sr0908sasha8
Werk + geld

My nuwe werk – ‘n 360 grade ommeswaai

Sou jy dieselfde werk wou doen as jy weer kon kies? As jy nee antwoord, is dit miskien tyd om van loopbaan te verander. Maar is dit nie te laat nie? wonder jy dalk.

“Nie sommer nie,” verseker dr. ST Potgieter, sielkundige en beroepskonsultant van Bellville. “Om vasgevang te wees in die verkeerde beroep versper jou visie. Jy hoef nie uit te hou tot aftrede nie. Klim uit die put sodat jy weer ander moontlikhede kan raaksien.”
‘n Werk waaroor jy passievol is, kan sin en betekenis aan jou lewe gee. Dié besef laat mense – veral vroue – ‘n 360°-ommeswaai in hul beroep maak. Al beteken dit ‘n bykomende kwalifikasie en hope waagmoed.

Dis ‘n skrikwekkende feit dat die meeste mense ongelukkig is in hul werk, wys navorsing. In Noord-Amerika is dit byna 80%, sê ST.
Deesdae is daar egter ‘n tendens dat mense makliker van werk en loopbaan verander. Die tegnologie, oorsese moontlikhede, afdankings en uittreepakkette laat ons met ander oë na beroepsgeleenthede kyk.

“Jy bestee daagliks meer as agt uur by die werk. As jy ongelukkig is, beïnvloed dit jou hele wese,” sê dr. Pieter Koortzen, ‘n senior konsultant-sielkundige van Resolve Encounter Consulting in Johannesburg. Daarom moet jy jou passie volg. Maar niemand is tog heeltyd gelukkig in hul werk nie. Hoe weet jy dis tyd vir ‘n volslae nuwe rigting?

Swak bestuur of prosesse binne organisasies is gewoonlik die belangrikste redes waarom mense skuif, sê Pieter. Of jy voel dalk jy stagneer, jy’s gefrustreerd of depressief. Jou huidige beroep het dalk ook nie genoeg geleentheid vir bevordering en ontwikkeling nie en min werkbevrediging. Vra jouself af of jy die situasie kan oplos deur net van werkplek te verander en of dit te doen het met die sóórt werk.

Jou persoonlikheidstipe speel ook ‘n rol. Jy moet risiko’s kan neem en in jou eie vermoëns glo om van loopbaan te verander. Iemand met ‘n positiewe selfbeeld en selfvertroue sal dit makliker hanteer.

Daar is nie ‘n ideale ouderdom nie. Dit hang van jou persoonlike omstandighede, soos jou gesinslewe en finansies af. Jy sal jou besluit goed moet deurdink en dit noukeurig beplan om ‘n finansiële nagmerrie te keer. Dié proses kan langer as ‘n jaar duur. Soms is ‘n verandering beter as jy nog “die voortvarendheid en durf” van die jeug het, sê ST. Gewoonlik het jy ook nog nie groot finansiële verantwoordelikhede nie. Is jy ouer, het jy weer meer lewens-vaardighede en kennis en sommige mense se finansiële posisie kan dan meer ideaal wees.

Jy’s in elk geval nooit te oud vir verandering nie. Baie afgetredenes gaan werk weer, veral weens moeiliker ekonomiese omstandighede, sê Pieter. “Maar dan is ‘n positiewe ingesteldheid, deeglike selfkennis en kennis van jou nuwe beroep noodsaaklik. Maak eers seker wat jy wíl doen en glo dat jy steeds die vermoë en wilskrag het.” Eers as jy dié skuif in jou kop maak, kan dinge vir jou begin gebeur.

As jy nie in jou middeljare heeltemal kan doen wat jy nog altyd wou nie, doen iets soortgelyks. Op 50 word jy dalk nie vir medies gekeur nie, maar jy kan ‘n noodhulpkursus aflê en deeltyds noodhulpbeampte wees.

As jy naby aftrede is, moet jy versigtig omgaan met verandering. Maak eers seker daar is werkgeleenthede of dat jy jou eie onderneming sal kan begin.
Dis nie maklik om ‘n loopbaanskuif te maak nie en dis normaal om te twyfel of jy die regte ding doen. Hoe meer kennis jy inwin, hoe gouer sal jou twyfel verdwyn.
As jy eers jou passie uitleef, sal jy lewenslus hê en soggens opgewonde uit die bed spring.
“Die deure van die lewe gaan oop. Jou onbewuste begin kreatief werk en jy word gestimuleer deur wat moontlik is. Dis dan wanneer jy geleenthede raaksien waarby jy voorheen net sou verbystrompel,” sê ST. Ander mense het dit al gedoen. Waarom nie jy ook nie?

VAN APTEKER TOT BOETIEKEIENAAR
Sasha Aleksis (44) was dertien jaar lank ‘n apteker. Totdat sy haarself op ‘n dag afgevra het of sy genoeg werkbevrediging kry om dit vir nóg twintig jaar te doen.
Nou, twee jaar later, is sy mede-eienaar van die Scalini-boetiek in De Waterkant, Kaapstad.

“Ek wou iets vir myself hê, iets minder ernstigs,” sê sy. Sy het altyd self na boetieks gesoek waar sy Italiaanse klere, skoene en bykomstighede onder een dak kon kry.

Maar sy’t nie regtig aan ‘n eie winkel gedink nie totdat haar man, Zoran, ‘n oogchirurg, gesê het: “As jy goed voel daaroor, doen dit, want jy het die talent en ‘n oog vir mooi goed.” Sy’t haar instink vertrou en nie te lank getob oor die idee nie. Die grootste uitdaging was die finansiële risiko.

“Ek het geweet dit gaan nie ‘n klein belegging wees nie en ek wou nie hê my gesin moes daaronder ly nie.” Gelukkig het alles op die regte tyd gebeur. Zoran het haar moreel en finansieel ondersteun. Hul kinders, Mia (14) en Filipe (11), was al meer onafhanklik en sy kon al haar aandag aan die nuwe onderneming gee. Deesdae is sy elke oggend opgewonde om te gaan werk. Haar kreatiewe sake-idees – wat vroeër moeilik was om uit te voer in ‘n hiërargiese opset – kry makliker gestalte. “As jy nie probeer nie, sal jy nie weet nie,” sê Sasha. “As jy regtig lief is vir wat jy doen, sál sukses volg.”

Ilse Pienaar

VAN SPORTWETENSKAPLIKE TOT UITGEWER
Ilse Pienaar (37)
is ‘n opgeleide sportwetenskaplike wat sport by skole afgerig en sportontwikkeling vir werknemers van ‘n vyfster-hotel gedoen het. Vandag werk sy vir Topco Media en is sy “halsoorkop verlief” op die mediabedryf.

Ilse is die assistent-uitgewer van die jaarlikse glans-saketydskrif Top Women in Business and Government, ‘n bemagtigingspublikasie vir vroue in Kaapstad. Sy is steeds mal oor sport, maar het gevoel daar is beperkte loopbaanvooruitsigte vir vroue. Sy’t ‘n werk gesoek waarin sy gelukkig sou wees en een met bevorderingsgeleenthede. Eers het sy ‘n personeelkonsultant geword, maar “die kantoorgebondenheid en streng reëls” het haar ondergekry en sy het summier bedank. Sonder ‘n ander werk!

Intussen het die glans en opwinding van die mediabedryf haar gelok. Aanvanklik het sy selfs vir minder geld by Topco Media begin werk. Sy’t gou agtergekom dis lang ure, sperdatums en konstante prestasiedruk.”Ek het geen formele opleiding nie. Ek is aan die diepkant ingegooi en moes maar swem!” Sy’t hard gewerk en geleenthede aangegryp en in 2005 is sy tot assistent-uitgewer bevorder.

Haar man, Jacques, ‘n sakeontwikkelingsbestuurder by ‘n groot winkelgroep, ondersteun haar baie. Hul baba, Christiaan, is vyf maande oud. “Kry iets waarvan jy hou en wat jy suksesvol sal kan aanpak,” is Ilse se raad. “Kyk ook watter geleenthede daar binne jou maatskappy is en besef jy kan deur harde werk en geloof in jouself enigiets bereik.”

Lara-Lize Waterford

VAN VERPLEGING TOT KINDERTUIN
“Terwyl ek verpleeg het, was ek altyd betrokke by die einde van die leefspektrum, maar as pre-primêre onderwyser het ek met nuwe lewens te doen,” sê Lara-Lize Waterford (37) van Houtbaai in die Kaap.

Sy was twaalf jaar lank ‘n verpleegkundige voordat sy sewe jaar gelede besluit het om ‘n diploma in vroeë kinderopleiding aan die College of Modern Montessori te verwerf. Sy het daarna by die kollege en toe by ‘n Montessori- pre-primêre skool klasgegee voordat sy haar eie onderneming begin het. Sy gee nou individuele klasse vir voorskoolse kinders.
Ná matriek het Lara-Lize onderwys oorweeg, maar ‘n familievriend het haar oortuig om verpleging te studeer. Die werkbevrediging was min, sê sy. “Ek was permanent moeg en dit het gevoel asof ek elke skof net-net oorleef.”

Terwyl sy in ‘n waakeenheid gewerk het, het sy besef die lang ure, liggaamlike uitputting en emosionele trauma dwing haar om eerder weer passie te vind. Sy is ook vir post-traumatiese stres behandel.

Lara-Lize het as verpleegkundige vir studente klasgegee en dié deel van die werk geniet. Sy het besef onderwys is ‘n talent, “wat natuurlik kom en waarin ek uitblink”. Om haar as private opleier te vestig was nie maklik nie, want sy het geen sake-ervaring of resep gehad nie. Sy het raad gevra by ander mense wat klein sakeondernemings het.
“Ek het geluister, maar ook my instink gevolg. Ek het geweet as ek misluk, sou ek met my goeie naam weer ‘n skoolpos kon kry.” Haar harde werk is beloon en nou gee sy op ‘n een-tot-een-basis klas, al is dit veeleisender.

“Dis ongelooflik om daar te wees wanneer ‘n kind sy eerste woord lees, ‘n vaardigheid aanleer of ‘n nuwe konsep snap. Daarby ontdek ek gereeld nuwe onderwysmetodes en -materiaal.” Sy het al vir ‘n paar maande op uitnodiging van ‘n gesin vir hul dogter in Italië gaan klasgee. Omdat sy vir haarself werk, kan sy haar tyd struktureer om ook haar ander passie – perdry – uit te leef. En sy het tussendeur ‘n helikopter-vlieglisensie gekry!

“Doen wat jou gelukkig maak, anders sal jou loopbaan aan jou siel knaag,” sê sy. “Moenie bang wees vir mislukking nie. Dis wanneer ons opstaan en weer probeer dat ons van ons grootste suksesse behaal.

HULP

Dr. ST Potgieter,

021 949 5007, www.pitkos.co.za
Dr. Pieter Koortzen,

011 325 4556/7

of 021 425 5767, www.resolve.co.za