige tegnici, homeopate, fisioterapeute en chiropraktisyns. En aan kundiges wat in sportbeserings spesialiseer en byvoorbeeld hulpmiddels kan maak om beseerde sportmense se beweeglikheid te verbeter.

Opleiding: Aan die mediese skole van universiteite. homeopate en chiropraktisyns verwerf M.Tech.-grade aan ’n universiteit van tegnologie.

6. Verpleegkundiges

Die departement van gesondheid en die Netcare-hospitaalgroep raam daar is tussen 28 000 en 30 000 vakante verpleegposte in die openbare sektor en 5 000 in die private sektor.

SA is bekend vir sy goeie mediese opleiding en jy kan hier of in die buiteland werk. Jy kan ook nooddienste beman, tuisverpleging doen, ’n vroedvrou word of vir ’n gesondheidsorgmaatskappy werk.

Opleiding: By ’n universiteit, verpleegkollege of indiensopleiding (ook in sommige private hospitale).

7. Geoktrooieerde rekenmeesters (GR’s)

Net in die kantoor van die ouditeurgeneraal is tans 700 vakante poste vir gekwalifiseerde ouditbestuurders. ’n GR-kwalifikasie maak deure oop in die sakewêreld. Talle maatskappyhoofde het dié kwalifikasie. Jy kan ook ’n ouditeur, finansiële bestuurder, finansiële direkteur of fondsbestuurder word. Of jy kan risikobestuur, beleggings, versekering of maatskappyfinansiering doen.

Opleiding: Ná universiteit skryf jy raad-eksamen van die SA Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters. Dan volg ’n sertifikaat in gevorderde ouditering deur die PAAB (Public Accounts & Auditing Board) en laaste ’n klerkskap by ’n ouditpraktyk om jou GR-kwalifikasie te bekom.

8. Die landboubedryf (en dis ook vir vroue!)

SA is die vasteland se voedselreus. Landboukundiges help om vrede en stabiliteit in Afrika te verseker deur kos vir die groeiende bevolking te produseer en dit ekonomies te verwerk. Maar jy hoef nie te gaan boer nie. Van die landbou-beroepe wat jy kan oorweeg, is dié van gehaltekontroleur, bewaringsekoloog, voedselwetenskaplike, landbouekonoom, plantpatoloog, wingerdboukundige of wynmaker.
Opleiding: ’n Universiteitsgraad of kwalifikasie aan ’n landboukollege.

9. Ingenieurs

SA kry ongeveer 1 400 gegradueerde ingenieurs per jaar by, maar kort eintlik 2 400, sê Francois Calldo, navorser van die vakbond Solidariteit. Boonop gaan ’n klomp ingenieurs in die volgende 5 tot 10 jaar aftree. Emigrasie vir beter salarisse vererger ook die tekort.

Boonop is daar nie genoeg leerders met wiskunde en wetenskap op hoër graad wat ingenieurswese kan gaan studeer nie.

 

“Daar’s wêreldwyd ’n behoefte aan ingenieurs” – prof. Kobus Maree, opvoedkundige

 

Munisipaliteite het veral ’n tekort aan siviele ingenieurs. Internetgebruik gaan ook net bly toeneem, sê prof. Maree. Vandaar die wêreldwye behoefte aan elektroniese, elektriese en bedryfsingenieurs.

Jy kan bv.’n chemiese of meganiese ingenieur word. Of spesialiseer in lugvaart, landbou, beheerstelsels, die omgewing, metallurgie of petroleum. Of jy kan ’n spesialis word wat saam met ’n ingenieur werk. Soos ’n argitek of landmeter, waaraan daar ook ’n tekort is, sê Francois.

Opleiding: Universiteitsgraad (jy registreer dan as professionele ingenieur). B.Tech.-graad aan ’n universiteit van tegnologie (jy is dan ’n ingenieurstegnoloog). Kollege vir voortgesette onderwys en opleiding (jy is dan ’n ingenieurstegnikus). Werkgeleenthede op al dié gebiede is goed.

10. Ambagte

Wêreldwyd bestaan ’n groot vraag na ambagte soos dié van elektrisiën, elektriese tegnikus, masjienmonteur, sweiser, passer en draaier, diesel- of petrolmotorwerktuigkundige of ketelmaker.

Dis beroepe waarop baie jong mense nog (verkeerdelik) neersien. Want jy kan goeie geld verdien en boonop vir jouself werk.

Opleiding: Leerlingskap van drie jaar aan bv. Solidariteit se opleidingsentrum, Sol-Tech in Centurion, ’n private instelling soos Sasol se Skill-tech, of ’n kollege vir voortgesette onderwys en opleiding (VOO). Indiensopleiding maak die helfte van die studietyd uit. Seta (die regeringsliggaam wat onderrig reguleer) reik hierna ’n bevoegdheidskwalifikasie uit. Sien www.eseta.org.za of www. merseta.org.za

Daar is ook tekorte aan: argitekte, stads- en streekbeplanners, navorsers met ’n doktorsgraad in wetenskap of tegnologie, finansiële kenners (vir belasting- en ouditeursfirmas), forensiese spesialiste in die polisie en speurdienste, lugvaartspesialiste (vlieëniers en tegnici), inbelsentrum-personeel, kundiges in satelliet-kommunikasie (soos by selfoonmaatskappye wat indiensopleiding bied), sekerheidskenners en -personeel, geoloë, verkoop- en bemarkingspersoneel.

En oorsee?

Die meeste van die 10 beroepe hierbo is ook gesog oorsee, veral onderwys, ingenieurswese, ambagte, geoktrooieerde rekenmeesters, dokters, paramediese beroepslui, verpleegkundiges en IT-spesialiste, sê prof. Maree. Kwalifikasies wat jy vir dié beroepe in Suid-Afrika behaal het, word meestal ook oorsee erken. ’n Toelatingseksamen is egter ’n wêreldwye neiging wat sal toeneem, sê hy.

* Bykomende navorsing: Francois Calldo van Solidariteit.

Hier’s hulp

Die Vereniging vir Private Verskaffers van Verdere Onderwys, Opleiding en Ontwikkeling (APPETD) bied praktykgerigte opleiding aan, van kort kursusse tot jaarkursusse. Van die studierigtings sluit in bemarking, skakelwerk, IT-web-ontwikkeling, netwerkingenieurswese, gasvryheid en toerisme. Opleiding vind landwyd plaas deur instansies soos die Centurion Akademie (wat met ’n 100%-indiensnemingsyfer spog). Sien www.appetd.org.za.
    •    Verskeie universiteite het loopbaansentrums wat as skakel dien tussen werkgewers en studente. As jy klaar gestudeer het, word jou CV volgens jou studierigting op die databasis geplaas. Werkgewers adverteer ook hul poste hier.
    •    Noordwes Universiteit: Bernice Smit, 018 299 2798.
    •    Universiteit van Kaapstad: 021 650 2497.
    •    Universiteit van die Witwatersrand, Johannesburg: 011 717 9140/9132.
    •    Universiteit van Pretoria: 012 420 5294.
    •    Universiteit Stellenbosch: Anelle Simonis, 021 918 4474.
    •    Nuttige webwerwe met werkmoontlikhede:
              www.careers24.com
              www.careerchange.co.za
              www.careerjunction.co.za
              www.bestjobs.co.za
              www.iol.co.za
    •    Vir ’n lys van werwingsagentskappe naby jou 
www.recruitmentagencies.co.za