Werk + geld

Lyk goed – wéés suksesvol

 

“’n Versorgde voorkoms sê jy het respek vir jouself én vir ander” – Frieda Botma


 “60% van eerste indrukke word binne 30 sekondes gevorm” –Karen Armstrong

 

“Jou stem moet by jou liggaamshouding pas” –Adrian Stevens

 

Susan sit-lê oor haar lessenaar. Sy dra geen grimering nie en loer onder ’n pap kuif uit. Al is sy intelligent, al doen sy haar werk goed, is sy nie op pad boontoe nie. Want sukses verg ook vertoonbaarheid, oftewel presentability.

Jou beeld sê baie van jou werkvaardighede, jou toewyding en jou werk-etiek. Dit kaats terug na jou maatskappy, jou bestuurder en jou kollegas.

“As jy dus ernstig is oor werk soek of oor jou loopbaan, sal jy seker maak jy’s reg aangetrek,” sê Gina Meintjes, bemarkingsdirekteur van Kelly, ’n werwingsmaatskappy in Johannesburg. ’n Versorgde voorkoms sê jy het respek vir jouself én vir ander.

Jy is bekwaam en jy sal tyd en moeite aan jou werk afstaan, sê Frieda Botma, fasiliteerder: bestuursopleiding van Bellville, Kaapstad. Jy sal tog nie ’n korporatiewe bankier met tatoeëermerke of ’n Mohawk-haarstyl vertrou nie, sal jy?

Vertoonbaarheid is ’n ernstige saak; jou voorkoms beïnvloed immers ook jou sak. Plaaslike statistieke is nie beskikbaar nie, sê dr. Willem de Villiers, menslikehulpbronne-kenner van Stellenbosch, maar navorsing wat deur die Federal Reserve Bank of St. Louis in Amerika gedoen is (sien www.usatoday.com) bewys onversorgde werkers kan gemiddeld 9% minder per uur as goed versorgde werkers verdien!

Daar sou ook nie soveel organisasies, soos die International Size Acceptance Association, bestaan het wat kapsie maak teen diskriminasie op grond van gewig, lengte of fisieke karaktereienskappe in die werkplek as voorkoms nie só belangrik was nie. Eunice Kotzé, geleentheidskoördineerder van die Paarl, sê die vere maak beslis die voël.

“Wanneer jy goed lyk, respekteer ander jou. Jy’t ook lus vir die dag en voel in beheer. Ander mense sê altyd ek en my vennoot lyk vars, al is dit hoe warm. Ons trek kleurryk en netjies aan en voeg dus waarde toe vir ’n kliënt.”

Eunice-hulle gaan selfs ’n stappie verder. “Wanneer ons ’n kliënt verteenwoordig, trek ons soms selfs die ander maatskappy se korporatiewe kleure aan. Dan kry ons éérs komplimente!”

Sowat 84% van Amerikaners glo jou voorkoms beïnvloed jou kanse om jou maatskappy elders te verteenwoordig, is in ’n peiling, Work your Image!, bevind. Drie uit vier Amerikaners glo vertoonbaarheid beïnvloed of jy ernstig opgeneem gaan word en 74% glo dit beïnvloed jou kanse om in die topbestuur te dien. Twee derdes glo voorkoms beïnvloed jou verhoging of bevordering.

Daar is nog nie soortgelyke peilings in Suid-Afrika gedoen nie, maar volgens Willem lê groot maatskappye voortdurend klem op die belangrikheid van vertoonbaarheid.

“Kyk ’n mens wetenskaplik daarna, kan jy nie sê voorkoms kan vir jou ’n werk waarborg nie, maar jy kan met redelike sekerheid aanvaar dat ’n netjiese voorkoms en professionele aanslag daarop dui dat jy ernstig opgeneem sal word. Die waarskynlikheid is ook hoog dat jy die sukesvolle kandidaat vir ’n aanstelling of bevordering kan wees,” sê hy.

Retseh de Waal, bedryfsielkundige van Medi-Clinic se hoofkantoor op Stellenbosch, sê ’n professionele voorkoms tel wel wanneer jy aansoek doen om ’n pos, maar in Suid-Afrika tel bevoegdheid meer.

“Indien jy iemand sou afkeur bloot oor sy voorkoms, kan dit as diskriminasie beskou word en kan jy jou in arbeidswetgewing vasloop. ’n Bevoegde persoon behoort aangestel te word. Daarna kan jy die maatskappy se dragkode onder sy of haar aandag bring,” sê sy.

Sarah Vermeulen van Bellville werk vir ’n groot bankgroep en sê egter voorkoms maak vir haar ’n verskil. “Ander is altyd bo my bevorder en ek het gewonder hoekom. ’n Kollega het voorgestel ek verbeter my voorkoms. Ek het my valerige hare laat knip en kleur, en begin lipstiffie dra. Ek het nou meer selfvertroue en is uiteindelik in ’n senior pos aangestel.”

Vertoonbaarheid hang ook nóú saam met professionaliteit, sê fasiliteerder Frieda Botma. “Professionaliteit rus op ’n kombinasie van uitgesoekte pilare wat baie sterk staan.” Dit sluit in integriteit, goeie sake-etiek, kennis van jou veld, goeie kommunikasie-vaardighede en ’n vriendelike, positiewe houding.

Waar begin ’n mens?

Vra jouself eers af wat jy met jou voorkoms wil sê, stel Frieda voor. As jy professioneel optree, vertel jou voorkoms jy pas by jou omgewing. Jy verstaan jou pos. Jy’s bekwaam. Jy het status en invloed. Jy’s in beheer en ander kan jou vertrou. Neem ook die dragkode van jou maatskappy, en jou kliënt s’n, in ag.

Annette Hartmann, drama-onderwyser van Wynberg, stem saam oor dragkode. Trek reg aan vir jou werk, maar sonder om jou identiteit prys te gee, glo sy. “Ek aanvaar die skoolreëls. Ek mag nie toppies met skouerbandjies of jeans dra nie. Omdat ek drama en dans gee, trek ek soms aan wat prakties vir klasgee is. Wanneer my smaak en styl egter die oorhand kry, kom ek in die moeilikheid. Dis reg so. Onderwysers is tog rolmodelle.”

Jou voorkoms hang natuurlik van jou tipe werk af, sê Gina Meintjes. In ’n finansiële omgewing pas ’n netjiese pakkie gewoonlik, terwyl jeans en bloedrooi hare dalk in ’n reklame-agentskap tuishoort. En as jy ’n IT-spesialis is, mag jy miskien ’n T-hemp en tekkies dra, maar dit moet skoon wees, sê Frieda.

Pasop vir daardie eerste indruk!

Karen Armstrong, eienaar van ’n skakelmaatskappy in Kaapstad, sê 60% van eerste indrukke word binne 30 sekondes gevorm.

“As iemand vertoonbaar is, het hy selfrespek, trots en selfvertroue,” sê sy. “’n Slonskous laat jou onseker voel en jy betwyfel die standaard van diens, werk en vermoëns.”

Mense som jou op lank voordat jy ’n woord sê, het Albert Mehrabian, ’n Amerikaanse sielkundige, bevind toe hy die mag van nie-verbale kommunikasie bestudeer het. Altesame 93% van kommunikasie vind sonder woorde plaas, sê hy. (Sien www.mypharmacy.co.uk)

Daarom is daar vandag ’n plek vir plastiese chirurgie en Botox-inspuitings. “Deesdae is die hoofde van maatskappye jonk en aantreklik. Hulle oefen en leef gesond, en verwag dit ook van hul werkers,” sê dr. Christie Smit, plastiese chirurg van Panorama.

“Ouer vroue moet om werk en bevordering met die jonger garde meeding en dus op hul beste lyk. Ná ’n bietjie hulp staan hulle gewoonlik ’n beter kans om bevorder te word.”

As jy eers weet wat jy met jou voorkoms wil sê, gee aandag aan jou hare en grimering. Was, laat knip en kleur jou hare gereeld. Grimering moet gelaatstrekke versterk, nie oordonder nie.

Gee aandag aan jou gewig, raai kenners aan. ’n Studie wat gedoen is deur die New Yorkse sosioloog Dalton Conley (sien www.usatoday.com), het bevind ’n toename in ’n vrou se liggaamsmassa lei tot ’n vermindering in haar inkomste en haar werkprestige.

Al is jy hoe bekwaam, sál vetsug ’n negatiewe invloed op jou loopbaan hê. Jy kan nie heeltemal so goed versorg lyk nie, want jou klere pas dalk nie behoorlik nie. Ander mense sal miskien ook jou geloofwaardigheid, selfbeheer en dissipline betwyfel.

San-Marié de Witt van Johannesburg vertel juis sy het weens ’n gewigsprobleem gesukkel om werk as ontvangsdame te kry. “Ek het net besluit tot hier toe en nie verder nie. ’n Dieetkundige het my gehelp met ’n gesonde leefwyse. Ná drie jaar pas ek steeds in ’n nommer 34 en spog ook met ’n nuwe pos.”

Jou liggaamstaal kort dalk ook aandag. Dis ’n spieëlbeeld van jou emosies. Jy kan nie altyd sê wat jy voel nie en moet soms positief in negatiewe situasies optree, lui die raad van www.bizhelp24.com. As jy dalk nie goed voel nie, kan jy dus nie jou arms kruis en ontoeganklik lyk nie. En indien jou kliënt jou verveel, sál jou liggaamstaal dit wys – pas dus op daarvoor.

As jy egter ’n mooi houding het, met jou bene langs mekaar staan, dalk een voet voor die ander, jou kop omhoog hou en jou arms laat hang, lyk jy asof jy vir enigiets gereed is. En moenie dink jy gaan aangestel of bevorder word as jy nie mooi sit nie! waarsku Frieda. Sit regop, kruis jou bene. 

Goeie maniere som egter alles op wat ’n mens oor liggaamstaal moet weet, sê sy.

Jou liggaamshouding, gesigsuitdrukking en optrede moet spreek van respek vir ander en van entoesiasme. Dan sal jy hul aandag kry en jou beste kan gee. Albert Mehrabian sê juis 55% van kommunikasie is visueel. Jou stem moet by jou liggaamshouding pas, sê Adrian Stevens, takbestuurder van The Voice Clinic in Kaapstad.

Dis ook Albert Mehrabian wat vasgestel het 38% van alle kommunikasie handel oor hoe jou stem klink, m.a.w. die toon en hoogte, en net 7% oor die woorde self.

“Mense besluit binne 15 sekondes of hulle na jou gaan luister of nie,” sê Adrian. “En as jou stem reg klink en nie te hoog is nie, sal jy nie monotoon praat nie. Jy sal ander se aandag hê en dit behou,” sê hy. Praat entoesiasties, maar stadig en duidelik.

Kom dit by gesprekke, vergaderings of toesprake, moet jou hele houding en benadering dít reflekteer wat jy wil bereik, sê Frieda. Soos om vir ’n kliënt behoorlike inligting te gee. Dit gaan nie oor jóú nie. As jy ’n lesing of kursus aanbied, vra jouself eers af watter aanbiedingsmetode jy gaan inspan. Maak seker jou toerusting werk.

Vind vooraf die grootte van die gehoor uit, hoeveel tyd hulle het, wat hul kennisvlak is en of jou aanbieding aan hul verwagtinge sal voldoen. As jy ná ete praat, moet jy nóg meer entoesiasties praat. Trek netjies aan. Vermy klingelende armbande, klere wat oop flap, ’n te lae hals en natuurlik swaar juweliersware.

En gebruik ’n reukweerder. Wees altyd positief. Moenie skinder, jou ophou met negatiewe gesprekke of voortdurend kla nie.

En glimlag. Soos Susan Marx in die boek Corporate Communication (tweede uitgawe, Van Schaik, 2007) sê: ’n Glimlag en ’n kopknik is kragtige tekens van sosiale aantreklikheid en warmte.

Kom dit by ’n werkkrisis of -konflik, skei ’n vertoonbare persoon feite en gevoelens. Tel eers tot tien. Kry die feite en besluit op ’n aksieplan. Kan jy dadelik iets doen of moet jy vir ekstra tyd vra? Jou houding moet altyd wees dat jy ’n saak wíl, kán en sál oplos.

Ken jou posbeskrywing (weet presies wat van jou verwag word) en jou vakgebied. Dit gee selfvertroue en ontlok vertroue. Energie, passie en integriteit is eweneens belangrik.

Wanneer jy iemand ontmoet, maak seker van haar naam. Ruil besigheidskaartjies uit. Vra vrae soos: Hoe lank is jy al by die maatskappy? As jy as toeganklik, vriendelik, eerlik en geloofwaardig beskou wil word, moet jy luister en oogkontak maak, beklemtoon Frieda.

Wees positief teenoor jou telefoon en selfoon ingestel, dis immers jou werk wat roep. Antwoord altyd deur jou naam en jou maatskappynaam of -afdeling duidelik te noem. So nie, verspil jy tyd. Jou houding moet altyd “ja, ek kan” wees. Soos: “U het nou by die verkeerde afdeling uitgekom, maar ek skakel u na bemarking deur.”

Hanteer e-posse professioneel. Kortaf SMS-taal is uit. Onthou, die e-pos-ontvanger kan nie jou stemintonasie hoor nie. Gee ook ordentlike terugvoer op eposse. Besluit wat die regte medium is. Soms is dit beter om terug te bel. E-posse moet hoofsaaklik ingespan word vir die oordra van feite, nie emosies nie, sê Frieda.

Gaan jou spelling na. Jou rekenaar se speltoetser tel nie al die Engelse foute op nie. Daar is talle woorde met verskillende spellings wat dieselfde uitgespreek word.

Om vertoonbaar te wees hoef nie duur te wees nie. Begin by die basiese. Was jou hare en hou jou naels skoon en gevyl.

“’n Netjiese voorkoms dwing agting en geloofwaardigheid af en jy sál die nodige selfvertroue hê om jou werk goed te kan doen,” sê Frieda.

Nog kennerswenke

• Wees te alle tye professioneel, beleef en respekteer ander. Jy weet nie aan wie jy volgende kan rapporteer nie.

• Moenie jou werk soos ’n werknemer benader nie, sê www.officeteam.com. Benader dit eerder soos jou eie maatskappy.

• Vra altyd vir terugvoer. Watter beeld het ander mense van jou?

• Wees altyd betyds.

• ’n Netjiese, geordende lessenaar sê jy’s bekwaam, in beheer en jy kan jou tyd bestuur.

• ’n Netjiese motor sê jy sal behoorlik na ander se belange omsien. Gina Meintjes van Kelly sê daar is ’n paar goue reëls wat jy behoort te onthou:

• Jou klere en skoene moet heel en netjies wees. (Laat vervang skoensole sodra nodig.)

• Jou naels en toonnaels moet altyd versorg of vars geverf lyk. Vermy helder kleure.

• Moenie te veel vel wys nie. Jou onderklere mag nie uitsteek nie. Vermy ook te kort soomlyne.

• Moenie neon- of te helder kleure dra nie.

• Sorg dat jy altyd vars ruik.

• Moenie te eenvoudig aantrek vir ’n vergadering nie. Jy kan eerder ’n serp of baadjie uittrek.

• Hou jou juwele eenvoudig.

• Hou jou handsak skoon en netjies.

 Goeie raad

• Vir lesings/kursusse oor vertoonbaarheid, skakel Frieda Botma van The Gifting Institute, Bellville, by 021 913 4503 of 083 216 9893. Hierdie maatskappy identifiseer ook jou talente en ontwikkel jou lewenspassie.

• Besoek The Voice Clinic, Kaapstad, vir ’n evaluering van jou stem. Hulle bied ook stem-ontwikkelingsprogramme aan. Skakel 021 423 2488