FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Werk + geld

Klein begin, groot gewin – entrepreneur Florence vertel

Jy kan klein begin met ’n besigheid, en later uitbrei, mits jy hard werk en hope passie het. En fokus op wat jy kán doen. 3 entrepreneurs vertel.

Florence nightingale van die suburbs

René Booyens van Somerset-Wes het met slaaisouse begin eksperimenteer om haar gesin se daaglikse maaltye interessant te maak. Vandag verkoop sy 17 kosprodukte onder die handelsmerk Lavender & Lime. En dit kom alles uit haar kombuis.

  • Bedrag waarmee begin: R700
  • Vorige werk: Winkelklerk in ’n apteek
  • Omset toe begin (November 2012): R2 000 in eerste maand
  • Omset gegroei: Sowat 5 tot 6 keer

Die begin

‘‘Die apteek waar ek sedert 1984 gewerk het, is in April 2012 verkoop. Ek het gedink, ag, ek het jare se ervaring, ek sal sommer gou weer werk kry. Toe nie. Ek het altyd sigarette in my hangkas gehou en dit verkoop aan bure wat nie op vreemde tye kafee toe wou ry nie. Ná maande sonder werk het ek skielik eendag besef: Maak ’n winkel oop. In die apteek het ek mos geleer om met voorraad en mense te werk. Dit was nietemin ’n groot besluit, om met my laaste R700 lekkers en koeldrank te koop en dit te verkoop. Vriende en oudkollegas het gesê: ‘Is jy mal?’ Maar ek het dit gedoen, in ’n houthuisie van 3 m x 3 m. My omset op daardie eerste dag, 2 November 2012, was R98. Dit klink min, maar vir my was dit ’n teken: Hier kom ’n ding.

Die pad

Ek verkoop lugtyd, snoepgoed en sigarette. In die apteek het ek ’n spesiale hoekie gehad waar ek wonde versorg, suiker en bloeddruk gemeet en inspuitings gegee het. Ek het dit gemis. Die mense het altyd gesê ek het so ’n sagte hand. Ek het weer daarmee begin, sommer so tussen die lekkergoed. Van my klante by die apteek het my opgespoor en kom nou hiernatoe. Ek het ’n behoefte by die skoolkinders geïdentifiseer vir skryfbehoeftes. Ek het fotostate begin maak en kry binnekort ook ’n faksmasjien. My oudste seun, Ruan, gaan vir my ’n rekenaar gee en dan kan die kinders hier op die internet kom surf. In Oktober verlede jaar het ek ’n kwalifikasie by Wits se sakeskool verwerf in die entrepreneurskapprogram vir spaza-winkeleienaars. Ek was een van 40 kandidate wat gekies is, die enigste wit, Afrikaanssprekende. Dit het my nuwe selfvertroue gegee, my meer positief gemaak. Ek was so trots dat ek kon byhou met wat hulle van my verwag en dit kon toepas. Maar ek is die heel trotsste dat ek ’n sukses van die winkel maak. Ek het 50% meer klante as toe ek begin het. Advertensie is mondelings. Hendrik, my afgetrede man, en my drie seuns staan my met raad en daad by. As ek af voel, troos hulle: ‘Ma, dit kan werk. Jy gaan dit laat werk.’ Ek koop voorraad, beman die spaza, sit pryse op produkte, maak skoon. Mense lui van halfsewe soggens tot agtuur saans die klokkie. Niemand steur hulle aan die tye wat ek op ’n bordjie geskryf het nie.

Die toekoms

Wanneer die artikel verskyn, het ek waarskynlik reeds in ’n groter houthuis ingetrek. Ek het gedink ek sal eers ná vyf tot ses jaar kan uitbrei. Maar die besigheid het so vinnig gegroei. Ek wil die winkel laat registreer sodat ek aan die nodige vereistes voldoen om kos te verkoop. Aanvanklik net so een dag ’n week om te kyk of dit werk. Ek noem dit die ‘Three In One’: spaza, gesondheids- en skryfbehoefte-hoekie. Die spaza sal homself geldelik onderhou. Maar die gesondheidshoekie: Ek wil nie daarmee wins maak nie. Dis hoe ek aan die gemeenskap wil teruggee.’’

Om te weet

Die harde waarheid

  • Hoe makliker toegang tot ’n bedryf is, hoe groter die mededinging en kleiner die winsgrens.
  • Jy kan net regtig in ’n sakeonderneming slaag wat by jou persoonlikheid en talente pas.
  • Ontgin die potensiaal van bestaande klante. Dis doeltreffender as om nuwes te soek.
  • Sommige ondernemings is van die begin af gedoem. Nie jy of iemand anders kan dit laat slaag nie.
  • Onthou altyd die prys wat jy vir ’n produk vra, moet die markprys van al die betrokke arbeid insluit.

Bron: Your Small Business Nightmare and How to Wake Up deur Bertie du Plessis (Tafelberg, 2012)

Lees hoe Mari du Plessis haar klerewinkel begin het

Lees hoe Réne Booyens haar Lavender & Lime kosprodukte uitgebrei het