FOTO: Insatgram  @angelicsfitlyfe

FOTO: Insatgram @angelicsfitlyfe

Werk + geld

Kry werk ná jy ’n tydjie tuis was om ’n gesin te begin – kenners gee raad

Vandag se werkwêreld verander aanhoudend, en dis soms moeilik om te weet wat werkgewers wil hê – of wat jý wil hê.

Die dae waar jy jou lewe lank in een pos by een maatskappy bly, is verby, en dis nie vreemd om ’n paar jaar heeltemal op te hou werk of selfs ’n nuwe loopbaan te begin nie – ongeag jou ouderdom. En wat ’n wonderlike voorreg, sê Toy Joubert, ’n  oopbaanafrigter van Pretoria. “Vandag is ons almal op ’n ewigdurende reis om ons potensiaal te ontdek en uit te brei.”

Maar dit is nie altyd eenvoudig nie. Jy het dalk reeds besluit jy moet ’n verandering maak, maar weet nog nie presies hoe nie, of jy sukkel dalk om nuwe werk te kry. Só moet jy maak, sê die kenners.

Jy het ’n paar jaar tuis gebly om ’n gesin te begin en wil nou weer die mark betree

Leilani Basson, ’n joernalis van Johannesburg, het ná tien jaar se gesukkel uiteindelik in 2012 swanger geword.

Hoewel sy beplan het om kort ná die geboorte van haar dogter, Sabria, weer te gaan werk, het sy uiteindelik daarteen besluit. “My werk as ’n reis- en leefstyljoernalis het baie tyd weg van die huis af geverg, en ek kon dit nie oor my hart kry om haar tuis te los nie.”

Sy het bedank en as vryskutjoernalis begin werk, met die plan om later weer permanent te werk, of haar eie onderneming te begin.

Dit kan ’n goeie oplossing wees vir vroue wat graag op hul gesin wil fokus, sê Nike Wadds, ’n loopbaanafrigter van Kaapstad en eienaar van Stand Tall Consulting. “Bly ingelig oor ontwikkelinge in jou bedryf terwyl jy nog tuis is en, indien moontlik, kan jy vryskutwerk van die huis af doen en ’n aanlyn- of kortkursus in jou veld voltooi. As jy nie tyd het om te werk nie, kan jy dalk ’n werkblog begin sodat potensiële werkgewers kan sien jy het op datum gebly.”

Wanneer jy weer om werk aansoek doen, moet jy jouself voorberei om moontlik teen ’n laer salaris te begin. Jou ondervinding sal jou wel help om vinnig weer op te beweeg. “Fokus in die onderhoud op jou bereidwilligheid om te leer en jou loopbaan te bevorder. Wys jy is weer werkgereed en verduidelik hoekom dit wat jou laat bedank het, nie sal inmeng nie.” (Jy het byvoorbeeld ’n voltydse kinderoppasser aangestel.)

Toy sê jy het niks om oor skaam te wees ná jou bedanking nie. Dit was jou keuse om die mark te verlaat en jy het nuwe vaardighede aangeleer, soos om as nuwe ma jou organisatoriese vermoëns te verbeter, en om vinnig besluite in noodsituasies te neem.

Jeannette van Dyk, ’n sielkundige van Johannesburg, sê jy moet jouself ook voorberei om aanpasbaar te wees wanneer jy weer begin werk. “Soms sal jy oorweldig voel deur die hoeveelheid nuwe inligting waarmee jy vertroud moet raak. Hou moed, jy het reeds baie kennis en vaardighede opgebou en jy sal weer alles onder die knie kry.”

Bertha le Roux Julie 2014 jul july

* Dié raad kom uit die artikel “Kry werk in elke fase van jou lewe” in die Julie 2014-uitgawe van SARIE. Dit is ongelukkig nie meer op die rakke nie, maar kan aanlyn HIER gekoop en afgelaai word.