Werk + geld

My geld – joune of ons s’n?

Resessie? Watter resessie? Die meeste SA vroue maak asof die finansiële krisis nie bestaan nie. Ons spaar nie vir onsself nie, ook nie vir ons kinders se naskoolse opleiding nie. Boonop maak ons skuld wat ons nie kan betaal nie. En ’n kwart van ons het ’n geheime hopie geld iewers . . .

Hierdie inligting kom van vroue self – in ’n nasionale meningspeiling deur women24.com, die grootste vroue-aanlyngemeenskap in die land.

En daar’s ’n groot paradoks in ons denke oor geld: Synovate, ’n marknavorsingsmaatskappy, sê 70% van SA vroue beskou hulself as finansieel onafhanklik. Tog glo 56% hul man moet alleen die huisverband én die huishoudelike uitgawes betaal. En 62% van mans glo dit ook!

Kom dit by geldsake is baie SA vroue heel gelukkig om in die duister te wees, sê Sam Wilson, women24 se redakteur. Ons beskou geld as ons man se verantwoordelikheid. Ons praat nie eens daaroor nie.

Dis omdat die man tradisioneel nog altyd die broodwinner was, verduidelik Nico Swart, hoof van persoonlike finansiële bestuur by Unisa. “Die vrou moes boonop gehoorsaam en onderdanig aan hom wees!”

Een van die vroue wat wel haar eie beursie beheer, is Helen Ueckermann, vryskutjoernalis en taalpraktisyn van Johannesburg. Sy en haar man, Sarel, ’n eiendomskonsultant, het elk hul eie bankrekening.

“Die voordeel is dat ons nie met mekaar se geldsake inmeng nie. Enige onenigheid word by voorbaat uitgeskakel,” sê Helen.

Hulle bespreek wel gereeld hul geldsake en beleggings en begroot saam. Helen is ’n sake-joernalis en kan goeie leiding gee. Sarel weet op sy beurt alles van deeltitels en bestuur hul woonstelle wat as aftreebelegging gekoop is. Helen het ook haar eie aandele, effektetrusts en eiendomsbeleggings “vir die toekoms”.

As heeltydse joernalis destyds het sy ’n pensioen opgebou en dit in ’n gebalanseerde portefeulje laat herbelê.

Sy en Sarel verdien min of meer dieselfde en verdeel daarom die huishoudelike uitgawes, wat die huispaaiement insluit. Hulle hersien ook gereeld hul uitgawes, soos wanneer Eskom se tariewe styg. Albei het kinders uit ’n vorige huwelik – Helen het vir haar twee seuns se studies betaal en Sarel vir sy twee dogters s’n.

Liesl Hugo, ’n tuisteskepper van Moorreesburg en ma van twee seuns (14 en 18), sê nee, sy is nog old school.

“Ek glo die man is die hoof en beheer die geldsake.” Bertie, ’n skaap en wildboer, begroot en betaal vir alles. Liesl het tekenregte op sy tjek- en spaarrekening, asook op sy petrolkaart. Sy het ’n debietkaart van haar eie en glo in kontant koop.

Bertie gee haar ’n maandelikse bedrag wat sy kan uitgee soos sy wil.

“Ek glo ’n tuisteskepper verdien dit, want om ’n huishouding te bestuur is ook ’n beroep,” sê Liesl. Sy lewer soms ’n bydrae tot die huishoudelike uitgawes, al verwag Bertie dit nie. Hy betaal ook vir die kinders se onderrig.

Liesl glo ’n tuisteskepper moet haar eie spaargeld hê, “want dan hoef ons nie bakhand vir bederfgeld te staan nie”. Sy het ’n spaarrekening waarin sy van tyd tot tyd geld spaar uit die toelae wat sy van Bertie kry. Toe sy nog ’n wynverteenwoordiger was, het sy ook taamlik geld gespaar – dit lê in ’n 32 dae-kennisgewingrekening.

Vir hul aftreebeleggings vertrou sy Bertie “honderd persent”.

Rumay Oosthuizen, ’n onderwyseres van Linden, Johannesburg, is onlangs getroud en deel ’n gesamentlike tjekrekening met Shaun.

“Ons het nie ’n jou-geld-my-geld-benadering nie, dis alles óns geld,” sê sy. “Dis makliker om ons finansies so te beheer en te bestuur, veral wanneer ons moet begroot.” Alle uitgawes, insluitende die huispaaiement, word uit dié rekening betaal. Elkeen het ’n eie debiet- en kredietkaart.

“Ons het albei finansiële dissipline, vertrou mekaar en werk hard daaraan om ons geld sinvol te gebruik en soveel moontlik te spaar.”

Oor die groot uitgawes besluit hulle saam, maar elkeen kan ook (met verantwoordelikheid) koop wat hulle wil. Shaun neem die leiding met beleggings.

Rumay beskou haarself as “baie onafhanklik” en sê die gesamentlike rekening maak haar nie noodwendig afhanklik van haar man nie. “My behoeftes word ook bevredig.”

Shaun se uittree-annuïteit is vir albei van hulle se oudag en hy bestuur ook ’n effektetrust-belegging namens hom en Rumay.

 

Wanneer werk watter rekening?

  • Aparte bankrekenings is ideaal as julle albei werk en elkeen ’n eie debiet- en/of kredietkaart en ’n eie manier het om met geld te werk, sê Nico Swart. “Dit skep minder spanning, gee albei finansiële vryheid en laat julle toe om jul geldsake doeltreffender te beplan. Die nadeel is dat een van julle dalk sonder gesamentlike beplanning sy/haar geld verkeerd kan bestee, of dat jou maat heeltyd kan broei oor waarop jy nou eintlik jou geld uitgee.”
  • ’n Gesamentlike bankrekening kan werk as julle daaroor saamstem, op bankkoste wil bespaar of as julle nie meer groot uitgawes het nie (die kinders is dalk uit die huis en jul huisverband is afbetaal). Of as julle binne gemeenskap van goedere getroud is. Julle kan so ’n rekening ook oorweeg as jul beleggings in albei se naam is, of elkeen saam met die gesamentlike rekening ook ’n eie rekening het waarin ’n gedeelte van jul salarisse vir eie besteding/beleggings geplaas word (dit sal egter hoër bankkoste beteken). Met ’n gesamentlike rekening kan die een wat meer van geldsake weet die ander een se geld help bestuur. Maar julle kan dalk heeltyd stry oor besteding. Én so ’n rekening beperk individuele vryheid.

Skuld vs. spaar

Om te spaar is een ding, maar waarom maak vroue so baie skuld?

“Baie vroue, veral enkelma’s, wil vir hul kinders die beste gee en oorbestee daarom. Boonop wil ons byhou by die bure en koop ons onnodige goed. Ons wil te hoog lewe,” sê Corinne Stonell (43), ’n kleinhandelbestuurder van Durban, wat aan die women24.com-peiling deelgeneem het.

Dié opname wys juis dis vir sowat 55% van vroue belangrik om in die regte buurt te bly en dat ’n kwart van hulle vir geld sal trou.

 Vroue maak glo só skuld dat 33% nie hul kredietkaart-paaiemente kan bybring nie. Sowat 48% het ’n oortrokke rekening of ’n persoonlike lening, wys die peiling. Boonop spaar sowat 36% glad nie en 69% het nog nie ’n sent vir hul kinders se opvoeding weggesit nie.

“Skuld is die grootste en gevaarlikste siekte van ons tyd,” sê Nico Swart. “Suid-Afrikaners het glad nie ’n spaarkultuur nie.”

Baie vroue sorg vir van die kos tot die klere in ’n huishouding, en op krediet koop, het vir hulle ’n leefwyse geword, sê René Roux, hoof van Sanlam Liquid, ’n korttermyn-spaarproduk. Of jy is gewoond aan ’n salaris en moet nou as tuisteskepper aanpas, of jy is ’n enkelouer wat sukkel.

Dalk dink jy “jy is dit werd” om so geld uit te gee, sê Nico. Of jy’s bloot in die gewoonte om te veel te koop en nooit nee te sê vir ’n mooi paar skoene nie. Dalk laat inkopies jou beter voel en weet (of hoop!) jy jou man sal jou uit die skuld help.

‘Suid-Afrikaners het glad nie ’n spaarkultuur nie’ – Nico Swart

Spaar is uiters belangrik, waarsku René. Jy as vrou leef gemiddeld sewe jaar langer as jou man, julle kan skei, een van julle kan jul werk verloor of jul onderneming kan vou. Buitendien, jou eie spaargeld gee jou ’n finansiële identiteit en onafhanklikheid.

Sowat ’n kwart van SA vroue het wel geheime spaargeld iewers, wys die women24.com-peiling. Nico reken dis omdat vroue onseker is oor hul eie en die land se finansiële toekoms. Hulle ervaar ook ’n gebrek aan finansiële sekerheid omdat die meeste beleggings aan hul man behoort.

Vroue vrees dikwels verwerping, sê Elise Beeby, sielkundige van Johannesburg en Kaapstad. Hulle sit “skelm” geld weg sodat hulle kan oorleef, sou daar ’n egskeiding wees.

Hulle wil ook weet hulle kán uit ’n huwelik wegbreek as hulle eendag wil.

Corinne Stonell sê as vroue hul geheime spaargeld bekend maak, sal hul mans dit op hulself wil uitgee. Uiteindelik is dit in julle albei se belang dat julle saamwerk wanneer dit by geldsake kom – of dit nou joune, syne of jul geld is.

 

Keer so konflik

Geldstruwelinge, veral as jul waardes rondom geld verskil, is die grootste rede vir egskeiding in SA, sê Nico Swart.

Beskou jul finansies as ’n vennootskap, sê René Roux, hoof van Sanlam Liquid. “Kry ’n geheelbeeld van jul gesamentlike inkomste en uitgawes en begroot saam – dit help die hele huishouding.”

Hou rekord (bv. strokies) van jul geldsake sodat julle nog fyner kan begroot.

Besluit wie vir wat betaal en hoe julle die oorblywende geld gaan spaar.

As jy ’n tuisteskepper is, kom ooreen op ’n maandelikse bedrag vir jou rekening. “Dis ’n basiese mensereg,” sê Nico. Só kan jy self besluit wat om uit te gee of te belê.

Praat oor finansiële doelwitte, respekteer mekaar se behoeftes en beplan saam, ongeag inkomsteverskille of bydraes. Dit sal jul huwelik versterk.

Besluit wie hoeveel van die huispaaiement betaal. Kies wat vir júlle werk.

Voorsien self vir jou aftrede. Só versterk jy jou finansiële dissipline en onafhanklikheid.

As julle nie geld het vir jul kinders se studies én jul aftrede nie, spaar eerder genoeg vir aftrede, sê Nico. Jou kinders kan altyd studielenings of beurse kry, maar jy doen hulle ’n onreg aan as hulle later vir jou moet sorg.

Verkry geldkennis. Lees daaroor of skryf in vir ’n opvoedkundige geldkursus.

 

 

Die neseiers moet jy hê

As jy dit enigsins kan bekostig, probeer om die volgende beleggings en rekeninge in jou eie naam te hê, sê Nico Swart van Unisa.

·        Aandele – Jy deel in die winste van maatskappye en versprei só jou beleggingsrisiko.

·        Effektetrusts – Belê só indirek in beursaandele. Jou geld is binne dae verkrygbaar.

·        Aandeel-gekoppelde effekte – Dis lae-risiko-aandele waarin jy indirek belê. Só het jy ’n wye verspreiding van risiko en opbrengs.

·        ’n Uittree-annuïteit is ’n langtermyn-versekeringsbelegging wat ’n opbrengs ná aftrede asook belastingvoordele bied. Jy kan ook ’n enkelbedrag belê. Al is jy lid van ’n pensioenfonds of werk jy vir jouself, moet jy steeds hierin belê.

·        Spaarrekening – Dis ideaal vir korttermyndoelwitte soos wanneer jy ’n TV of geskenke wil koop.

·        Tjekrekening – Vir salarisinbetalings, debiet- en stoporders, huishoudelike uitgawes en rekeningbetalings.

·        Kredietkaart – As jy dit goed bestuur, kan jy ’n goeie kredietrekord opbou. Dis ook nuttig in tye van nood of wanneer jy bv. ’n motor wil huur. Een kredietkaart per persoon is voldoende. (Jy kan ook tekenregte op jou maat se kaart kry.)

·        Maak seker jy, of julle saam, het mediese versekering bykomend tot jul siekefonds, asook ’n hospitaalplan.

Sy wíl nie meer as hy verdien nie

Kyk maar om jou rond: Ál meer vroue hou die pot aan die kook en verdien meer as hul man. (Al beheer die vrou nie altyd haar eie beursie nie.)

In Brittanje het die aantal mans wat huishou sedert 1993 met 33% toegeneem (Daily Mail, 26 Julie 2009). Die verskynsel dat vroue die hoofbroodwinner is, het selfs ’n naam: Die Madonna-sindroom.Madonna verdien veel meer as haar eks-man, Guy Ritchie, en dit het glo ’n rol in hul egskeiding gespeel.

Die verrassing is: Vroue is nie bly hieroor nie! Die Daily Mail verwys na ’n onlangse peiling deur die Britse Skipton-bouvereniginggroep wat bevind het vroue voel “bitter gegrief” as hulle die brood op die tafel moet sit. Tallie (skuilnaam),’n kliënteverhoudingsbestuurder van Kaapstad wat op SARIE se webwerf (www.sarie.com) skryf oor haar man se werkloosheid, weet maar te goed hoe dit voel. Haar man het in die vervaardigingsektor gewerk.

“Ek is gegrief omdat hy nie iets in ’n ander rigting wil oorweeg of vir ander beroepe ook opgelei is nie,”erken sy.

Sy lê snags wakker. “Die verantwoordelikheid om nou met ’n vyfde van die inkomste waaraan ons gewoond is, klaar te kom, skep groot spanning wat ek nie met hom kan deel nie.” Soms kry sy selfs die gevoel hy raak al hoe meer gemaklik “met Tallie wat die wa deur die drif moet trek”.

Sielkundige Elise Beeby sê diep in ons onbewuste is die man steeds die jagter en die vrou die versorger.

“Ons is nog biologies só geprogrammeer en dit hou nie tred met ekonomiese veranderinge nie. Vroue moet vrede maak daarmee dat hulle in die toekoms hul man se gelyke finansiële vennoot of die hoofbroodwinner sal wees.”

Maar maklik is dit nie. Lille van der Walt, Kaapse tendenskenner, sê dis in ’n vrou se aard om van mooi en lekker dinge soos rooi lipstiffie en duur parfuum te hou. As ons nou skielik moet afskaal en daarsonder moet klaarkom, is dit doodnatuurlik om gegrief te voel!

Kenners
Elise Beeby 021 554 4433 of 021 761 1188; 011 475 3975 of elisebeeby@zamail.co.za
Unisa se Sentrum vir Sakebestuur bied opvoedkundige geldkursusse aan. Skakel 086 641 5404 of 012 429 4586
Besoek www.sanlam.co.za.