https://instagram.com/varukablue/

FOTO: Instagram @varukablue

Werk + geld

’n Beroepsmite wat vroue glo

Daar is baie loopbaan-raad vir vroue. Sommige sinvol: Los die trane. Versigtig vir lae halslyne en kort rokkies by die werk. Maar hier is een wat jy maar kán vergeet.

Die meeste vroue ondersteun mekaar nie by die werk nie. 

Die ware prentjie 
“Ek is ’n prokureur in vennootskap met ’n vrou. Van ons vier werknemers is net die kandidaatprokureur manlik. Die firma spesialiseer in aktes en derdeparty-eise en almal werk nou saam. Almal het kinders en moet soms sekere pligte bo ander stel. Ons het dus begrip vir mekaar se uitdagings en ondersteun mekaar. Dit lei tot beter produktiwiteit en menseverhoudinge. Ek en my vennoot probeer ons werknemers met respek hanteer en tegemoetkom met werksure en persoonlike kwessies.”
– Gwendoline Moolman van De Lange & Moolman, Pretoria

Die stelling dat vroue mekaar by die werk ondergrawe, was dalk waar toe ons jare gelede die werkplek betree het en die eerste keer in senior poste en leierskaprolle aangestel is, sê prof. Marlize Terblanche-Smit, hoof van die MBA-program en mede-professor in bemarkingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool.

Maar dit het verander namate vroue hulself bewys het. Vandag is daar baie vroue in leierskaprolle en kan hulle dié posisies gebruik om ander Evas te inspireer.

Vroue is van nature goeie kommunikeerders en uitstekend met multitasking, ’n voordeel in die werkplek. Ons het sekere eienskappe wat ons goeie mentors maak: Ons is ondersteunend, goeie luisteraars, respekteer ander se gevoelens en bou hegte verhoudings. Dié eienskappe kan ander vroue juis help om ook die spreekwoordelike korporatiewe leer uit te klim.

Tog sien ons mekaar soms as kompetisie, wat jammer is. Vroue het deur sosialisering geleer om suksesvol te wees, moet jy jou kop neersit en op jouself fokus. Die enigste pad na sukses is egter om respekvolle verhoudings met almal, mans en vroue, te bou. As jy in
’n leierskapposisie is, wees ’n mentor en praat altyd die waarheid. Dit gaan nie oor mag nie, maar om professioneel en diskreet op te tree en nie te skinder nie.

“Ek dink daar word soms nog van vrouebestuurders verwag om dinge oor te sien wat ’n man nie sommer sou nie. Dis onaanvaarbaar en as vrou moet jy probleme op ’n manier
hanteer waarmee jy gemaklik is. As jy nie van probleme af weghardloop nie, daar op jou staatgemaak kan word en jy dit met ’n positiewe houding en glimlag aanpak, word jy raakgesien vir bevordering. Vroue wat praat, deel en ondersteun bou gou ’n sterk netwerk
– opwaarts en lateraal. Mans doen dit al jare op die gholfbaan,” sê prof. Terblanche-Smit.

’n Man se perspektief

“Die werksomgewing is kompleks en mededingend. Dis dus nie net op vroue van toepassing nie, ek sien dit ook by mans. Maar ek sien ook hoe mense mekaar ondersteun.”
– Casper Oelofsen, leierskap-spesialis van Mindful Leadership, met baie vroulike kliënte

 

Die volledige artikel het in die Mei-uitgawe van SARIE verskyn, laai dit hier af.