FOTO: Phyllis Green

Werk + geld

Klein begin, groot gewin – entrepreneur Miri vertel

Jy kan klein begin met ’n besigheid, en later uitbrei, mits jy hard werk en hope passie het. En fokus op wat jy kán doen. 3 entrepreneurs vertel.

Uit ’n ander wêreld

Mari du Plessis het ’n klerewinkel, Miri, in trendy en luukse Parkhurst, Johannesburg. Sy ontwerp self die klere en het ’n span wat dit maak.

  • Bedrag waarmee begin: R50 000
  • Vorige werk: Tuisbly-ma
  • Omset toe begin (2003): R200 000 p.j.
  • Omset gegroei: Sowat 6 keer

Die begin
‘‘Ek het modeontwerp aan die destydse Pretoriase Technikon studeer. Nadat ek drie jaar vir ’n modehuis, Barry Kaz, gewerk het, het ek in 1988 my eie onderneming begin. Ek het teaterkostuums en trourokke ontwerp en gemaak. Toe ek agt maande swanger was met Rimon (nou 24), het ek dit verkoop. Ek was daarna ’n tuisbly-ma vir Rimon en Shani (nou 22). Sowat tien jaar gelede was ek weer lus om my eie ding te doen. Ek het ’n klerereeks ontwerp wat taamlik suksesvol was, en het daarna ’n winkel in Parktown-Noord oopgemaak. Dis die afgelope drie jaar in Parkhurst. Buiten myself, is daar ses werkers wat die klere maak, asook ’n jong ontwerper. Die fokus is op gemaklike klere wat jy elke dag kan dra. Maar mooi genoeg sodat jy dit saans kan opkikker. Die kombinasie van materiale maak dit uniek. My klante sê hulle kry altyd komplimente as hulle dit dra. Ek ontwerp ook elke jaar ’n skemerdrag-reeks.

Die pad

Ek was aanvanklik maar lekker bang. Ek was lank uit die bedryf en moes bv. van voor af soek na verskaffers van materiaal van goeie gehalte. Om finansieel kop te hou was ’n uitdaging. Ek is ’n kunstenaar, maar ook nie heeltemal dom met geld nie. Dit help dat dit Adriaan, my man, en ’n bankier, se sterkpunt is. Jou boeke, die finansiële kant, is baie belangrik. Jy moet die uitgawes fyn dophou. Jy sien die mooiste materiaal wat jy eenvoudig moet hê. Maar as jy jou sente bymekaartel, kom jy agter jy het meer uitgegee as wat inkom. Dis ’n fyn lyn. Jy moet geld uitgee. Dit werk nie as daar net ’n paar goed in jou winkel hang nie. Vroue wil verskillende goed sien. Maar jy moet weet wanneer om te stop. Weet ook jou bankbalans gaan nie oornag klop nie. Gee jouself minstens twee jaar daarvoor. Daar wás baie dae dat ek net wou ophou. Dat ek gedink het: Is dit die moeite werd? Maar wat, die volgende dag was ek weer positief. Ek het eenkeer vir ’n vriend gesê as ek iets anders gedoen het, het ek waarskynlik meer geld gemaak. Waarop hy toe antwoord: ‘Dis die prys wat jy vir jou vryheid betaal. Jy werk nie vir ’n baas nie, jy doen wat jy wil.’

Die groter prentjie

Ek het ’n entrepreneur se waagmoed, ja. Maar my sterkpunt is dat ek goed met mense oor die weg kom. Ek het ’n goeie verhouding met klante. Dis ’n groter prentjie as net klere, jy moet uitreik na ander, omgee.’n Hoogtepunt is as iemand instap en ek kan op ’n persoonlike vlak iets vir haar beteken. As ek iemand anders se lewe kan verryk. Dis ook belangrik hoe jy jou werknemers behandel. Ek het nog nie ’n dag se probleme met hulle gehad nie. Almal sê ek is so gelukkig. Maar dis hoe jy hulle hanteer, motiveer. Twee dae van die week lei ek twee ongeskoolde werkers op. Ek leer bv. ons tuinier om materiaal te sny. Hy is sterk en geesdriftig en ek vertrou hom boonop. Die toekoms? Jy kan altyd verbeter. Die gehalte van die materiaal wat ek gebruik, is goed, maar ek soek wat nog beter is. Dit moet iets uit ’n ander wêreld wees.’’

Om te weet

Voor jy begin

  • Ken jouself – dit verbeter jou kans op sukses. Elke bedryf het ander uitdagings.
  • Dis vir elke entrepreneur noodsaaklik om passievol te wees oor wat hy/sy wil doen.
  • Moenie ’n nuwe bedryf betree, of diens of produk skep waarvan jy niks weet, of waar jy nie kontakte het nie. Besluit wat jy weet en wie jy ken en begin ’n onderneming wat daarby pas.
  • Voor jy begin, verminder al jou skuld. Dit gaan net onnodige druk skep as jy ‘‘ou’’ skuld moet betaal terwyl jy geld op ’n nuwe onderneming moet bestee.
  • Soek klante of kliënte, bied vir hulle aan wat jy glo die regte produk of diens is. En eers as hulle bevestig hulle wil dit hê, gaan voort en bestee geld om dit te maak of te lewer.
  • Weet wie jou klante of kliënte is, verstaan hul behoeftes en lewer ’n produk wat hulle nodig het. Onthou altyd: Jy is in diens van jou onderneming.

Bron: Pavlo Phitidis, uitvoerende hoof van Aurik Business Incubator, ’n organisasie wat jou bystaan om jou sakeonderneming te laat groei (www.aurik.co.za)

Lees hoe Réne Booyens haar Lavender & Lime kosprodukte uitgebrei het

Lees meer oor Florence van Niekerk se spaza-winkel