FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Werk + geld

Moenie ná die feestyd met ’n skuldbabelas sit nie

Die feesseisoen is hier! En dít beteken vakansie, vieringe en geskenke. Maar Nobantu Motsweni, skuldberader by Legal & Tax, waarsku dat jy nie só meegevoer moet raak deur die gees van die feestyd dat jy geld roekeloos bestee nie.

Daar is soveel Suid-Afrikaners wat elke Januarie platsak is. Hulle beland in die posisie dat hulle groot bedrae geld skuld wat hulle nie kan terugbetaal nie én dan moet hulle ook nog sien hoe die rente op die skuld ophoop.

Hier is ’n paar handige wenke wat jou sal help om jou rande hierdie Kersfees verder te rek:

  • Stel ’n begroting op en hou daarby. Voordat jy ’n lening maak of jou kredietkaart gebruik vir vakansie of geskenke moet jy seker wees hoeveel geld jy kan bekostig om elke maand terug te betaal. Bereken dít deur jou lewenskoste vir die huishouding en jou persoonlike uitgawes van jou salaris af te trek.
  • Moenie elke ekstra sent wat jy het, tot ’n lening verbind nie. Want die prys van kos, elektrisiteit, skoolgelde en ander onkoste kan onverwags verhoog.
  • Moenie lenings aangaan by enige iemand buiten ’n betroubare kredietverskaffer, soos ’n  bank of ’n baie bekende kleinhandelaar nie. Die uitlener moet ’n gemagtigde finansiële-diensverskaffer by die Raad op Finansiële Dienste wees. Die verskaffer moet ook geregistreer wees by die Nasionale Kredietreguleerder. Pasop vir sekere mikro-leners wat baie hoë rentekoerse vir kitskontantlenings hef.
  • Dissipline! Hou jouself in toom oor hoeveel jy hierdie feestyd op jou kredietkaart spandeer of met jou jaarlikse bonus koop. Dit kan ’n verleiding wees om vir die gesin ’n groot LCD-TV op krediet te koop of baie geld te spandeer op ’n lang, eksotiese vakansie. Vra jouself af of dit die moeite werd is as jy in Januarie geld sal moet leen vir skoolgeld of kos, of in die knyp is wanneer jy jou skuld moet begin afbetaal.
  • Betaal eerder jou ekstra Kersfeeskontant in jou verband in en wees tevrede met kleiner geskenke – jy sal vir jouself dankie sê in Januarie.
  • Wees slim met jou kredietkaart. Probeer om in die eerste maand die volle balans te betaal wat jy skuld om renteheffings te verhoed; moenie net die minimum paaiement betaal nie. Die balans sal baie vinnig rente ophoop as jy dit nie in die eerste maand afbetaal nie. Rentekoerse op kredietkaarte is baie hoog – moenie hierdie vorm van krediet gebruik tensy jy werklik ’n noodgeval het nie.
  • Onthou vir volgende jaar: Pleks daarvan om goed soos klere op krediet te koop, koop dit liewer op bêrekoop. Betaal vir jou items oor ’n paar maande af en gaan haal dit dan wanneer jy jou laaste paaiement betaal. Daar is geen rentekoste nie en die winkel hou dit vir jou.
  • Nóg ’n wenk vir volgende jaar: begin jou Kersinkopies so vroeg moontlik. Sodoende kan jy jou maandelikse kontantvloei beter bestuur. Kleinhandelaars stoot ook hul pryse op vir die vakansietyd.
  • Koop in Desember jou kind se skoolgoed. Die prys van skryfbehoeftes en ander skoolbenodigdhede gaan gewoonlik op wanneer die kleinhandelaars ná Kersfees met hulle terug-skool-toe-veldtogte begin.
  • Geniet die lewe, maar moenie geld mors wat jy nie het nie. As jy volgens ’n streng begroting leef, maak jou eie geskenke, eerder as om onbenullige items te koop. Beperk ook die aantal maaltye wat julle uiteet. Gebruik die geld wat jy só spaar om skuld af te betaal of hou dit eenkant om noodsaaklikhede in die Nuwejaar te koop.

Indien jy reeds met skuld sukkel, praat gerus met jou krediteure oor die moontlikheid om jou terugbetalings te herstruktureer. As jy jouself in ’n skuldkrisis bevind, moet jy dit dalk oorweeg om vir skuldberading te gaan. Skuldberading is ’n wetlike proses wat help dat jou skuld só geherstruktureer word dat jy huishoudelike uitgawes kan betaal en steeds jou skuld teen ’n kleiner paaiement aan die einde van die maand kan afbetaal. Kontak ’n gemagtigde skuldberader soos Legal & Tax om uit te vind hoe skuldberading jou kan help om weer beheer oor jou finansies te neem.

Vir meer inligting of advies, kontak Legal & Tax  by 0860 LTS LTS (587 587) of besoek hul webtuiste. Volg ons @LegalandTax op Twitter of sluit by ons aan op Facebook om op hoogte te bly met Legal & Tax se nuus en menings.

Deur Nobantu Motsweni, skuldberader by Legal & Tax