FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Werk + geld

Klein begin, groot gewin – entrepreneur Réne vertel

Jy kan klein begin met ’n besigheid, en later uitbrei, mits jy hard werk en hope passie het. En fokus op wat jy kán doen. 3 entrepreneurs vertel.

René Booyens van Somerset-Wes het met slaaisouse begin eksperimenteer om haar gesin se daaglikse maaltye interessant te maak. Vandag verkoop sy 17 kosprodukte onder die handelsmerk Lavender & Lime. En dit kom alles uit haar kombuis.

  • Bedrag waarmee begin: Sowat R1 000 (sy het gespeel met wat in haar huis en beursie was)
  • Vorige werk: Spysenier, deeltydse huishoudkundeonderwyseres
  • Omset toe begin (2009): Sowat R3 500 in eerste maand
  • Omset gegroei: Sowat 6 keer

Die begin

‘‘Slaaisous. Dit was die derde woord wat my jongste, Andrea, nou in graad 8, kon sê. ‘Slaaisouuus,’ het sy as tweejarige gelispel as ons haar in haar eetstoeltjie tel. En Martin, nou in graad 10, eet dit op alles. Die ding het in my kombuis, om my tafel begin. Kyk, ek het vier kinders en hulle eet baie. Dis my inspirasie, my gesin! My vyebalsemreduksie het ek begin maak om hulle te oorreed om groente te eet. Die dadel-en-kaneel-een omdat hulle van pannekoek hou. En die lemmetjie-geur om ’n Thairoerbraai op te kikker. Die aarbei is lekker oor roomys en die granaat komplementeer hoender. Maar eers was dit net slaaisous. Vriende het gevra ek moet vir hulle ook maak. En ek het, sommer in konfytbottels. Kinders by die skool het gesê: ‘Oe, Mamma moet tannie René se slaaisous proe.’

Die pad

Ek het ’n geleentheid gesien. Deesdae is my produkte beskikbaar by sekere takke van SPAR, ook by Yuppiechef en ’n paar deli’s landwyd.’n Paar groot winkels verkoop dit landwyd onder hul eie naam. Ek was verskeie kere by KAMERS vol geskenke in Kaapstad en Bloemfontein. Vanjaar was ek ook by die een in Pretoria. Daar is twee groot tafels in my oopplankombuis-eetkamer. Dis meestal toe onder die bottels en bokse. Soms lyk dit soos ’n sweatshop: My kinders plak bokse toe, sit etikette op, maak tee. Bun (23) en Martin, my man, was saam by KAMERS in Pretoria. Hendrik (20) sê volgende jaar gaan hy ook. Ons gesin was altyd heg, maar my onderneming het daardie band nog meer versterk. Hulle ondersteun my ongelooflik. Nou die dag vra ek: Pla dit julle dat ek so hard werk? Nee, sê hulle, hulle is trots op my. Hulle voel sleg dat hulle nie meer kan doen om my te help nie. Op markte gee ek maklik ’n botteltjie vir elkeen met wie ek lekker gesels. ‘Hulle is so nice,’ sê ek as Martin kopskud. Hy skryf rekenaarprogramme. Hy verstaan nie van kosmaak en bottels en sulke goed nie. En dat my administrasie so deurmekaar is nie. Ek sit nie lank genoeg stil om die papierwerk uit te sorteer nie. Ek is ook nie goed met bemarking nie. Dis nie lekker om mense te vra of hulle my goed in hul winkels wil aanhou nie. Maar daar gaan altyd deure oop, mense wat my vra of hulle dit kan doen.

Die toekoms

Twee fabrieke het al aangebied om my produkte te vervaardig. Maar ek sal die persoonlike kontak wat ek met verskaffers opgebou het, te veel mis. Ek sou wou uitbrei, ja. Maar is bang om te groot te raak. Dis soos jou kind wat grootword en die huis verlaat. Ek hou nog vas, elke botteltjie is nog myne. Ek is positief, niks kry my onder nie. As plan A nie werk nie, is daar altyd plan B. My werk is my stokperdjie, my passie. Dis vir my wonderlik dat ek ’n inkomste kan verdien uit iets wat ek so geniet.’’

Lees hoe Mari du Plessis haar klerewinkel begin het

Lees meer oor Florence van Niekerk se spaza-winkel